Die geld begin die DA verlaat

Follow the money…

Nuus met méning!

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

Klik hier om @OudtshoornO op twitter te volg

Oudtshoorn. 24 November 2012. 07h15. O!O verneem dat die geld besig is om weg te skuif van die DA op Oudtshoorn.

‘n Inisiatief om onafhanklikes op Oudtshoorn in die volgende munisipale verkiesing te ondersteun het vandeesweek onder ‘n paar plaaslike geldmense ontstaan.

Ek is deur ‘n groot gees in die plaaslike politiek, ‘n man wat nie graag sigbaar wil wees nie, oorgehaal om die DA te ondersteun tydens verlede jaar se plaaslike regeringsverkiesing.

Ek het saamgewerk met mense van statuur om sowat R150,000 vir die DA se 2011-verkiesingsveldtog op Oudtshoorn te in.

Sommer báie van die bydraers is steeds ontstig deur die DA se onwilligheid om te regeer. Die regeringsopsie is tans maar ‘n dagdroompie, maar was in die weke na 18 Mei verlede jaar ‘n bepaalde moontlikheid wat slegs deur die halstarrige DA-leierskap gekelder is.

Maar dit nou maar daar gelaat. ‘n Beduidende aantal donateurs is grommig oor die DA se swak vertoning in die raad, en veral oor die DA se klaaglike mislukking verlede jaar om die regeringsopsie te ontwikkel en uit te oefen nadat die party die meeste stemme getrek het en 50.8% van die populêre stem op hom en sy koalisievennoot, Cope, verenig het.

Ek weet persoonlik van verskeie van die skenkers wat gedreig het om hulle geld terug te vra – ‘n beduidende aantal sonder dat die tong eers náby die kies was.

Nou verneem ek dat ‘n bedrag dubbel dié wat verlede jaar deur die DA ingewin is, reeds beoog word vir ‘n party-onafhanklike inisiatief in die volgende verkiesing.

Dit is ‘n bemoedigende verwikkeling.

Enersyds omdat dit beteken dat mense steeds besef dat burgerlike betrokkenheid in die plaaslike politiek ononderhandelbaar is, en andersyds die besef dat die politieke partye plaaslike prioriteite op die altaar van partybelang keelaf sny.

Dit is maar altyd insiggewend om waar te neem waar die geld is.

Mense wat geld gemaak het, het dit baie waarskynlik gemaak omdat hulle berekende risiko’s geneem het om in bepaalde markte produkte en dienste beskikbaar te maak wat verbruikers wou hê en dit maklik gemaak het om die oplossings by verbuikers te kry.

Die plaaslike DA is eenvoudig nie náby dié speelveld van ondernemingsgees nie.

Die plaaslike DA skuil in die hotel. Hulle wil nie eens op die bus klim wat hulle na die stadion toe moet neem nie.

Van inisiatief en risiko is daar geen spráke nie. As die DA die helfte van die energie wat die koukus en die bestuur op verskonings spandeer aan aksie toedeel sal daar ‘n vonk vir verandering en vooruitgang wees.

Vir daai afgesaagde afgekapte hande-storie is ek nou al so siek en sat dat ek ‘n sterk papiersak en een van daai lekker dik Gary Player-tiesjoes nodig het.

Hiérdie DA sal altyd kan staatmaak op daardie kiesers wat met gogga-maak-vir-baba-bang storietjies verlok kan word – soos die ANC sý stemvolk met ‘n broodjie, ‘n hoenderboudjie en ‘n slukkie papsak vang.

Maar ‘n veldtog met ‘n stewige geldkas kan wondere verrig – soos die juiste DA-masjien verlede jaar gewys het toe die DA die meeste stemme van al die partye gekry het.

Die plaaslike DA is ‘n enorme teleurstelling. Met waarskynlik slegs 3, of dalk 4 raadslede wat hoegenaamd bevoeg is om raadslede te wees en ‘n bestuur wat grootogig Kaap toe kyk voor elke asemteug verwag O!O net mooi níks van dié lotjie nie.

Party-onafhanklike raadslede wat geen party-struktuur sal verduur wat die hoofweg na ‘n beter Oudtshoorn probeer versper nie, is wat Oudtshoorn nodig het.

Kom nou, jy weet mos darem nou al sonder énige twyfel dat die vrotsleg ANC nie ys op die Noordpool kan verskaf nie; en hoe jy ook al die appeltjie wil afskil kan jy waaragtig tog nie nog meen dat die DA die oplossing is nie – die DA het sy beurt gehad en is vir minder as 10 uitgeknikker – klik hier.

‘n Onafhanklike magsbalans op Oudtshoorn.

Het jy ‘n béter voorstel?

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

4 thoughts on “Die geld begin die DA verlaat

  1. PP, jy’s n man van beginsel en integriteit. Waarom sou mense van ODN dan nie vir jou stem nie ? Enige ander stem sou dus aandui die aanvaarding van die status quo, kondonering van wanbestuur , onbevoegdheid en geen ‘accountability” van die gereelde politieke trogvreters, als natuurlik op die belastingbetalers se onkoste.

    Laat mens dink, ne ??

  2. pp

    Jy het mý ondersteuning!

    En daar sal meer soos jy opstaan teen 2016.

    Dankie vir die hoop!

  3. Ek het in die 2001 verkiesing R 5 000-00 bygedra to die DA se verkiesingsveldtog, omdat ek gedink het dit is “die regte ding om te doen. Dit is seker nie baie geld in vergelyking met ander donateurs nie, maar vir my was dit baie geld om “net weg te gee”.

    Ek is reeds sedert die munispale verkiesing in 2006 in ‘n stryd gewikkel om self as ‘n onafhankilike kandidaat te staan. Op daardie tydstip het ek ter elfder ure daarteen besluit. Selfs bekende persone in Oudtshoorn het my genader of ek nie dalk vir die DA wou staan nie. Ek het geweier aangesien ek geweet het die plaaslike DA word deur “Kaapstad” beheer. Ek sou dan 1 teen die ANC en DA gewees het (die DA sou dan 1 lid minder op die Raad gehad het, aangesien ek teen die “agbare Raadsdame en oud Burgermeesteres te staan sou moes kom) Daarna was Oudtshoorn Eerste as ‘n politieke party geregistreer en sou dit die voertuig wees waarmee Oudtshoorrn se mense die 2011 munisipale verkiesings sou aanpak. Ongelukkig het niks hiervan gekom nie en het die kiesers oorgehaal om eerder die DA te ondersteun.

    Ek gaan beslis as onafhanklike kandidaat in die 2016 munisipale verkiesing staan, met of sonder enige hulp.

  4. Absoluut puik gestel OO – PUIK !!

    Ek kon nie help om vanoggend na Zille se toespraak te luister by hul tweejaarlikse Kongres op Kemptonpark nie. Was nogals goed, net jammerlik haar party kan nie die kloutjie by die oor kry as dit by Bitou, ODN en Swellendam en ander munisipaliteite kom nie. Mens hoor tot vervelens toe van Midvaal (asof dit hul enigste storie van sukses tot dusver was, en oor die res van die MISLUkKINGS word soos die graf geswyg.

    n Goeie Leier het eendag gese, “in n (politieke) oorlog, wend jy jou Generaals aan by die fronte wat die swakste vaar. Ek stel voor Bredell word deur n Vroulike Generaal vervang wat haar volle aandag toespits op Bitou, ODN, Swellendam…… ens. Voordat Zille nie hierdie ooglopende goeie raad volg, Bredell terselfdertyd afdank (en Hannes hopelik uit sy eie goeie gesonde oordeel bedank nie), gaan NIKS my liewe lesers op ODN verander nie – die uitbuiting sal voortduur terwyl sommiges sagkuns om Nick en Drewan loop.

    “The height of insanity is to expect a DIFFERENT result but you continue doing the same things.” Zille, jy beginne jou kiesers uiters teleurstel. Dis tyd om van mooi woorde, opgetooi met n bietjie afrikaans en Xhosa oor te skakel na AKSIE en ontslae te raak van baggasie en onderpresteerders soos Bredell. Daar’s honderde vroue leiers ver beter as hy en dit sal jou balans in jou TMKB (Totaal Manlike Kaapse Kabinet ) terselfdertyd uitballanseer en kritici snoer ! “No rocket science, is it ???”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s