Klein Karoo Beperk se resultate

‘n Uitdagende jaar met goeie resultate

Nuus met méning!

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

By: TwitterButtons.com

Oudtshoorn. 10 November 2012. 06h45. Die besturende direkteur van Klein Karoo International, Johan Stumpf, het gister die volgende mediaverklaring uitgereik by die algemene jaarvergadering van die maatskappy:

Klein Karoo Beperk is ‘n gediversifiseerde landboubeheer-maatskappy met belange in volstruisprodukte (Klein Karoo International Bpk); landboubenodigdhede (Handel, Meganisasie en Dienste); en saad (Klein Karoo Saadproduksie Edms Bpk, en Klein Karoo Saadbemarking Edms Bpk) wat gedensentraliseerd bestuur word in onafhanklike maatskappye of afdelings.

Die landbou se verhouding met Moeder Natuur stel eise aan die bedryf wat ander sektore nie ken nie. Vanjaar was dit Avian Influenza (AI) wat vleisomset met R101,2 miljoen laat daal het weens ‘n verbod op uitvoere. Die gevolglike laer produksie het die vraag na landboubenodigdhede laat afneem. Saadbelange het egter sterk vertoon.

Die groep se netto wins na belasting het met R24,6 miljoen verbeter tot R34,6 miljoen met volstruis- wat R15 miljoen en saadbelange R19,5 miljoen bydra. Landboubenodigdhede en Dienste het daarin geslaag om gelyk te speel – ‘n beduidende prestasie onder die omstandighede.

Die groep se aangepaste wesensverdienste, wat suiwer handelsprestasie meet, het met R26,5 miljoen gestyg en die netto batewaarde het toegeneem.

Teenswoordige afhanklikheid van eksterne kapitaal; kontantvloeidruk; volstruisbelange wat waarskynlik langer onder druk gaan bly; en saadbelange se aggressiewe groeiplanne, stel uitdagings aan die raad en daarom word aanpassings aan die groep se kapitaalstruktuur tans oorweeg ten einde bedryfsgeleenthede te bevorder.

Klein Karoo International Bpk (KKI)
15 000 minder voëls is vanjaar geslag; 65 000 minder die afgelope twee jaar.

Die daling in die volstruispopulasie kan toegeskryf word aan siektebeheer, wat uitslagtings tot gevolg gehad het; en gevolglike dalende produsentvertroue wat negatief op herbelegging in volstruisproduksie ingewerk het.

Ondernemende bemarking het KKI in staat gestel om die leer- en veer-omsette met onderskeidelik R50,8- en R11,5 miljoen te laat styg ten einde die daling in totale omset tot R35,2 miljoen te beperk.

Produsentbetalings het met R61,5 miljoen gedaal, maar op ‘n eenheidsbasis is steeds R2 009 per volstruis uitbetaal – slegs 15% minder as die vorige jaar.

KKI het sowat 5 000 volstruise van sy Swart Ekonomiese Bemagtigingsprojekte geslag en verwag dat soveel as 100 swart produsente volgende jaar voëls sal voorsien.

KKI het verkope in die plaaslike vleismark verdubbel en is besig om ‘n mark vir hitte-behandelde vleis in Europa te vestig. Hierdie alternatief skep enorme geleenthede vir plaaslike toegevoegde waarde en verminder produksierisiko aansienlik aangesien vleis steeds uitgevoer kan word ondanks die teenwoordigheid van AI.

‘n Hitte-behandelde vleis-aanleg met ‘n kapasiteit van 3 000 ton sal vroeg in 2013 in produksie gestel word.

KKI se aangepaste wesensverdienste is R18,1 miljoen – ‘n groot verbetering op verlede jaar se R1 miljoen. Voorts is KKI se kontantvloei vanjaar die vyfde agtereenvolgende jaar positief. Dit kan toegeskryf word aan winsgewendheid, selfs al het die besigheid verlangsaam. Ook die balansstaat het vanjaar versterk met die rentedraende skuld tot kapitaal-verhouding wat nou beter as die aanvaarbare bedryfstandaard is.

Handel, Meganisasie en Dienste
Produsente se laer inkomste, en ‘n traagheid om in die volstruisbedryf te herbelê, het Handel, Meganisasie en Dienste se omset met 22% laat daal, maar gefokusde kostebestuur, ‘n goeie voorraadomsetsnelheid, laer rentekoerese, en goeie debiteurebestuur het die divisie lewensvatbaar gehou.

Klein Karoo Saadproduksie Edms Bpk (KKSP)
Vanjaar was KKSP se grootste jaar nóg. Verhoogde volume, pryse en waarde; en meestal gunstige klimatologiese faktore en wisselkoerse, het gesorg vir ‘n netto wins van R8,1 miljoen, op ‘n omset van R87,2 miljoen. KKSP kan nou met oorleg diversifiseer en nuwe geleenthede ontgin.

Klein Karoo Saadbemarking Edms Bpk (KKSB)
Die netto wins het met meer as R5 miljoen gegroei tor R14,6 miljoen. KKSB fokus op die ontwikkeling van produkoplossings deur teling, eksklusiewe ooreenkomste, biotegnologie en moderne tegnieke om produkte te ontwikkel. Hierdie aanslag bevorder groeipotensiaal volhoubaar. Hoë groei word veral in die mielie- en sonneblomsegment voorsien, aangesien die produkte uitstekend in die mark aanvaar is.

Die afgelope jaar het die opleidingsentrum se eerste studente hul kursusse voltooi en KKSB slaag daarin om nuwe en opkomende boere op te lei om op eie stoom te boer.

Uitgereik deur Drewan Baird Communication

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

3 thoughts on “Klein Karoo Beperk se resultate

  1. Baie goeie nuus. Mens is altyd bekommerd oor hierdie besigheid want dit is so belangrik vir ons dorp. Baie geluk.

  2. My Pa het my geleer , indien jy n’ probleem het , los dit so spoedig moontlik op , dit gaan nie vanself weg nie ,dit raak ook nie kleiner nie .Die bestuur en direksie het die afgelope 2 jaar n’ massiewe probleem , en ek wil ook graag vir hulle gelukwens met hul resultate en die manier wat hulle die probleem aanvat .Sterkte en hou vol met die goeie werk.

  3. Veelsgeluk aan ‘n bekwame bestuursspan en toegewyde boere gemeenskap.Wat ‘n wonderlike prestasie.Julle is gewis die trots van ons streek. Beste wense vir die volgende finansiele jaar. Julle verdien die beste!!

    Dankie vir hierdie opbouende berig mnr Baird, ons dorpie smag na sulke nuus.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s