Woester en Worcester

worces dat daar politieke bloed gaan loop –
sulke geel strome

Decision makers turn to O!O first for what’s really happening in Eden
… You’re reading, aren’t you!?
Advertise on O!O – click here for details

Click to follow @DrewanBaird on twitter

Oudtshoorn. 11 March 2013. 09h35. O!O verneem gesaghebbend dat Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, van Knysna, Theuns Botha vervang as DA-kiesafdelingshoof van Eden.

Dis waarskynlik die eerste gevolg van die Eden-burgemeester, Wessie van der Westhuizen se veldtog om die aandag van sy eie politieke, administratiewe, en regsprobleme af te lei en die kollig elders te laat probeer skyn.

Die senior Wes-Kaapse DA-leiers ontmoet vandag die DA-koukusse van Mosselbaai, Swellendam, en Eden op Worcester: Die leier, Ivan Meyer; die onderleier, Theuns Botha; die sekretaris, Anton Bredell; en Winde.

Die vergadering is glo belê om die skade wat raadslede aan die DA se handelsmerk (“brand“) doen, te bespreek en te besleg.

Op 28 Februarie het Mosselbaai se burgemeester, Marie Ferreira, ‘n mosie van wantroue oorleef. Die ANC-raadslede het die toekenning van kontrakte aan haar familie-onderneming bevraagteken nadat sowat R9m se werk glo nie behoorlik aan die raad verklaar is nie.

Vier DA-raadslede van Mosselbaai het tans politieke probleme: Susan Moodie; Flip du Plessis; Nickey Lodewyks; and Gibo Gerber.

Swellendam se probleme is legio – tik “Swellendam” in die soekblokkie bo regs en lees na hartelus.

Intussen het dit aan die lig gekom dat “handelsmerkbestuur” ook verantwoordelik is vir die afgelope Vrydag se skommeling van die Stellenbosch-burgemeesterskomitee.

Maar dis Eden se sake wat vandag die meeste aandag trek.

Die ENS forensiese verslag, wat kriminele klagtes teen Van der Westhuizen aanbeveel, gaan nie bespreek word nie – ten minste nie amptelik nie – want die verslag dien eers môremiddag voor die Eden-raad.

Wat vandag bespreek gaan word is, onder andere, die bevindinge van adv Koos Cilliers, ‘n raadgewer van die DA-leier en Wes-Kaapse premier, Helen Zille, wat Eden vroeg Februarie besoek het.

Cilliers se opdrag was om Van der Westhuizen se aanklagte teen Botha en andere, oor onder andere inmenging, te ondersoek. Die omstandighede rondom die aanstelling en optrede van die munisipale bestuurder, Godfrey Louw, nóg ‘n bron van groot interne DA ongedurigheid, is ook deur Cilliers ondersoek.

Van der Westhuizen veg om politieke oorlewing en dit wil voorkom asof dit moontlik uiteindelik gaan neerkom op ‘n direkte geveg tussen hom en Theuns Botha.

Botha is ‘n formidabele teenstander en die stryd sal fyn dopgehou word.

Botha werk op die beginsel dat elke geveg ‘n lyk oplewer. ‘n Hárde feit, maar ‘n wáre feit.

Botha het die wonde om sy politieke oorwinnings aan te dui en hy is ‘n deurwinterde strateeg; Van der Westhuizen het sy OD-status, weliswaar kwynend, maar om die een of ander onverstaanbare rede steeds bruikbaar in DA-kringe, en hy het ondersteuners soos Patricia de Lille en Ivan Meyer en selfs Helen Zille, wat soos ‘n Out-Surance tele-bemarker agteroorbuig om ‘n bruin bakkies teen ‘n blou agtergrond aan ‘n paal te sien hang.

De Lille is keelvol vir Van der Westhuizen, maar sy weet sy het so veel oud-OD’s in senior ampte en poste nodig as moontlik, en daarom sal sy haar weersin in haar handsak druk en glimlag. Uys Krige het mos al donkiejare gelede gesê ‘n glimlag is maar net ‘n ander manier van tande kners.

Van der Westhuizen se getrouste ondersteuners, mense wat hulle poste en daarom hulle daaglikse brood aan die burgemeester te danke het, baklei hulle hande bloed om te verseker pappie behou die plaas.

O!O is darem nou ook nie eers gister agter ‘n klip deur ‘n kalkoen uitgebroei nie en onlangse Son-berigte oor bepaalde Eden-raadslede is net té tydig om sonder ‘n pakkie Cerebos af te wurg.

Die agterplaas-enjintjie van die plaaslike oud-OD stotter nou wel, maar dit het darem nog wringkrag onder die ongesofistikeerdes wat ‘n enorme deel van die kieserspubliek uitmaak… En dit kan nog ‘n ponie-beriggie of twee ôginaais.

Andersins is O!O privaat oortuig dat vele DA-leiers bitter graag Botha se invloed sal wil temper. Hierdie geveg is dalk die kans wat hulle gaan aangryp.

Maar O!O kan lesers verseker dat as Van der Westhuizen aan die ENS, KPMG, en teenswoordige moeras ontsnap gaan verskeie senior DA’s amok maak binne die party. Verséker. En dít is allermíns hoorsê.

Inwoners van Eden se sake en besorgdhede sal nooit die aandag kry wat dit verdien solank die politieke binnegevegte hoogty voer nie.

En as dít bygelê is – dit sal nooit werklik einde kry nie – gaan die haatdraendheid tussen die ANC en die DA die aandag van inwonersake bly aftrek.

Daar kan nie langer op die politieke partye vertrou word om ons dorpe en distrikte te bestuur nie. Veg die raadslede van die DA en die ANC nie ónder mekaar nie; dan veg hulle téén mekaar. Van regering en bestuur is daar weinig sprake.

Maar een ding kan O!O nou vanoggend konstateer, soos Oom Kooitjie Emmer, lykbesorger en nagwadrywer op André P Brink se 1973-Witgatworteldraai… Hier kom ‘n ding, ‘n ding wat ons Eden-politiek sonder twyfel gaan verander.

Of dit na dese beter of slegter sal gaan in Eden is iets wat elke inwoner maar vir sigself sal moet uitklaar.

Maar dat ons mense in ampte en poste nodig het wat reguit praat en reguit skiet is verseker.

Hel, ons verdién dit!

En, meen O!O, geen politieke party gaan ons dié voordeel gee nie. Ons sal onafhanklike beheer oor ons rade moet kry. Hóé weet ek nie, maar dát weet ek beslis.

________________________________________________________
DREWAN BAIRD COMMUNICATIONSensaytional – 076 349 6316
Making sure they see it your way
________________________________________________________

Click here to receive updates | Advertise on O!O | Home

4 thoughts on “Woester en Worcester

  1. Kol Sanders het van Obama-land laat weet julle maak hom nou die hoenders in, want geen haan sal daarna kraai nie. Hy voel glo vere vir die helfte van julle.

  2. Wie’t gese, “I like a good clean fight; A fight to the death, with no survivors?” Mog daar nie een van hulle bly staan aan die einde van hierdie een nie. Die sogenaamde leierskap van die DA is die pad byster sedert 2009. As hierdie party met sy lofwaardige beginsels wil relevant bly en oorleef sal hulle manne soos Wessie, Bredell, Botha,Grant ens moet uithaal. Hopelik sleep hulle mekaar oor die afgrond, maar dit is snaaks hoe hulle kan die strydbyle begrawe om te oorleef as dit moet.

  3. Investigative, dis hoogtyd dat jy jou naam gestand doen. Hannes is nie meer die kiesafdelings voorsitter nie. Jy sal nou maar vir jou n nuwe naampie moet kry om jou sarkasme op uit te haal!

  4. Change will probably come after o protracted implosion.
    Excellent article O!O

    Jou woordspeling en plat-jan-se-taalgebruik is absoluut puik en ek het lekker gelag so onder die gekners deur om effense humor te gee aan n andersins baie ernstige situasie.

    Enige kommentaar van Hannes ?
    Hierdie keer,Bredell se beurt, het hy al bedank of moet ons maar die politieke ellende bly verduur ?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s