DA swyg oor Bredell se uitlatings

Party-bestuur en -leierskap ignoreer OO se vrae

Nuus met méning!

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

By: TwitterButtons.com

Oudtshoorn. 28 April 2012. 06h50. OO ontvang géén reaksie van die DA oor die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, se uitlatings oor Oudtshoorn nie: Plaaslik; streek; provinsiaal; nasionaal swyg soos die graf.

Op 25 April skryf ek aan die voorsitter van die DA se plaaslike kiesafdelingsbestuur, Hannes Barnard, en die sweep, Chris MacPherson:

Beste Hannes en Chris

Ek meen my vraag aan Bredell, aangeheg, is tersaaklik en sonder kwaadwilligheid.

Bredell reageer nie.

Kan julle asseblief albei, jy, Hannes, as KAB-voorsitter; en jy, Chris, as sweep, vir my aandui hoe Bredell se openbare standpunt en gespreksinsette versoen kan word?

Ek stel dit aan julle dat Oudtshoorn se inwoners ‘n verduideliking verdien.

Indien julle van mening is dat Oudtshoorn se inwoners nié ‘n verduideliking verdien nie, hoef julle nie op hierdie vriendelike versoek te reageer nie.

Groetnis

Hier is my navraag van 24 April, waarna ek in die brief aan Barnard en MacPherson verwys, aan Bredell:

Beste Anton

Ek lees in Die Burger: “Volgens (Bredell) verrig die Oudtshoorn-munisipaliteit sy kernfunksies ‘nie sleg nie’.”

Tog het jy Saterdag aan jou gespreksgenote gesê Oudtshoorn het probleme met water; riool; strate en stormwater; en stadsbeplanning.

Gesels met Corrie Greeff, bestuurder elektrotegniese dienste (082 968 3727) om die skokwekkende toestand van elektrisiteitsvoorsiening te verneem.

Slegs 60% van ons infrastruktuur is steeds diensbaar en dit sal R10m per jaar kos om in stand te hou.

Onderhoud van dié infrastruktuur is met R95m agterstallig.

Dit laat ons met vullisverwydering wat elke dag plaasvind!

Oudtshoorn se geld is op en die plaaslike DA-raadslede meen die begroting is onwettig.

Nou moet jy my assebliéf tog help, Anton: Die Oudtshoorn-munisipaliteit verrig sy kernfunksies ‘nie sleg nie’!?

Werklik, ek probeer net verstaan!

En toe, op 26 April, skryf ek weer aan Barnard en MacPherson:

Hannes en Chris

My e-pos van gister verwys.

Ek lees in die Oudtshoorn Courant, wat klaarblyklik die voordeel van ‘n respons op navrae van die DA ontvang het, dat die plaaslike woordvoerder, Peter Roberts, sou gesê het Saterdag se DA-vergadering met Bredell, Botha en Bekker het hoofsaaklik gehandel oor die waarde wat die DA kan toevoeg tot die ontwikkeling van Oudtshoorn deur die ontwikkeling van die mense van Oudtshoorn.

Baie dankie; nou verstaan ek.

Ek verduidelik op OO.

Groetnis

In ‘n gesprek met Barnard op 26 April het hy gesê dat hy geen teenstrydighede by Bredell waarneem nie en dat Bredell se stellings slegs teenstrydig klink omdat OO die minister selektief aanhaal.

Dit is ook baie duidelik aan my gestel dat die DA nie op my navrae sal reageer nie.

Soveel vir die DA se toegewyde “openhartigheid”. Maar dit daar gelaat. As OO op politici en amptenare met wag om hulle bepaalde insig oor gebeure te deel wanneer dit vir hulle geleë is, sal jy, my lankmoedige leser, nóóit weet hoe jy op Oudtshoorn beduiwel word nie!

Bredell moet maar liefs bekhou oor Oudtshoorn totdat hy homself vergewis van die ware toedrag van munisipale bestuur en dorpsregering alhier.

Bredell se stelling dat die Oudtshoorn-munisipaliteit sy kernfunksies ‘nie sleg nie’ verrig dui onteenseglik aan dat hy geheel en al uit voeling is met Oudtshoorn se probleme en dat sy uitsprake oor Oudtshoorn inderdaad kommerwekkende teenstrydighede – gebore uit onkunde; nie kwaadwilligheid nie – bevat. (Klik hier.)

Die DA gaan blykbaar nou nie meer op OO se navrae reageer nie. In dié verband, omder andere, is daar andermaal geen verskil tussen die DA en die ANC nie.

Berge val op ons; heuwels bedek ons.

Oudtshoorn het ‘n party-onafhanklike magsbalans in die raad nodig. Maak seker dat jý ten minste nie in ‘n volgende verkiesing wéér slangolie van die DA of die ANC koop nie.

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

8 thoughts on “DA swyg oor Bredell se uitlatings

  1. Anarchy – snaaks hoe min Hannes van sy kiesers dink om nie te wil deelneem aan gesprekvoering met die mense op hierdie forum nie, Hannes hierdie mense het vir die DA gestem, maar dit wil duidelik blyk dat die DA nie meer die belange van sy kiesers op die hart dra nie, ek hoop dat jy nie sal vra waar ek en ander DA lede in die toekoms sal stem nie. Ek hoop dat jy en jou ander DA Raadslede darem die boodskap kry dat julle moet begin om julle werk te doen en vinnig ook.

  2. HB: Ek moes ‘n besluit neem oor hoe ek my beperkte tyd nuttig tot voordeel van die DA kan benut.

    En met hierdie stelling bevestig meneer Barnard presies wat verkeerd is met politiek op plaaslike vlak. Spandeer eerder jou “berperkte tyd” nuttig deur tot voordeel van die gemeenskap op te tree eerder as tot voordeel van die (reeds bevoorregte) DA!

  3. OO jy se…”Die DA gaan blykbaar nou nie meer op OO se navrae reageer nie.”
    Wat is nuus ?
    Nou dat Hannes ook in n hoek is doen hy GERIEFLIKHEIDSHALWE afskeid van OO !
    Dis heel duidelik dat hy deur hoër DA gesag aangese word wat om te doen en nie omdat OO in die beskuldigingsbank is nie. Is hy dalk reeds in n hoek en moet nou n baie onpopulere besluit maak terwille van politieke oorlewing ?

    Hannes, al daaraan gedink dat al wat Bredell moet doen is om die “publiek” te antwoord — OO is n publieke forum !!!! Ons weet mos nou darem almal dat Bredell elke keer rooigesig is wanneer OO oor sy mannewales rapporteer. En nou val jy ook vir die grap !

    Hannes, al daaraan gedink, elke keer dat jy of die DA vir OO ignoreer, pluk jul net n grooter LAT vir JULSELF en die DA, in die oë v/d publiek.

    Ek hou voet by stuk – dit sal baie interessant wees om te sien wie eerste gaan bedank, Bredell of jy. In die eerste se geval is die kans baie goed dat hy nog afgedank gaan word, in jou geval, dat jy eerder uiteindelik uit moedelloosheid self sal loop. Die horlosie loop……..

  4. Interessante opmerkings, Karel Kat! Die reaksie het my onkant gevang en ek dink nog daaroor – jou kommentaar help! Dankie.

    SaDruid, jy slaan spykers met koppe. As Oudtshoorn se mense “mag” weet wat oor hulle bespreek en besluit word kan daar geen misverstande wees nie.

    Hierdie “geheimhouding” is bleddie kinderagtig!

    As jy iets het om te sê, sê dit!

    Kyk gerus weer na die DA se rekord op Oudtshoorn – klik hier.

  5. Die DAciever goga het weer gebyt, gespreke agter toe deure los veel oor vir verbeelding en kan maklik ontken word as dit gepas is. n Oop deur los net feite wat aangehaal kan word. Lyk my die DAcievers is banger vir feite as vir n weghol verbeelding, weet hul nie dat feite betwis kan word met logika nie maar verbeeldings skepe sink nie.

  6. Hannes

    Miskien sal jy nog met MY praat?

    Ek verstaan glad nie. Ek het natuurlik nie die gewraakte telefoongesprek gehoor nie, maar OO berig hierbo dat hy verstaan het dat jy twee goed gesê het:

    1. Dat jy “geen teenstrydighede by Bredell waarneem nie en dat Bredell se stellings slegs teenstrydig klink omdat OO die minister selektief aanhaal”;

    2. Dat die DA “nie op OO se navrae sal reageer nie”.

    Wel, in jou kommentaar hierbo gee jy voor dat jy inderdaad geen teenstrydighede in Bredell se opmerkings agterkom nie, want jy sê dat Baird die teenstrydighede “konstrueer”, en jy sê duidelik en onomwonde dat jy OO gaan ignoreer.

    Presies hoe het OO jou dan verkeerd verstaan?

  7. Helen Zille, Theuns Botha, Anton Bredell, Diane de Jager, en nou Hannes Barnard: ignoreer OO, dan gaan die probleem weg.

    Ai, jai, jai, jai, jai, jai, jai.

    As OO verkeerd is, help reg – maar met féite! Baird eet alte graag “humble pie”, maar dan moet dit ópgedien word.

    Hier is OO se standpunt: Anton Bredell klink asof hy nie die vaagste benul het van wat op Oudtshoorn gebeur nie; Anton Bredell gee voor om oor inligting te beskik wat hy in werklikheid nié het nie; Anton Bredell maak openbare stellings wat sy gespreksinsette met sg DA-funksionarisse lynreg weerspreek.

    Sínvolle debat!?

    Daar is géén debat nie!

    Hier is die forum – die bewys lê daarin dat Barnard se bekvol verbatim gepubliseer is, sonder énige redigering… Behalwe as sy herinnering aan sy kommentaar ánders is.

    Praat, magtag!

    Wat is dit met hierdie voorbehoude?

    Oudtshoorn blóéi en ons “leiers” het voorbehoude.

    Berge val op ons; heuwels bedek ons!

  8. @OO
    Die berig hierbo dien om my te oortuig van die korrektheid van my besluit om my te weerhou van kommentaar op OO navrae.
    Baird haal my hierbo aan al sou ek tydens ‘n telefoongesprek met hom, my uitgepreek het oor teenstrydighede deur hom gekonstrueer.
    Ek weerhou my van kruheid in kommentaar hierop.
    Ek volstaan daarby deur te sê dat die Baird weergawe van die aangehaalde telefoongesprek, geensins strook met my herinnering daarvan nie.
    Ek het teen my beterwete Baird se aangehaalde oproep beantwoord. Tot my spyt!
    Ek weerhou my van ‘n simplistiese antwoord op wat Baird ‘n simplistiese vraag konstrueer te wees. Ek het hom aldus meegedeel.
    Ek het ook tydens die gesprek my redes vir my besluit verskaf.
    Saggies gestel, lê die rede vir my besluit daarin dat ek my vertroue verloor het daarin om in ‘n sinvolle debat met Baird betrokke te raak.
    Ek moes ‘n besluit neem oor hoe ek my beperkte tyd nuttig tot voordeel van die DA kan benut. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ek my tyd anders beter kan bestee as om betrokke te raak in steriele debatte die uitkoms waarvan reeds vooraf bepaal is en onvermydelik die gevolg sal hê dat ek vir ‘n swaap of naprater voorgehou sal word. Teensy natuurlik ek OO se vooropgestelde idees napraat!!!!.
    Deel Baird mee: Ek weet nou waar die rooi knoppie sit as hy weer probeer om my te skakel.
    Ek groet hierdie forum met spyt maar met oorgawe.

    “Barnard”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s