April kap DA

Inhuldiging van Bridgton Pawiljoen die afskop van ANC verkiesingsveldtog

Kom wat wil tussen die oë feitelike beriggewing van wat
jy waarskynlik selfs nie eens besef jy behoort te wil weet nie

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

Klik hier om @OudtshoornO op twitter te volg

Drewan Baird. Oudtshoorn. 8 Junie 2013. 12h55. Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudsthoorn, raadsheer Gordon April, het hom sterk teen die DA uitgespreek in sy inhuldigingsrede by die ingebruikneming van die Bridgton-pawiljoen vanmiddag.

Die toespraak word beskou as die afskop vir die ANC se verkiesingsveldtog vir 7 Augustus.

Die afwesigheid van die DA-raadslede by ‘n groot gemeenskapsgeleentheid in Bridgton spreek boekdele van die party se werklike betrokkenheid by die groter gemeenskap van Oudtshoorn.

Raadsdame Diane de Jager is die uitsondering: Sy het deftig en statig vertoon en vriendelik gesels.

Hier is die volle teks van die toespraak:

Die skrywer Cynthia Ozick het gesê, “Die konstruksie is nie so belangrik soos die visie nie.”

Die konstruksie is nie so belangrik soos die visie nie.

Hierdie pragtige pawiljoen is ‘n baie belangrike baken in Bridgton.

Hierdie pragtige pawiljoen is ‘n reuse aanwins vir die mense van die Groter Oudtshoorn.

Maar bowenal gee hierdie pawiljoen gestalte aan my visie vir Oudtshoorn: ‘n Sterk munisipaliteit wat omgee en streef om die lewenskwaliteit van al sy inwoners volhoubaar te verbeter.

Hierdie pawiljoen is ‘n monument vir dié visie.

Ek het self, op 13 Maart verlede jaar, die eerste sooi vir hierdie pawiljoen gespit.

Eers het die Burgemeesterskomitee goedkeuring gegee dat daar aansoek gedoen mag word vir befondsing by die Wes-Kaapse regering om ‘n nuwe pawiljoen te bou. Provinsie het R9.6 miljoen gegee. Die raad het R1miljoen uit eie fondse bygedra, en die NDPG ook ‘n miljoen.

Daar was al in die tagtigerjare planne om ‘n pawiljoen hier in Bridgton te bou maar dit was altyd die een ding en dan die ander ding en dis nooit gedoen nie.

Toe die geld uiteindelik beskikbaar raak, wou die destydse DA-raad nuwe spreiligte by die De Jager-Sportkompleks daarmee oprig.

Dit het daarop uitgeloop dat ek en twee van my voormalige OD-kollegas die DA/OD-koalisie verlaat het en onder geweldige persoonlike druk ons gewig agter projekte soos hierdie pawiljoen gegooi het.

En dit kan julle almal vandag weet: Solank Gordon April burgemeester is van die Groter Oudtshoorn sal die mense van die Groter Oudtshoorn eerste kom!

Luister maar na wat alles gesê word…

Maar KYK na wat alles GEDOEN word!

Uiteindelik het die droom waar geword en Blignaut-Philmano Konstruksie het die tender gekry.

Onthou, dit is op hierdie veld waar groot Rugby-name die eerste maal raakgesien is: Kabamba Floors, Desmond Malgas, Hennie Konstabel – almal manne wat met Springbokbaadjies spog.

Dis ‘n veld wat ‘n spoggerige pawiljoen VERDIEN!

Hier is vier volledige kleedkamers wat ook vir gestremdes toeganklik is.

Hier is ‘n onthaalsaal en kombuisgeriewe.

Hier is sitplek vir 1,200 mense.

Hier is geriewe vir skeidsregters en mediese personeel.

Toeskouers – julle kan nou onderdak sit en rugby kyk!

En dit lyk mooi!

Dis ‘n mooi pawiljoen!

Die hele omgewing lyk sommer mooier!

Hierdie pawiljoen-projek het werk geskep vir sub-kontrakteurs en geskoolde en ongeskoolde ambagsmanne.

Die pawiljoen is gister deur die kontrakteur aan die munisipaliteit oorhandig: Voorwaar ‘n pragstuk waarop ons almal trots kan wees.

Namens die raad en die munisipaliteit bedank ek al die rolspelers: amptenare, die projekbestuurder, die argitek, die raadgewende ingenieur, die kontrakteur, die sub-kontrakteurs, en die algemene werkers – almal wat help bou het aan die Bridgton Pawiljoen.

Verskeie klein kontrakteurs het tande gesny op hierdie pawiljoen. Die projekbestuurder, mnr William van der Poel, het juis gister by die oorhandiging gesê dat hy aangenaam verras is deur die toewyding van die plaaslike kontrakteurs en die kwaliteit van hulle werk. Hy het bygevoeg dat hierdie pawiljoen geen treë terugstaan vir enige ander Suid-Afrikaanse stadion nie!

En WP Rugby is juis vandag hier.

Mnr Wakefield, Thelo, terwyl julle daar in die Kaap so baklei oor Nuweland en die Kaapse Stadion moet julle dalk vir die politikuste en die manne met die beursies gaan vertel van Bridgton – hier kan julle in sonskyn speel en die wind sal nooit julle balle van die pale af wegwaai nie.

Ek is seker, Thelo, die voorsitters van die sewe rugbyklubs wat hierdie pragtige veld nou hulle tuisveld noem sal kan plek maak vir die Stormers in voorwedstryde.

Aan SWD Arende se mense, Hennie Baartman en Johan Lerm en hulle beamptes, wys die WP vandag hoe ons dinge in die Groter Oudtshoorn doen!

Ek open hierdie pawiljoen met vreugde vir die gebruik en genot van al die inwoners van die Groter Oudtshoorn.

Let the games begin!

Klik hier omin te skryf – dis gratis | Adverteer op O!O | Tuis

14 thoughts on “April kap DA

  1. Dit behoort nie aanvaarbaar te wees nie maar woorde is glibberige goed en goeie politiek het niks met beginsels uit te waai nie. Ons munisipaliteit is so bankrot dat hulle een persoon vir dienste gelewer R30 000 skuld – dis net een man. Maar sorg vir straatkinders, vir mense met gestremdhede, daai goed wen nie verkiesings nie. Daai goed staan nie as monumente van mag en vergryping nie. Niemand word dronk van opgewondenheid oor worthy causes nie. Politics is the opiate of the masses. Daar was Saterdag net te veel magtige manne wat sweet nothings in mekaar se ore staan en fluister het. You ain’t seen nothin’ yet. Laat ons eerder nie verder hieraan torring, dan rafel hy dalk heeltemal uit. Die raad is ontvanklik vir n sakeman wat sy naam op die pawiljoen wil laat pryk, teen n prys. Alles is te koop, maar niks is van waarde nie. En die WP spelers is eers 1 uur die volgende oggend in hul eie huise na n lang busrit, dis darem nie n goeie gasheer wat so maak nie.
    O ja, Johan Fourie was darem ook Saterdag daar, langs die veld toe Adias en PSP mekaar op die B-veld aangevat het. Sommige ouens is nie bang vir modder op hul skoensole nie.

  2. Die meeste geld van die Wes-Kaap Regering (R9.6m). Die Neighborhood Development Grant (NDPG) en die raad het elk R1m opgedok.

    Selfs ek meen dis aanvaarbaar. En jy?

    Die verblyfsaak, so verneem ek, is ‘n ánder storie. Daar is kennis geneem van ‘n nuwe amptenaar se insette, en vandaar die verblyfreëlings.

  3. I am but a simple man, searching for a simple life, filled with quietude and please, no strife. Maar in die goeie ou dae sou O!O ook tog iets te sê gehad het oor `n bankrot munisipaliteit wat R11miljoen op `n stadion spandeer. Of wat van WP wat so byna hul trippie moes kanselleer oordat die munisipaliteit nie geld het om vir hulle verblyf te betaal nie. Of wat van Vlancio Donson wat, toe fotograwe moes jockey om die burgemeester by die opening af te neem, uitgeroep het “Skryf tog net dis die ANC burgemeester daai!”
    Nee wat, die belangrikse gebeurtenis van die naweek was nie die burgemeester se stryd om daardie eenvoudige toespraak te lees nie, ook nie SWD se stryd om gelykop te speel teen `n WP o.21 span in `n verkorte wedstryd nie. Daardie man wat van die pawiljoen afgendonner het, hy gaan nog `n metafoor word vir die hele bleddie spul. Arme drommels is ons, elkeen van ons, dronk van geluk tot ons gesig eerste in ons eie snot beland. But, as I said before, no alarms and no surprises, please.

  4. Voorwaar ‘n pragtige toespraak. Of dit nou volle blootstelling op O!O verdien is ‘n ope vraag. Wat die toespraak vir my noemenswaardig bomenslik wonderbaarlik en poëties maak is die vlotheid daarvan. Dit is geskryf om op die man af te klink, tog met die nodige aandag aan detail sonder om verhewe te klink. Voorwaar ‘n uitstekende stukkie werk vir iemand wat deur die hof beskryf is as ‘n persoon van beperkte …(almal ken nou al daai storie.)
    Ek wag gretig op die dag wat Gordon April sy eie toespraak skryf en dit dan voorlees. Dit tersyde – as ‘n groot aanhanger van O!O moet ek sê ek vind die algehele aanslag teen die DA en die totale afwesigheid van kritiek teen die munisipalitiet en Gordon April se skoongeskeerde en gepoetste beeld ietwat van ‘n kopskuif. Dalk skuif my kop te stadig om by te hou.
    Dat die DA se poging tot ‘n oorname geflop het is duidelik, maar dat hulle planne om ‘n tussenverkiesing af te dwing geslaag het is duidelik. Dat Gordon April skielik ‘n person geword het wat sy eie beswil en eie posisie ter syde stel ter wille van die “greater good” of Oudtshoorn betwyfel ek ten sterkste.

  5. Het OO nou ‘n kaderblad geword en die burgemeester wat al so op hierdie blad as ‘n st 4 klong verguis is, die nuwe groot verlosser? Ek hoor mnr Baird is nou op Beroerdplein se soustrein. Is dit waar en is dit dalk die rede vir OO se gesindheidsverandering?
    Die spreekwoord lui mos: wie se brood mens eet die se woord mens eet.
    Na my mening is dit bedenklik dat die opening van die pawiljoen gebruik word vir politieke gewin.

  6. Auntie

    Julia le Roux is ‘n betrokke raadslid – ongetwyfeld.

    Maar slegs Diane de Jager by die opening van die Bridgton pawiljoen!?

    O, en Peter Roberts is in die skare gewaar.

    Wessie van der Westhuizen het voor die aanvang van die verrigtinge verdwyn… En daar’s ‘n tussenverkiesing in wyk 13 oor ‘n paar weke!?

    Swák, DA; swák!

    Maar nie-bywoning van gemeenskapsvieringe is die minste van die DA se probleme.

  7. Ander DA raadslede het ook ander goed gedoen. Ek het vandag vir Julia le Roux gesien waar sy in die SWD Drummie finale beoordeel het. Alles in die lewe gaan nie net oor rugby nie! Drummies girls het vandag in hulle volle uniform in die reen geloop en dit was amazing!

  8. In all fairness to the DA, will you want to show your face in public after last week’s humiliating comedy of catastrophes?

  9. Gordon ek hou jou al vir jare dop. Ek was baie bly toe jy burgermeester geword het en het baie hoop gekry vir die dorp. Ongelukkig het die Patelle, Putco’s, Songezi’s en Thandikeli’s van die wereld jou onder hulle invloed gekry en sodoende ingesleep in die duisternis waar hulle wil funksioneer, en waar jy nie hoort nie. Welgedaan met hierdie stadium, ons is trots op jou. Omring jou asb voorts met die regte mense en raak ontslae van die slange hierbo wat vir te lank jou verblind het. Hulle is net “kamerade” solank hulle iets uit jou kan kry en voel ‘n flenter vir jou, jou mense en jou visies. As jy dit doen is ek persoonlik reeds een wie bereid is om jou nog ‘n kans te gee. Maar wees verseker, stel ons weer teleur en dit sal jou laaste kans wees. Mag God jou wysheid en insig gee om die regte dinge van nou af te doen.

  10. Jammer hy is nie sigbaar tussen die eregaste nie; hy is ‘n genooide. Help nie jy soen ‘n meisie in die donker nie.

    Wessie van der Westhuizen is in die BBP-parkeerarea gesien, maar hy het voor die verrigtinge begin het al vinnig verkas.

  11. Raadslid Peter Roberts, n DA Raadslid was ook en is nog steeds hier.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s