Raadsvergadering Donderdag – vérséker!

Hoe wéét ons verseker? Want daar moet oor raadslede se verhogings gestem word!

Nuus met méning!

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

Klik hier om @OudtshoornO op twitter te volg

Oudtshoorn. 7 Desember 2012. 11h05. Ek het die DA se Hannes Barnard en Chris MacPherson tot 09h00 gegee om die DA se kant van die saak wat ek hier berig te stel. Ek het geen reaksie van Barnard of van MacPherson ontvang nie.

Dat ek, en O!O, nou ándermaal, ná hierdie berig, die onredelike vark in die feëverhaaltjie sal wees is ‘n gegewe. Ek het nóg nodig, nóg lus om my aanslag te verduidelik, maar dis verseker dat hierdie berig deur die DA afgemaak sal word as “eensydig” en “bevooroordeeld”.

Laat ek dit egter baie duidelik stel: Níks wat ek móóntlik kan sê kan so beledigend wees as wat die raadslede van Oudtshoorn dóén nie – ek sê net wat húlle dóén.

Perdalkies moet die DA dan maar sý kant van die saak stel – miskien in die “hoofstroom media”, waarvoor die party so lief is; waar die kritiek nooit so fél is soos op O!O nie.

Hoe het die destydse leier en die teenswoordige “onderleier” van die DA in die Wes-Kaap nou weer beveel oor O!O se vrae oor Bitou: “Please do not respond at all.”

Want daar ís nie antwoorde nie!

Dít is wat gebeur het…

My bron is ‘n senior ANC funksionaris en ek het dié verslag met twee ander betrokkendes bevestig. ‘n Invloedryke politieke buitestaander het afsonderlik dieselfde inligting as ek bekom. Die DA het nie ‘n amptelike weergawe nie, maar een van die DA-raadslede het bepaalde inligting bygevoeg en niks van die ander inligting ontken nie.

Die DA het ‘n ooreenkoms gehad met vier ANC-raadslede om buite stemming te bly oor ‘n DA-mosie wat Gordon April verantwoordelik sou hou vir die verspilde regskoste in die Thandekile Mnyimba-gedinge; en wat ‘n moratorium op aanstellings sou plaas.

Die ANC-4 se inset was dat ‘n waarnemende munisipale bestuurder vir 3 maande aangestel word, sodat daar nie elke maand ‘n ander direkteur waarneem nie; en dat ‘n sperdatum – 31 Maart – gestel word vir die aanstelling van ‘n permanente MB. ‘n Blêddie goeie idee, meen ek!

Die probleem was dat die ANC Ron Lottering (die direkteur gemeenskapsdienste en ‘n NPP funksionaris) as waarnemende MB wou hê en die DA, om uiters geldige redes, nié. Die DA het Francois Human (die direkteur korporatiewe sake en ‘n Icosa funksionaris) verkies.

Ek sou Human óók kies bo Lottering, nes ek, by wyse van spreke, vir Jacob Zuma bo, sê, Robert Mugabe, sou kies. Dis ‘n keuse tussen twee partypolitieke handpoppe en die een is, vir alle praktiese doeleindes, presies so bedenklik soos die ander.

Die konsep-mosie wat aan die ANC-4 gewys is, so vertel ‘n DA-raadslid my, het nie die naam van die voorgestelde waarnemende MB bevat nie. Die ANC-4 was onder die besliste indruk dat Lottering voorgestel wou word.

Die DA het egter agter die rug van die ANC-4 met Icosa onderhandel om Human as waarnemende MB aangestel te kry en Human se naam op die laaste oomblik op die mosie aangebring.

Die geskokte ANC-4 het geen erg aan hierdie agterbaksheid gehad nie en teen die mosie en alle ander DA-voorstelle gestem.

Die DA se ondermynende ooreenkoms met Icosa het skouspelagtig in die hek geduik toe die verteenwoordiger van dié klein kabaal ná die aanstelling van Human ‘n sierlike 180-grade omkeer gemaak het en téén die DA se ander voorstelle gestem het – sáám met die ganse ANC, die “dissidente 4” inkluis.

Nou kyk, dít is nou áárts-onnosel! Selfs my destydse Afrikaans-onderwyser, Alk Burger, se “die onkunde staan blou in die blom” hap nie eens aan dié DA-waansin se agterend nie.

Kyk, ek stem saam met die DA oor Lottering. Maar Human is verdwynend min verkieslik bo Lottering. Die “groter prentjie” dui onteenseglik aan dat jy eerder vir Lottering as waarnemende MB verduur en verskeie ander voorstelle aanvaar kry as wat jy Lottering vermy en níks anders aanvaar kry nie!

Die openlike teenkanting van Lottering versuur, vir wat dit werd is, ook die geringe goeie verhouding met die NPP en dié se leier, Badih Chaaban.

Die uiteinde van die DA se “cunning plan” is dat hy nou die NPP én die ANC-4 vervreem het en nog stééds nie op Icosa kan vertrou nie wat hom voorspelbaar in die rug gesteek het!

Liewe hemel!

Dís nou vir jou ‘n ligte mistykie, as daar al ooit een was!

Ek sou graag wou weet watter een van die mensa DA-lede het dié konamdrimpie uitgefieger.

Hoe het Churchill nou weer oor Rusland gesê: “It is a riddle wrapped in a mystery inside an enigma…”

George Claassen, Piet Muller en Morkel van Tonder vertaal dit só in Die Groot Aaanhalingsboek: “Dit is ‘n raaisel toegedraai in ‘n geheim binne ‘n enigma.”

Dis eenvoudig die domste politieke skuif wat ek nog óóit gesien het.

En dít van die mense wat mý by elke geleentheid herinner dat mý onderhandelingsvoorstelle waansinnig is!

Miskien is hierdie berig hééltemal verkeerd. Miskien het my bron gelieg. Miskien het die twee partye met wie ek die feite bevestig het gelieg. Miskien is daar vir die invloedryke politieke buitestaander gelieg, of miskien het die invloedryke politieke buitestaander vir mý gelieg.

En selfs al is daar ‘n baie logiese verduideliking vir wat tans uiters verdag voorkom… hoekom stel die raadslede, die ANC; die DA; Icosa; die NPP; en Cope die saak nie reg nie?

Hoekom hierdie ongelooflike obskurantisme!?

Hoekom die geheime?

Hoekom kan die kiesers en die inwoners en die belastingbetalers nie weet presiés wat aangaan nie!?

Hoekom kan die kiesers en die inwoners en die belastingbetalers nie alle vergaderings van die raad bywoon nie – ook die burkomvergaderings en die in-komitee sessies van die raad!?

Wat op áárde kan die raadslede móóntlik bespreek en oorweeg wat die kiesers en die inwoners en die belastingbetalers nie mag weet nie!?

Die raadslede werk vir die kiesers en die inwoners en die belastingbetalers – en kry so wragtag nogal vandag ‘n verhoging ook – en lig die kiesers en die inwoners en die belastingbetalers (die raadslede se werkgewer) nie in nie!

Hoekom moet daar gespekuleer word!?

MacPherson is lief om grynslaggend te sê dat mense soos ek nie al die feite het nie; nie verstaan nie… nou géé my dan die feite; hélp my verstaan, magtag!

Watse sandput-kinderagtigheid is dit dié!?

Práát, dêmmit!

Wat sê jý, Chris MacPherson? En jý, Gordon April?

Wat ‘n spul narre.

Oudtshoorn. 7 Desember 2012. 07h35. O!O het nou wel gesê hy gaan nie meer oor raaadsvergaderings berig nie…

Maar O!O verneem van asembenemende onderhandelinge agter die skerms agter die skerms agter die skerms (sic) voor gister se raadsvergadering.

Dié storie móét vertel word.

Die raadsvergadering gaan vanoggend voort, omdat daar gister ‘n beduidende mate van onsekerheid onder verskeie raaslede geheers het, en omdat die raad se besluitneming so ver agter is agv die voorskoolse gespelery met belastingbetalersgeld in howe en raadsale en komiteekamers, dat meer as twee sessies (gisteroggend en -middag) nodig is om ieers te probeer kom.

O!O het die DA se plaaslike voorsitter, Hannes Barnard; en die DA se plaaslike wie-weet-wat-moontlik-de-facto-leier, Chris MacPherson tot 09h00 gegee om hulle verduideliking oor gister se gebeure en besluite te verskaf.

Intussen kan O!O berig dat die direkteur korporatiewe sake, francois Human, vir ‘n maand aangestel is as waarnemende munisipale bestuurder.

Die res van die besluite sal na 09h00 vanoggend hier op O!O aangekondig word.

Die lotjie sal darem glo saamstem oor die ekstra verhogingsgeldjie vanmiddag – dít sal ‘n maklike besluitjie wees, met glimlagte van rooi stoeltjie tot rooi stoeltjie.

Ye gods and faeries!

Oudtshoorn. 6 Desember 2012. 14h15. O!O verneem 4 ANC-raadslede is soek en daar’s probleme met die raadsvergadering. Dié inligting is nie geverifieer nie, maar kom van ‘n raadslid wat wel teenwoordig is.

Soos ek anderdag gesê het – wie gee nou eintlik regtig meer om wát die raadslede doen of nie doen nie.

Te vrotsleg blykbaar om selfs vir hulleself ‘n verhoging te bestuur!

Oudtshoorn. 5 Desember 2012. 13h40. O!O meen nie één van Nondumiso Gunguluza, Hendrik Ruiters, Jeremia Goliath, Erik Ngalo, Gordon April, Lea Stalmeester, Jurie Harmse, Charlie Wagenaar, Hendrik Botha, Gertrude Phillips, Pieter Luiters, Julia le Roux, Pierre Nel, Dianne de Jager, Peter Roberts, Raymond Wildschut, Johan Fourie, Wessie vd Westhuizen, Ben van Wyk, Chris MacPherson, Felicity Magxaka, Ewa Fortuin, Johannes Stoffels, en Vlancio Donson verdien ‘n verhoging nie.

En môre gaan dié lotjie glo inderdaad vir hulleself ‘n verhoging gee.

O!O meen die virginale DA behoort die morele en etiese teenwoordigheid van gees te hê om die verhogings teen te staan.

O!O verwag dat die DA beslis die verhogings gaan teenstaan, want hulle gaan in elk geval die gevolglike stemming verloor (13-12) en die voordeel van die verhogings kry terwyl hulle ‘n vuil en geskeurde vlaggie op die “morele hoë grond” plant.

Ten einde hulle ware teenstand teen die verhogings te illustreer, verwag O!O dat die DA-raadslede hulle ekstra geldjie, ná ‘n aanpassing vir addisionele belasting en so meer ten einde nie mínder uit te kry as voor die verhoging nie, in ‘n fonds sal stort tot voordeel van hulle wyke.

Doen die DA dít nié, val die raadslede hulself bloedbek op die betonvloer van opportuniteit.

So, laat ons sien waar staan ons met die DA.

Oudtshoorn. 3 Desember 2012. 18h15. Kan enigiemand wat O!O lees assebliéf slegs net één rede verskaf waarom Nondumiso Gunguluza, Hendrik Ruiters, Jeremia Goliath, Erik Ngalo, Gordon April, Lea Stalmeester, Jurie Harmse, Charlie Wagenaar, Hendrik Botha, Gertrude Phillips, Pieter Luiters, Julia le Roux, Pierre Nel, Dianne de Jager, Peter Roberts, Raymond Wildschut, Johan Fourie, Wessie vd Westhuizen, Ben van Wyk, Chris MacPherson, Felicity Magxaka, Ewa Fortuin, Johannes Stoffels, en Vlancio Donson ‘n verhoging moet kry!?

Dié spul is te vrotsleg om raadslede te wees al sou hulle óns betaal om die rooi stoeltjies vol te sit.

Stoffels sal nie dwarstrek oor Donderdag nie. Sy baas, Badih Chabaan ôki. April sal dit móét waag om die halfwas wraak van sy partyvyande vlugtig te verduur. Selfs van der Westhuizen sal seker ‘n ánder vergadering misloop vir hiérdie allerbelangrike ene – behalwe as die Eden raad oor verhogings stem, want dáár is meer geld. MacPherson se hande sal nie afgekap wees om ene op te steek vir die ekstra geldjie nie.

By die pantheons! Ons gaan ‘n raadsvergadering hê!

Die DA sal waarskynlik na afloop van hierdie ongewone gebeurtenis ‘n mediakonferensie hou om te verklaar dat die DA eintlik ‘n morele oorwinning behaal het – oor wát sal nugter weet. O, en ek is oortuig MacPherson sal grynslaggend langs ‘n ernstige Hannes Barnard sit wat met ‘n aura van intelektualiteit en gravitas sal verklaar dat die DA eintlik nie die verhogings wou gehad het nie, maar wat kon hulle nou doen – daar is 13 van húlle en net 12 van óns… Ons hande is afgekap!

O!O gaan hoegenaamd nie meer oor die raad en die raadslede berig nie, behalwe as een van hulle voor die hof gedaag word – vir diefstal van belastingbetalerseiendom; vir gesinsgeweld; vir watôkal.

En as hulle iets besluit wat die dorp tot voordeel kan wees – soos om bouplanne goed te keur en kontrakte af te handel. Dit beteken O!O sal omtrent nóóit iets oor die lot te sê hê nie.

Vir die res kan die raad van Oudtshoorn en die raadslede van Oudtshoorn poer in hulle moer gaan. Hulle is dit nie werd om elektrone te agiteer nie. Miskien kan een of albei van die plaaslike koerante nou en dan ‘n bietjie ink op die raadslede mors. O!O is klaar met die gespuis van Beroerdplein. Daar is ánder, winsgewende markte.

Wat ‘n verskriklike verleentheid is hierdie 25 sotte nie vir ‘n eens trotse dorp nie.

Dis walglik.

Oor en uit!

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

11 thoughts on “Raadsvergadering Donderdag – vérséker!

  1. Maar kon die Eden burgemeester, ook deel v.d Oudtshoorn raad, dan nie sy kollegas reg help nie?

  2. Van ‘n korrespondent iewers in ‘n Eden-munisipaliteit, en iemand wat liefs maar annoniem móét bly…

    “Ek moet sê, jou berig laat my weer besin dat die DA my faal as jou feite, soos jy sê, reg is. My fok! Man, wie help die koukus!! Waar is Leon, Waar is Nic en waar is Jy! Nee hel!!”

    Laat ek HERHááL: Selfs al is ek hééltemal verkeerd… Hoekom laat die DA sulke indrukke toe!!?

  3. Is dit waar die naam dan vandaan kom Karolus – Die TROGVRETERS !!

    Hannes kan maar WIL NIE ANTWOORD nie. Wat se dit vir die publiek ?
    Hy kondoneer en gaan lekker saam met al die TROGVRETERS !!

    Julle word leeg gesteel Jan Publiek en dis net n kwessie van tyd voordat ODN weer onder geregtelike bestuur geplaas word. Dis juis waarvoor die Publieke Beskermer daar is. Ek stel voor Tudi Madonsela kom loer op ODN in en maak n vinnige bevinding voordat die hele dorp leeg-en-oortrokke uitgesuig is want die SOE is soooo staaaaaaaadig en onbeholpeeeeeee !!

  4. Natuurlik verdien elke liewe raadslid ‘n verhoging! Hoe dan anders; ons het ‘n onderwysstelsel waar jy van graad tot graad vorder bloot op ouderdom en bywoning, ‘n regeringstelsel waar jy jou hele uitgebreide familie die wêreld vol kan vlieg en net hoef sorry te sê, ‘n gemeenskap wat by die huis kan sit en babies kry en elke maand papgeld verdien. hoe kan jy dan nog vra of raadslede wat bokkerôl beteken ‘n vehoging verdien – natuurlik natuurlik natuurlik – hulle name staan dan op papiere en hulle woon elke derde maand ‘n raadsvergadering by en steek dan net hulle hande op soos aan hulle voorgeskryf. Hulle verdien nie net ‘n bonus nie hulle verdien ‘n staande ovasie – kom ons stel nog 13 aan en betaal hulle f@#%% dubbeld!

  5. Hannes, HAAAAAAAAANESSSSSSSSSSSSSSSS, is jy daaaar, werk julle nog, ons wag, kan jou nie hoor nie my ou klong ! Gaan jy n ‘increase” oa ook vir die DA teenstaan ???????????

    Dalk tyd dat die ODN publiek voor Verwardplein se kantore kom toi-toi en vra dat beide Gordon en Hannes die anti-verhoging versoekskrif aanvaar, sodat die een dit vir die ander kan verduidelik, en daarna hul opgekookte konkoksie dan aan die moeilike publiek probeer verkoop

  6. The DA councillors never took an increase at Bitou Municipality,, well done folks..

  7. Hannes, ons wag steeds op jou antwoord. Hoe lamsakkig kan mens wees ?
    Boekhouer, pragtig gestel, ODN kan dit nie BEKOSTIG nie en Raadslede VERDIEN DIT NIE. Wat hul wel verdien is om afgedank te word

    Hannes, ons wag op jou DA uitspraak ! (Gaan die DA verhogings teenstaan?)
    Ons wag Hannes !!!

  8. Wel die vraag wat gevra moet word is of die dorp se finansies verhogings kan bekostig? Wel, kan dit? As my geheue my nie in die steek laat nie wou die raad aansoek doen vir ‘n lening van R42 miljoen om sy uitgawes te befonds. Dis uitgawes soos salarisse wat die grootste persentasie uitgaweis op die balansstaat uitmaak.

    Ek herinner my ook dat die DA hewig gekant was teen die aangaan van skuld om die begroting te help klop en nou verneem ek via u berig dat die DA ook by die krip gaan kom bakhand staan. Wel dames en here van die raad van Oudtshoorn, as julle in my diens was sou daar nie ‘n vergadering gewees het nie, so eenvoudig soos dit. Jammer om te se maar ek sou julle vergoeding aangepas het op grond van prestasie beoordeling en gevolglik sou julle almal moes inbetaal het.

    Ek sou verwag dat die DA ‘n amptelike verklaring uitreik waarin hulle bekend maak dat die DA geen verhogings gaan neem nie. Ek bedoel dit is mos die regte ding om te doen, of hoe? Julle self weet tog mos wat die toedrag van sake is, of hoe? Indien julle dan tog voortgaan is dit tog sekerlik in orde om julle ondersteuners van die motivering van julle besluit in te lig, of hoe?

  9. Hannes ou Boetman, enige kommentaar op OO se siek verhaal oor die toestand van ODN se raadslede.
    Hy noem julle ‘gespuis”
    Geen kommentaar van jou kant af neem ek aan is n erkenning en akkoord van alles wat OO se
    Terwyl jy aan n intellektuele antwoordjie dink, wat se jy van Zille en Booyens en Mundell se nonsies wat hul op Bitou kwytraak sodat die OVK hul moes roskam, mos jou mense en jou “mismanaged party” daardie.

    Ons wag op jou antwoord, tensy jy hul nonsies ook wil goedpraat en kondoneer ?
    Graag wag die leserspubliek op jou antwoord !!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s