NPP-advertensie

Dis maar vrotterig, maar wys ten minste Dianne korrek uit

News with intent!

Your advertising is only as good as the people who see it – repeatedly! You want to do business with OO readers – people with money and control of corporate budgets. Click here

By: TwitterButtons.com

Oudtshoorn. 16 September 2012. 10h00. Die NPP se advertensie in Die Herrie Donderdag is kenmerkend van die party en sy mense se traak-my-nie-agtende houding. Nie eers die party se president, Badih Chaaban, se naam is korrek gespel nie.

OO lewer hieronder kommentaar op (letterlik!) die advertensie.

Daar moet toegegee word dat die advertensie die DA se Dianne de Jager inderdaad korrek identifiseer as die rigtinggewende bron van die vervolmaakte gemors waarin die ANC/NPP/Icosa-koalisie Oudtshoorn bestuur het.

Oor De Jager se weersinswekkende bestuursrekord het OO al tot vervelens toe berig. Dat sy stééds ‘n DA-raadslid is, is onomstootlike bewys van die minagting wat die DA se “Dierbare Leiers” vir Oudtshoorn het – en maak modder van die DA se sogenaamde erns met die brand.

Lesers mag dalk nie onthou van die interdik waarna in die advertensie verwys word nie – daar is twee berigte, uit Die Hoorn en uit die Son van die eerste week in Desember 2008, onderaan hierdie berig.

Hier is die advertensie, met OO se kommentaar:

En hier is die twee berigte oor die interdik:

Die Hoorn
INTERDIK OPGEPLAK TEEN MUNISIPALE DEURE
Deur Liesel le Roux
’N TYDELIKE interdik wat 16 persone verbied om enige werknemers van die munisipaliteit aan te rand, te bedreig of te intimideer, is laat gistermiddag teen die buitedeure van die Oudtshoorn munisipaliteit opgeplak.
Die interdik teen die tydelik geskorste munisipale bestuurder van die dorp, mnr Noël Pietersen, en 20 ander persone is Vrydag deur regter Jeanette Traverso in die Kaapse Hoogegeregshof toegestaan. Dit is aangevra deur die waarnemende munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, mnr Tembani Gutas, en volgens wetlike vereistes teen die deure van die munisipale geboue opgeplak.
Pietersen is tydelik geskors hangende ’n ondersoek na die beweerde gebruik van munisipale fondse vir die betaling van regskostes vir ’n siviele eis.
Die 16 persone word ook verbied om binne die munisipale geboue te vergader of openbare byeenkomste te hou, of hulle by die munisipale geboue op onbehoorlike, oproerige of gewelddadige wyse te gedra.
Die interdik volg nadat ’n groep inwoners van die dorp ’n vergadering ontwrig het wat die burgemeester, me Diane de Jager, en Gutas met munisipale personeel belê het om hulle in te lig oor die redes vir die skorsing van Pietersen.
Die groep het ook verskeie kere die munisipale geboue beset en geëis dat Pietersen se skorsing opgehef word.
Van die munisipale amptenare en raadslede is glo deur lede van die publiek met die dood gedreig, en het in hul kantore gaan wegkruip, terwyl sekuriteitsbeamptes na bewering geïntimideer is.
Onder die 16 tel verskeie vooraanstaande gemeenskapsleiers van Oudtshoorn, soos mnr Poem Mooney, Attakwa-stamhoof, vader Claude Apples, hoof van die kunsakademie by die St Simons Anglikaanse Kerk, mes Angeline Lekay, voormalige NPP- en Icosa- raadslid, Elizabeth Waarts, wat betrokke is by die plaaslike tak van die nuutgestigte Congress of the People (Cope), en Joey Canary, voormalig raadslid.
Die persone is ook betrokke by ’n krisiskomitee wat op die been gebring is ná Pietersen se tydelike skorsing.
Die nasionale minister van veiligheid en sekuriteit en die nasionale en provinsiale polisiekommissarisse asook die kommissaris van Oudtshoorn se name verskyn as respondente op die interdik, klaarblyklik omdat amptenare se lewens na bewering in gevaar gestel is omdat die Polisie nie mense in hegtenis wou neem nie.
Intussen het die Oudtshoorn Polisie ’n optog van bewaardes goedgekeur wat vanoggend op Oudtshoorn plaasvind.
Gutas het herhaalde e-pos- en telefoniese navrae van Die Hoorn die afgelope week oor die interdik nie beantwoord nie.
Die persone wie se name op die interdik verskyn, moet voor 10:00 op 8 Desember in die hooggeregshof aandui waarom die interdik teen hulle nie permanent gemaak moet word nie.

Son
‘ons lewens is bedreig’
HOË HET SY MES UIT
Soek interdik teen 17 mense by hof

Hein Coetzee
OUDTSHOORN. – Die skorsing van die munisipale bestuurder het in ’n sirkus ontaard: Die waarnemende munisipale bestuurder het ’n interdik-aansoek teen 17 mense by die hof ingedien.
Themba Gutas het dié dringende aansoek by die Kaapstadse hooggeregshof ingedien.
Die 17 mense is lede van die krisiskomitee wat voor die munisipale kantore teen Noël Pietersen se skorsing protes aangeteken het. Gutas sê hulle het onwettige byeenkomste in en voor die munisipale kantore gehou.
Die komitee wou ná die skorsing by die burgemeester, Diane de Jager, redes hê hoekom Pietersen sonder kennisgewing geskors is.
Die polisie is ingeroep om hulle van die perseel te verwyder en te arresteer.
Gutas dagvaar onder andere die minister van veiligheid, nasionale én Wes-Kaapse polisiekommissaris én die stasiekommissaris van die Oudtshoorn-polisie – blykbaar omdat die plaaslike cops nie Gutas se opdragte uitgevoer het om die gemeenskaps­lede te arresteer nie.
In ’n verklaring van meer as 50 bladsye beweer Gutas deur nie op te tree nie, het die polisie amptenare se lewe in gevaar gestel.
Nóg ’n klag van Gutas is dat die polisie in vriendelike gesprekke met die “oproeriges” was. Volgens hom het dit gelyk of die polisie simpatie met die betogers het.
In die verklaring beskuldig Gutas die krisiskomitee se voorbokke, vader Claude Appels, Angeline Lackay, Elizabeth Waarts en Poem Mooney, dat hulle hom, De Jager en ander ampsdraers met die dood gedreig het.
Die groep – wat Gutas die “Mob” noem in die verklaring – het glo die vuiste ingelê en mense wat munisipaliteit dienste wou gebruik, die gebou belet.
Die krisiskomitee het na bewering ook die sekuriteitswagte geïntimideer en hulle gedwing om die veiligheidshekke oop te maak.
Gutas beweer lede het aan hom gestamp en hom ’n “k*ffer” genoem.
Gutas voer aan De Jager het haar uit vrees vir haar lewe in haar kantoor toegesluit.
Die krisiskomitee moet nou op 8 Desember in die hooggeregshof gaan sê hoekom die interdik nie teen hulle toegestaan moet word nie.

Click here to receive updates.

Advertise on OO!

Click here to return to the title page.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s