‘n Ope Brief aan OO se lesers

Oudtshoorn
17 Maart 2009

Geagte leser

Ek bedryf OudtshoornOnline as ‘n kuberkoerant vir ‘n bepaalde teikenmark met winsbejag.

Niemand, en geen organisasie of maatskappy, borg die blog nie. Adverteerders betaal ‘n fooi vir blootstelling. Adverteerders onderskryf nie die inhoud of die aanslag van OudtshoornOnline nie. Adverteerders wil blootstelling hê en betaal ‘n ooreengekome prys daarvoor.

Die media in die 21ste eeu – veral in die verblindende lig van intydse inligting op die Internet – moet die fyn balans tussen die publiek se reg tot inligting en die individu se reg tot privaatheid omsigtig bestuur.

Die sekskapades van sangsterre en oud-rugbyspelers word aan die groot klok gehang meestal omdat dit mense die geleentheid gee om verontwaardig te verklaar: “Ek is darem nie só nie!”

Maar dit kan mos nou net die mees armsaliges wees wat ‘n sanger of ‘n rugbyspeler as rolmodel voorhou!

Luister na Pampoene op die dak – dit bly ‘n lekker liedjie – en neem kennis van wat Joost, of hý nou die videostêr is of nie, oor die samestelling van ‘n rugbyspan sê – want hy weet waarvan hy praat… en basta!

(Hier’s ‘n nota: Kalibreer jou morele kompas dalk éders.)

Laat Jacob Zuma rondslaap as hy wil. Jy hoef nie saam te stem nie. Jy hoef die lewensstyl nie goed te keur nie. Ek stel in elk geval nie juis belang nie.

Maar ek wil weet of Zuma gekook het in die wapenaankoopkontrakte. As daar ongerymdhede is wat geld in sy sak gesit het wat huise kon bou en armoede kon verlig en beter gesondheidsdienste en polisiedienste kon verseker het, kan hy nie president wees nie. Maar sy persoonlike sake is sý saak. Níks met ons uit te waai nie.

Ditto vir die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi. As hy homself verryk het aan boewery kan hy nie polisiekommissaris wees nie. Maar wat hy in sy binnekamer doen is sý saak. Níks met ons uit te waai nie.

En wat die voormalige munisipale bestuurder, dominee Noël Pietersen, betref… Oudtshoorn wil weet – wóú weet; móés weet – van sy wanbestuur.

As dit die gemeenskap aangaan, moet dit blootgelê word. As dit persoonlik is, soek die balk in eie oog.

Ek meen kritiek mag nooit weerhou word uit vrees vir kerende kritiek nie. Al is die kerende kritiek geldig. Ons durf nie vuil hande verskans met eie vuil hande nie.

Hierdie wedersydse ek-durf-nie-praat-nie-want-dalk-kan-ek-ook-siepsop-kry politiekery van halwe waarhede en blatante leuens wat in goedkoop aandpakke as waarheid opgetooi word moet einde kry!

Terloops, in die lig van huidige onthullings wonder ek oor die ondersteuning wat Pietersen in Oktober 2007 uit sakegeledere gekry het.

My hande was al diep in die modder. Ek het gewas. Maar ek moet gereeld was omdat modder al harder gegooi word hoe verder ek van die moddergat af weggaan. Dan was ek maar weer.

Raai, nie alles is soos dit voorgestel word nie – en daar is inderdaad ‘n ander kant aan die meeste stories.

Maar ek het inderdaad al stommiteite gepleeg… en het duur betaal daarvoor; my skuld aan die gemeenskap betaal; betaal steeds en somtyds duurder vir die erkenning van my wandade.

Miskien kan dieselfde van mense verwag word wat Oudtshoorn wanbestuur?

Die media se onthulling van Steve Hofmeyr en Joost van der Westhuizen se bewese en beweerde sekskapades stu verkope aan armsaliges wat met opgevryfde toegeëiende regverdigheid kan uitroep: óns is darem nie só nie!

Wie ook al so arm van gees is om ‘n sanger of ‘n oud-rugbyspeler of ‘n sepiesterretjie as rolmodel te koester het kennelik reeds sy morele tentjie op die rand van ‘n vulkaan opgeslaan. Die morele kompas moet elders gekalibreer word.

Ontneem die maatstaf van perfeksie ons nie dalk van insig en ondervinding van mense wat die donker dieptes ervaar het en teen die seepgladde steilte van herstel uitgesukkel het om tussen witgepleisterde grafte regop te kom en die minagtende oë van die teflonmenigtes in die verblindende lig van agterdog en vooroordeel op die wonde en letsels van hulle blootgelegte lewens te voel brand nie?

Vra mý. Ek weet.

Die evangeliese standaard is dít: wie begeer het gedoen.

Die balk in eie oog verblind tot nadeel van baie.

Van wáár die standaard van perfeksie?

Ghandi was ‘n opperste rassis wat sy seksuele begeertes met minderjarige meisies beproef het.

Moeder Theresa het miljoene, ook uit die kriminele bronne van die Duvaliers van Haïti en Charles Keating van Lincoln Savings and Loans, geïn maar nooit rekenskap gegee nie. Haar sorgfasiliteite by haar dood was net so primitief as aan die begin van haar bediening. Sy het Kolkatta in ‘n staat van verslawende armoede en onbestuurbare oorbevolking gelaat na jare se nalatige bestuur op die gesag van ‘n onfeilbare Pous wat geboortebeperking in gehoorsaamheid aan God geminag het. Sy was ‘n bondgenoot van die mees reaksionêre faksies in Indië en elders.

Die Dalai Lama is die hoof van ‘n elitistiese priesterorde wat Tibet voor die Chinese inval in 1959 met ‘n brutale ysterhand regeer het en waar marteling en verminking aan die orde van die dag was.

Die Pous het onlangs bevestig dat om ‘n nagmaalbroodjie uit te spoeg ‘n groter wandaad is as om ‘n kind te verkrag. (Werklik! Ek suig dit nie uit my duim nie.)

Oor my sogenaamde anti-godsdienstige en “godslaslerlike” aanslag stel ek dit nou hier vir eens en vir altyd duidelik: Ek ken die Bybel beter as die meeste mense. Ek het baie meer respek vir die Bybel as die meeste mense. Ek misbruik die Bybel nie om ‘n persoonlike of idiologiese agenda te handhaaf nie.

Wat deesdae as godsdiens beoefen word is male sonder tal niks anders nie as ‘n manipulasie van die menigte vir bepaalde gewin:

Jacob Zuma by die Rhema-kerk; ‘n dominee as premierskandidaat;’n priester as presidensiële kandidaat. Ek minag dié “godsdiens”! En jý, belydende Christen?

Vyf teoloë het onlangs verklaar het dat die “Heilige Gees” ‘n oomblik van waarheid op hulle harte gelê het en dat hulle derhalwe besef het dat Apartheid sonde is. Hierdie “oomblik van waarheid” het – vreemd genoeg – binne enkele dae plaasgevind nadat die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke die afswering van Apartheid as voorwaarde vir lidmaatskap gestel het. Ek minag dié “godsdiens”; dié manipulasie van wat veronderstel is om heilig te wees! En jý, belydende Christen?

In Januarie vanjaar berig Die Burger oor ‘n “wonderwerk” toe ‘n petrolbom wat in die Gereformeerde Kerk Pretoria-Noord gegooi is nie ontplof het nie.

“Die genade en die bestierende hand van die Here het die vlam geblus,” jubbel ds. Pieter van Wyk van dié kerk.

Maar twee dae vroeër stort die dak van die gewilde Reborn in Christ kerk in Sao Paulo in duie en nege mense sterf – ook ‘n 15 jarige meisie. Honderd en dertien mense is beseer.

Pasop om God te betrek: as jy “God” prys vir die “wonderwerk” in Pretoria, dan moet jy “God” noodwendig blameer vir die tragedie in Sao Paulo. Ek minag dié “godsdiens”; dié poging tot manipulasie van God! En jý, belydende Christen?

Mý kritiek op dié “godsdiens” is mateloos meer eerbaar as die manipulerende gedweep wat as godsdiens opgedis word.

Wanneer minister Trevor Manuel ‘n werkersorganisasie toespreek oor die ANC se ekonomiese beleid, luister ek nie eens nie. Want die minister praat nie met my nie. Wanneer Manuel met die sakekamer praat luister ek. Want dan praat hy met my.

Ek praat hoogs waarskynlik nie met jóú as ek geestelike manipulasie kritiseer nie. Moenie luister nie. Behalwe as jy jou eie verdagte weergawe van die evangelie daarin herken…

Jy kan OudtshoornOnline lees. Of nie. Elke e-pos wat jy ontvang om nuwe berigte aan te kondig het ‘n balkie onderaan: “Klik hier as jy nie ‘n epos wil ontvang wanneer nuwe berigte verskyn nie.” Klik daarop as jy OudtshoornOnline nie wil ontvang nie.

Ek sal nie stilbly omdat my kommentaar my kan blootstel nie. Ek sê wat ek dink. Reguit.

Drewan Baird

6 thoughts on “‘n Ope Brief aan OO se lesers

  1. Alweer ‘n ietsie van “Jak”…

    Ek het jou probeer e-pos, “Jak”, maar, soos ek verwag het was daar ‘n foutboodskap – “delivery failed permanently”.

    Soveel vir openhartigheid.

    Red.

  2. Malonowa

    Dankie!

    En dís presies wat OO wil bereik: Dat individue vir hulleself sal dink en met die “insig” – na watter kant toe ook al – sal maak soos húlle wil.

    Red.

  3. Ek lees omtrent elke berig wat in OO verskyn. Dit is vir my insiggewend – wat ek met die “insig” maak is my keuse. Ek was nog nooit “offended” deur enige iets wat ek gelees het nie. Inteendeel, ek stem meestal heelhartig daarmee saam.

    “Doe zo voort OO”

  4. In ‘n skreiende persoonlike aanval skryf ene “Jak”:

    Dit gaan nie net daaroor of mens OO lees of nie. Dit gaan oor baie méér. Veel meer. Kom ons begin sommer deur te kyk of jy die moed sal hê om die brief te plaas…

    Jy voer aan jy sê wat jy dink. Reguit nogal. Mooi. Gaan jy ander dan ook toelaat of sê wat húlle dink. Reguit? Of nie?

    Die aantygings is erg en ongetoets. Miskien kan “Jak” dankbaar wees dat OO verantwoordelik genoeg is om hom teen homself te beskerm. En om sy spelfoute reg te gemaak het.

    “Jak”, jy kan verseker weet dat die volle mag van die reg opgeroep sal word indien jy met jou dreigemente voortgaan.

    Oor reguit praat… Natúúrlik gaan OO dit toelaat. In ‘n berig oor die DA se regrukplan vandag word die ANC volledig en verbatim aangehaal oor die raadsbesluit om mnr MC Botha te vra om as munisipale bestuurder waar te neem.

    Wat OO nie sal publiseer nie, is persoonlike moddergooiery wat niks te make het met die verklaarde missie van OO nie: Om inwoners van Oudtshoorn genoeg inligting te gee om ingeligte menings oor die betroubaarheid, doelgerigtheid en doeltreffendheid van die dorpsregering en –administrasie te vorm.

    Miskien moet jy jou probleme maar met geestesgesondheids- en regskenners gaan bepraat, “Jak”.

    Red.

  5. Drewan

    Jou aanhaling “Ontneem die maatstaf van perfeksie ons nie dalk van insig en ondervinding van mense wat die donker dieptes ervaar het en teen die seepgladde steilte van herstel uitgesukkel het om tussen witgepleisterde grafte regop te kom en die minagtende oë van die teflonmenigtes in die verblindende lig van agterdog en vooroordeel op die wonde en letsels van hulle blootgelegte lewens te voel brand nie?” is in Oudtshoorn veral in die kol.

    Vra mý. Ek was onlangs…

    Chris, ek het jou brief verkort omdat ek meen dat ons die beginsel moet uitlig en nie die details nie. Ek hoop jy het begrip hiervoor. Red.

  6. Drewan

    You don’t know me, but I know much of this entire episode intimately. More intimately than you might suspect or know.

    You’ve handled it well, sir.

    Speaking as a retired media man, I say that you have handled it well.

    We need fearlessness.

    Head up high. Go for it.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s