Noem my eerder ’n ‘loose cannon’ as ’n ‘leftie’

Rhoda Kadalie: “Ek is siek daarvoor om die demokrasie te probeer geniet.”

Nuus met méning!

Jou advertensies is net so goed soos die mense wat dit sien – wat dit oor en oor sien! Jy wil besigheid doen met OO-lesers: Mense met geld en beheer oor korporatiewe begrotings. Klik hier

Volg OO op twitter: oudtshoorno en facebook: Drewan Baird

Oudtshoorn. 14 April 2012. 08h15.

“Ek voel ek het hierdie samelewing oorleef,” het die menseregte-aktivis Rhoda Kadalie aan Danie Marais gesê toe hy haar pols oor haar nuwe emigrasieplan. En: “Ek is siek daarvoor om die demokrasie te probeer geniet.”

‘Nee! Ek wil nie oor die emigrasie praat nie. Ek het vir daai joernalis gesê ek moet dit nog met my ma bespreek en sy mag dit nie skryf nie, maar toe staan dit Sondag in Rapport dat ek gaan waai.”

Die menseregte-aktivis en meningsvormer Rhoda Kadalie sê dit ferm maar nie boos of venynig nie. Sy praat soos iemand wat lankal weet hoe dinge mos maar werk. Maar in die loop van ons laat ontbyt word dit duidelik hoekom haar kop en hart Kalifornië se kant toe staan waar haar enigste dogter, Julia, pas ’n eersteling gehad het.

Rhoda is egter nog ’n wyle met albei voete en vuiste hier. Sy is tans gewikkel in ’n pennestryd met Amanda Gouws, professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Dié twee rubriekskrywers het slaags geraak nadat Gouws op 11 Maart vanjaar in Die Burger geskryf het “witwees” en wit bevoorregting behoort geproblematiseer te word en dat wit mense weer moet dink hoekom die Xhosa-popsangeres Simphiwe Dana gesê het swart mense voel onwelkom in Kaapstad.

Op die oggend van my en Rhoda se ontmoeting staan in Gouws se rubriek in Die Burger: “Rhoda Kadalie bring die grootste deel van haar lewe deur om ergerlik te voel en dan teiken sy mense op wie sy haar gramskap kan uithaal. Haar vorige rubriek, waarin sy my aanval, gaan oor ’n ‘nuwe rashiërargie’ wat bruin (en wit en Indiërs) uitsluit. Waaroor sy eintlik verontreg voel, is dat die nuwe swart elite nie haar struggle-credentials erken nie.”

Hierdeur is Rhoda nie beïndruk nie. “Al my politieke teenstanders interpreteer altyd my kritiek as die woorde van iemand wat, soos hulle, eintlik ’n posisie, mag of geld wil hê. Blykbaar is ek die enigste een wat vir demokrasie baklei het ter wille van demokrasie.

“Wit liberales en lefties – die mense wat ons kinders moet opvoed en behoort te veg vir ’n oop, vrydenkende samelewing – het die thought police van die nuwe Suid-Afrika geword. Dis een van die redes hoekom ek nie meer voel ek kan hier [in Suid-Afrika] bly nie. Mense soos Amanda personifieer daardie liberale, linkse wittes wat swart mense steeds as slagoffers wil sien. Wanneer sy sê jy moet afreken met jou witheid, reduseer sy die debat tot eenvoudige wit en swart teenpole. En ek baklei nie vir etniese groepgebondenheid nie, maar vir elkeen om erken te word as ’n burger uit eie reg. Die grondwet is vir my soos die Bybel, en volgens daardie Bybel is almal gelyk. Die Grondwet het op ’n manier met ons verlede afgereken. Dit het my en jou gelyk gemaak, en daarom kan ek nie hier oorkant jou sit en op jou skuldgevoelens speel nie. Op daardie manier kan ons nie vorentoe beweeg nie.”

En tog wil Rhoda, onder meer die uitvoerende direkteur van die Impumelelo Innovations Award Trust, nie die politieke arena betree nie. In ’n onlangse rubriek het sy gesê dit is omdat sy gesien het wat die politiek aan verskeie van haar vriende gedoen het. Hoewel sy toegee politieke deelname is een van die enigste maniere om die samelewing te verander, het sy nog nie van plan verander nie.

“Ek is lojaal aan beginsels, nie ’n party nie. En as jy die politieke spel wil speel, moet jy aan ’n party trou sweer. Ek is eenvoudig nie bereid om my bek te hou as ek nie met die party saamstem nie. Rykdom interesseer my ook nie, en in dié land raak mense in die politiek betrokke vir geld. In die openbare sektor verdien mense 40% meer as in die privaat sektor. Maar ek lees liewer as om materiële goed op te gaar. Dié mense wat so graag goeters wil hê, lees nie.”

Rhoda se uitgesprokenheid het haar nie juis alomgeliefd gemaak nie. Gouws is een van vele wat haar as ’n los kanon bestempel het. Sy is ook al vir ’n bitterbek en ’n ongeleide missiel uitgekryt, maar dit pla haar nie.

“As ek ’n los kanon is, is Amanda nie eens ’n kanon nie. Haar probleem, soos verskeie van my ander kritici s’n, is dat hulle nog slagoffers van apartheid is. Apartheid het ’n etiket om mense se nek gehang as hulle daardie persoon se argumente wou onskadelik stel. Om deesdae ’n rassis genoem te word, is ’n kompliment. As jy kritiseer en jy’s wit, is jy ’n rassis. As jy swart is en kritiseer, is jy ’n verraaier. Ek’s trots daarop om as los kanon bekend te staan.”

Pla dit haar nie as wit rassiste goedkeurend onder haar rubrieke op die internet kommentaar lewer nie? “Ek steur my hoegenaamd nie daaraan nie. Ek probeer nie om enige rassiste of dwepers te behaag nie. Ek probeer die waarheid praat.”

In die inleiding van Rhoda se rubriekbundel In Your Face – Passionate Conversations about People and Politics (2009), wat meestal draai om die Mbeki-era, het sy geskryf sy hoop op iets beters ná die 2009-verkiesing. Dié hoop het intussen beskaam.

“Wat my die meeste ontstel, is hoe Mbeki Zuma geskep het. En wat Mbeki begin het, is Zuma besig om te vervolmaak. Dis nou die era van die nasionale demokratiese revolusie. In 1994 het ons 70 000 kommersiële boere gehad. Ons het nou 30 000. Die nasionalisering van myne, en die vooruitsig van grondhervorming wat op niks anders as grondbesettings uitloop nie, is kwessies wat mense met rede bang maak. En onder sowel Mbeki as Zuma is jeugliga-monsters soos Malema geskep wat die ANC nie meer kan beheer nie. Die ANC is nou meer gemoeid met sy interne magstruweling as met die ontwikkeling van die land. Dan’s daar nog liberale wittes wat sê Malema verteenwoordig die werklose jeug. Dis ’n klap in die gesig van armes. Al wat hy verteenwoordig, is korrupsie.

“Nou die aand op die simpel e.tv-nuus was daar nege minute oor Malema – ek het op my horlosie gekyk – terwyl daar net ’n halwe minuut aan al die sterftes op ons paaie oor Paasfees gewy is. Hoe kan dit wees dat ons almal ons tyd moet mors met ’n onopgevoede idioot wat ryk geword het deur tenderbedrog! Ons media het gehelp om hierdie monster te skep, maar daar word eenvoudig nie geregeer nie. Zuma doen presies wat Mbeki gedoen het – hy span die intelligensiediens en die polisie in om vir hom te spioeneer. Noudat almal weet Zuma gaan nie lank aan die mag bly nie, word die geldkoffers met nuwe ywer leeg gesteel.

“Wat my die meeste ontstel, is dat die mense wat só deur hierdie regering ingeloop word, blykbaar vir hom gaan aanhou stem tot in ewigheid. ’n Beleggingsbankier het nou die dag vir my gesê: ‘Gaan, Rhoda, waai! Dit gaan hierdie land 50 jaar kos om reg te kom.’ Dis wat ek van die Amerikaners hou. Hulle sal Obama uitstem as hy hulle teleurstel. Dis hoe dit moet wees. Jy moet politieke partye op hul senuwees hou, maar hier voel politici hulle is geregtig op jou stem en lojaliteit. Ons is die probleem. Ons laat die regering met moord wegkom, want ons roep hulle nie tot verantwoording nie.”

In die Hemelhuijs, waar die lekkerlooproete van Buitengracht na die Kaapstad-stadion begin, besef ek ons het Rhoda reeds verloor.

“Ek voel ek het hierdie samelewing oorleef. Ek kan dit nie meer verduur hoe ons weier om goed te wees terwyl ons daartoe in staat is nie. Ons kan ’n wêreldklas-stadion binne twee jaar oprig, maar ons kan nie huise en toilette bou of ons katastrofale onderwysstelsel regruk nie. Dit laat my vertwyfel.

“Ek sê jou, ek is siek en sat daarvoor om hierdie nuwe demokrasie te probeer geniet. Want blykbaar mag jy nie. Alles is gepolitiseer.”

Plaas jou hoop nie in helde nie

Wie is Rhoda Kadalie se politieke helde?

Sy sê: “Die les is om geen politieke helde te hê nie. Ek dink steeds Mandela was merkwaardig, maar hy’s nie my held nie.

As predikantsdogter het ek vroeg geleer mense stel jou teleur. Plaas jou vertroue in die Here.

My held is my pa, want my pa was ’n selfverloënende, goeie mens. Alles wat hy gehad het, het hy weggegee.

Op sy stil manier het hy sopkombuise gereël en brood by bakkerye ingesamel om onder die armes uit te deel. Hy het met die klein bietjie erfgeld wat hy gekry het, ’n crèche in Khayelitsha gebou vir 250 kinders en daarmee werk geskep vir 23 mense. En hy was daagliks daar.

“Sy naam was Fenner Christian Kadalie. Hy is genoem na sir Fenner Brockway, ’n parlementslid vir die Arbeidersparty in Engeland wat gewerk het saam met my oupa Clements Kadalie, een van die eerste swart vakbondleiers in Suid-Afrika.

“My pa was ’n pastoor by die Cape Town City Mission wat onder die armes van Distrik Ses begin is. Ons het oor 10 jaar gesien hoe onse gemeente uit Distrik Ses gesit is. En toe’t my pa sy mense gevolg en kerke gestig in Hanover Park, Bonteheuwel, Manenberg en Heideveld. Só het hy stil-stil ’n legende geword.

“Sy begrafnisdiens is verlede jaar in die Kaapse stadsaal gehou en daai saal was stampvol. My pa gaan vanjaar die Orde van die Baobab ontvang.”

Hierdie onderhoud verskyn in vandag se By.

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

One thought on “Noem my eerder ’n ‘loose cannon’ as ’n ‘leftie’

  1. Merkwaardig die Rhoda Kadalie se pa. Lyk my die appel het nie ver van die boom geval.
    Wat se erfenis laat elkeen van ons aan ons kinders en die nageslag ?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s