Is dit nierassigheid – of juis nie?

Beeld se Jan-Jan Joubert kyk na die gevare van ‘n rasgegronde fiksasie

Nuus met méning!
Klik op die advertensies

Klik hier vir advertensietariewe – en vir wat mense oor OO sê

Volg OO op twitter: oudtshoorno en facebook: Drewan Baird

Oudtshoorn. 10 Maart 2012. 14h00. Daar was die laaste tyd die gerug dat Helen Zille wil hê die hoogs gerespekteerde dr. Mamphela Ramphele, gewese rektor en visekanselier van die Universiteit van Kaapstad en ’n voormalige besturende direkteur van die Wêreldbank, moet haar as DA-leier opvolg.

Die nut van dié grootliks onsinnige Ramphele-episode is dat dit ’n ongemaklike kwessie belig het waarmee die DA toenemend worstel, wat tans bedenklik gehanteer word en wat potensieel die party kan en sal doodmaak as taai maar nodige beginselbesluite nie geneem en streng toegepas word nie.

Ter sprake is die hantering van ras, spesifiek in leiers- verkiesings.

Daar is by sommiges buite en binne die DA die rasgegronde fiksasie dat swart leiers binne die party aantoonbaar verkies moet word sodat die party nuwe (dit is kodetaal vir swart; die selfs erger gru-term “nie- tradisionele” word ook gebruik) kiesers kan bereik, ondervang deur ’n bykans evangelistiese ywer dat die land verlos moet word van ANC-heerskappy, blykbaar tot elke prys.
In hierdie geval blyk die prys potensieel die beginsel van nierassigheid te wees, want ontdaan van vernis setel hierdie fiksasie op die aantoonbare bevordering van swart leiers op die oortuiging dat mense, spesifiek swart mense, stem vir leiers wat soos hulle lyk en klink.

Primitief? Ja. Nasionalisties? Bepaald. Intellektueel deprimerend en lui? Jy weet dit. Beperkend en visieloos? Sekerlik. Afbrekend en verdelend binne die party? Uiteraard. Aanwesig in die DA? Ongelukkig. Bepalend vir die party se aard? Gelukkig nie tans nie, maar dan moet dit stopgesit word.

Waarin setel hierdie fiksasie, en hoekom is soveel mense daarvoor vatbaar ?

Om te ontken dat ras ’n groot en dikwels bepalende rol speel in Suid-Afrikaanse kiesersgedrag is kennelik werklikheidsvreemd. Drie eeue van strukturele rasgegronde verdrukking het ras en klas in Suid-Afrika grootliks laat oorvleuel. Jou ras het, op uitskieter-voorbeelde na, jou inkomste, toekomsmoontlikhede en lewenslot bepaal. Dit was die kern van segregasie, apartheid, afsonderlike ontwikkeling en die ander woordspel-mutasies van daardie beleid.

Dat baie Suid-Afrikaners as gevolg hiervan dus steeds hul politieke leiers kies op grond van ras, is onteenseglik waar. Die vraag is hoe die DA dit moet hanteer.

Is sulke rasgegronde voorkeure nastrewenswaardig, of is dit ’n probleem? Is dit ’n noodwendigheid waarby aangepas moet word, of moet dit beveg en verander word?

Wat sê dit van die DA se hede en toekoms as rasgegronde leiersverkiesings deel word van die party, en wat is die DA se toekoms as die partylede verkies dat dit nie deel word van die party nie?

Hierdie vrae is fundamenteel en bevat moeilike en soms teenstrydige keuses. Dit is harde keuses, want dit vereis die opweeg van moraliteit en pragmatisme, verstoktheid en slapheid, allerlei klaarblyklike teenstrydighede wat in die praktyk vermeng moet en kan word, hier en nou, met groot gevolge vir die toekoms.

Myns insiens dui die ras- fiksasie op ’n magsfiksasie.

Niemand kan stry dat die DA se oorwinnings in Kaapstad, Wes-Kaapland en ’n groeiende getal munisipaliteite landwyd die party in staat gestel het om te bewys hy kan beter en skoner as die ANC regeer nie.

Baie mense sou redeneer politiek gaan om mag, en jy kan die beste stel politieke beginsels in die wêreld hê, maar sonder mag beteken dit niks.

Daar kan waarheid in steek, maar ek meen nog altyd dit word getroef as jy die stelling omkeer.
Jy kan al die mag in die wêreld hê, maar sonder die beste stel politieke beginsels beteken dit niks nie, is dit dolleeg.

Die DA en sy voorganger- partye het hulself altyd vir groter nierassigheid beywer. Dit is ’n trotse en deurlopende beginsel van 1959, en veral sedert 1978, toe nierassige eiendomskwalifikasies as voorvereiste vir stemreg uit die partybeleid verdwyn het.

’n Mens sou kon sê nierassigheid is ’n kernwaarde van die liberale ideaal, hoewel die liberale ideaal meer omvattende doelstellings as nierassigheid het.

Om nierassigheid te versaak, is om die liberale ideaal te versaak. Dan sit jy met ’n heelwat leër dop.

Sê ’n mens dit in ’n gesprek met ’n DA-voorstander van die klem op ras, raak die persoon effe verleë en kom die verduideliking dat dit jammer maar nodig is om swart stemme te wen.

Dit herinner op ’n manier aan die groot 19de-eeuse fout waarvoor die NG Kerk vandag nog die prys betaal, naamlik om op grond van ras onderskeid te tref. Al het die kerkleiers geweet dit is eintlik verkeerd, het hulle ingestem tot onderskeid tussen rasse weens “die swakheid van sommige”.

Die DA kan nie dieselfde fout bekostig nie. Hy moet hom afvra wie hy is, en daarvolgens optree. As hy die party van nierassigheid en ’n oop geleentheid- samelewing is, moet hy dit eerlik uitleef. As hy ’n party wil word waar ras ’n plafon plaas op mense se ideale, moet hy dit openlik sê.

As dit waar is dat die meeste Suid-Afrikaanse kiesers hul leiers volgens ras kies, moet die DA dalk maar sê daardie kiesers hoort nie by die DA nie. As beginsel met kiesersvoorkeur bots, moet ’n mens maar beginselvas bly, soos Helen Suzman gedoen het.

Wanneer die Pandorakis van ’n rasse-hiërargie in leiers- verkiesings eenmaal oop is, kry jy dit nie toe nie. Dit relativeer die sukses van elke swart lid, en dit beperk die sukses van elke wit lid.
Lindiwe Mazibuko het nooit ras gebruik in haar veldtog om die parlementêre leierskap nie. Sy het gewen omdat sy duidelik die beste kandidaat was.

Moet Senzo Mchunu in KwaZulu-Natal, Andrew Louw in die Noord-Kaap en ’n hele rits jeugleiers, van wie Mbali Ntuli en Amanda Ngwenya dalk die indrukwekkendste is, werklik in hierdie stadium aan hul ras gemeet word eerder as aan hul bewese vaardigheid? Dit is deprimerend.

Mense wat op grond van hul ras bevorder word, sal altyd op grond van hul ras bevoordeel wil word, want dit is die grondslag van hul sukses. Wat jy nou saai, sal jy later maai.

Rasgerigtheid is nie tans die bepalende kenmerk van die DA nie. Dit is ’n flirtasie gegrond op ’n magsfiksasie, maar beginsels is moeilik om te vestig en maklik om te versaak.

Om nierassigheid te versaak sny tot aan die DA se kernbeginsels en ondermyn al sy leiers, nou en in die toekoms: bruin, wit en (veral) swart.

Jan-Jan Joubert is politieke redakteur van Beeld. Hierdie artikel het vandag in By verskyn.

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn

Klik hier om op OO te adverteer

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s