KKI Looiery spreek reuke aan

‘n Veelfassetprobleem kry professionele aandag vir ‘n volhoubare oplossing

Nuus met méning!

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

By: TwitterButtons.com

Oudtshoorn. 1 November 2012. 07h00. Die Besturende Direkteur van Klein Karoo International, Johan Stumpf, het gister omvattend gereageer oor die onaangename reuke wat inwoners van tyd tot tyd pla.

In sy verklaring sê Stumpf dat Klein Karoo International se looiery in Bridgton een van sowat vyf aanlegte van verskillende owerhede en maatskappye op Oudtshoorn is wie se bedryfsaktiwiteite ongure reuke tot gevolg kan hê.

KKI spandeer tans baie tyd en ‘n beduidende bedrag om sy bydrae tot die reukprobleem so onbeduidend as moontlik te maak.

Dit is ‘n ongelukkige feit dat die owerheid dorpsontwikkeling baie naby en rondom die looiery toegelaat het en dat die stedelike kruip gaandeweg steeds nader aan die looiery kom. KKI betreur owerheidsbesluite wat ‘n ontwikkelingsbuffer ignoreer en inwoners aan ‘n ongemaksone blootstel waar onaangename reuke onvermydelik is.

Die gebruik en teenwoordigheid van verskillende chemikalieë veroorsaak uiteenlopende reuke en KKI gee daadwerklike aandag aan hierdie probleem om die maatskappy se bydrae tot die onwelkome reuke selfs verder te verklein en die heel beste balans tussen ekonomiese voordeel en fisiese ongemak vir die mense van Oudtshoorn te verseker.

By die looiery word waterstofsulfied (H2S) en ander elemente vrygestel as gevolg van natuurlike prosesse en die gebruik van chemiese produksiemiddels.

Waterstofsulfied is ‘n natuurlike element wat tydens verrotting vrygestel word en het ‘n kenmerkende eierreuk – dit ruik nou eenmaal nie lekker nie!

Maar die waterstofsulfiedvlakke by die looiery hou so te sê géén gesondheidsgevaar in vir mens of dier nie.

Wetenskaplike studies by die looiery toon aan dat die teenwoordigheid van hierdie natuurlike element verdwynend klein is – sowat 25 DPM (deeltjies per miljard – dis ‘n een met nege nulle).

Dié voorkomssyfer is kleiner as jou kans om die lotery te wen – drie maal kleiner!

Die kans dat hierdie voorkomssyfer gesondheidsprobleme kan veroorsaak is so onbeduidend dat verdere toetse nie eens aanbeveel word nie.

Die eierreuk mag jou dalk van tyd tot tyd pla, maar dit sal nie jou gesondheid benadeel nie.

Selfs al is daar so te sê geen sprake van ‘n gesondheidsrisiko nie, het KKI aansoek gedoen vir ‘n Atmosferiese Vrylatingslisensie sodat die vereistes van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Lugkwaliteit streng nagekom kan word.

Die spesialisfirma, Lethabo Air Quality Specialists, het reeds in September ‘n verslag oor die impak van die looiery se bedrywighede op die lug-kwaliteit gelewer en kommentaar kan ingedien word tot op 11 Desember.

Verskeie rolspelers is betrokke:

– Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake, en ontwikkelingsbeplanning;
– Die lugkwaliteitsbeampte van die Eden Distriksmunisipaliteit;
– Die munisipale bestuurder van Oudtshoorn;
– Die Wes-Kaapse direkteur: besoedelingsbestuur.

Die looiery het reeds, teen hoë koste, gesorg vir ‘n beduidende afname in die voorkoms van die eierreuk:

– Meer as R1 miljoen is spandeer aan verbeteringsprojekte;
– Personeel is opgelei en toegewys om afvloei te bestuur;
– Goeie praktyke word gevolg;
– Vaste stowwe wat in die damme gestort word is verminder;
– Baie van die oorblywende vaste stowwe word verwyder;
– Sproei word voorkom by die inloop na die damme;
– Die pH-beheer van die damme is verbeter;
– Reukwerende bakterie word gebruik;
– Anti-reukmiddels word aangewend.

Met hierdie maatreëls in plek kom waterstofsulfied slegs by uitsondering voor. KKI monitor en kontroleer die teenwoordigheid van die afvloeiwater voortdurend ten einde reuke te voorkom.

Daar is verskeie voordele wat opgeweeg moet word teen die sporadiese ongemak van die reuke.

– Die looiery verskaf werk aan sowat 200 mense met hoë vaardigheidsvlakke;
– Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie beraam dat sowat 20 000 mense direk van die volstruisbedryf afhanklik is;
– Lone in die leerbedryf is van die hoogste in die vervaardigingsektor – geld wat direk in die plaaslike ekonomie gepomp word;
– Die looiery hanteer tans 60% van die wêreld se volstruisleer-behoeftes en verwerk ook groot hoeveelhede krokodil- en wildsvelle;
– Hierdie kapasiteit stel die internasionale standaard vir soortgelyke produkte en verseker dat die mark vir die looiery se produkte stabiel bly;
– Sonder die looiery se impak sal plaaslike volstruisboere eenvoudig ondergaan omdat daar geen afset vir hulle volstruisvelle sal wees nie;
– Die looiery is ‘n onmisbare skakel in Oudtshoorn se ekonomiese ketting en volstruisleerverkope het die afgelope jaar gesorg dat die plaaslike volstruisbedryf se verlies as gevolg van die verbod op volstruisvleisuitvoere bestuurbaar bly – leer het die helfte van die vleis-verlies geabsorbeer. Sonder vanjaar se leerverkope… dis eenvoudig ondenkbaar.

Daar is van tyd tot tyd ‘n slegte reuk waaraan die looiery aandadig is. Die looiery doen alles in sy vermoë om die teenwoordigheid van hierdie reuke te beperk. Die looiery kan nie bedryf word sonder dat onaangename reuke van tyd tot tyd voorkom nie. Oudtshoorn se ekonomie kan egter beswaarlik voortbestaan as hierdie sporadiese ongemak nie geduld kan word nie.

Hierdie onbetwisbare feit – dat Oudtshoorn se ekonomie en die looiery gekoppel is – maak die looiery nie hardekwas nie, maar eerder baie bewus van sy enorme verantwoordelikheid om die heel beste balans tussen ekonomiese voordeel en fisiese ongemak vir die mense van Oudtshoorn te verseker.

Ten einde hierdie uitdaging tot die voordeel van al Oudtshoorn se inwoners te bestuur, vra die looiery die ondersteuning en die begrip en die hulp van elke inwoner wat, net soos KKI, net die beste vir Oudtshoorn wil hê – selfs al vereis dit van tyd tot tyd ‘n effense ongemak en ‘n bietjie verdraagsaamheid.

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

4 thoughts on “KKI Looiery spreek reuke aan

  1. Nou hoekom sê die swart direkteure en senior bestuurders van Klein Karoo International niks ? Want daar is seker nie?! Is dit nie ‘n Nasionale Party instelling of wat het Arnold de Jager al die jare daar gemaak terwyl ook in die parlement was?!

  2. Nou hoekom bly Johan Stumpf nie meer in oudtshoorn ? Moontlik die stank wat pla?!

  3. Mnr Stumph moet asb nie agter “stedelike kruip ” skuil nie , die gedeelte van Bridgton noord van Dassieweg was lank voor die looiery daar !

  4. Uitstekende argumente,maar dit stink nog steeds. Toets is: sal jy wat elders woon, daar gaan woon? .
    Party neuse is nou maar gedoem om dinge anders as ander neuse.te ervaar. What a pity !
    Hoor hoe ervaar C Louis Leipoldt Oktober wat sopas verby is:

    Dit is die maand Oktober! Die akkerboom is groen;
    die bloekoms langs die paaie is almal nuut geboen;
    en orals in die tuin rond ruik jy sering en roos,
    jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos,

    Dit is die maand Oktober! Ek dink die mense vier
    vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!
    Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?
    Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?

    Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,
    met elke dag so helder, so pragtig elke aand!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s