Die DA se rekord op Oudtshoorn
Hier is die onweerlegbare féite – oordeel self
Nuus met méning!
Klik op die advertensies
Klik hier vir advertensietariewe – en vir wat mense oor OO sê
Drewan Baird. Oudtshoorn. 22 Augustus 2011. 06h00. In die 2011-verkiesing neem ‘n groep sakemanne die verantwoordelikheid op om die DA te bevorder. Saam met uitgesoekte kandidate vorm hulle die verkiesingskomitee wat meer as R100,000 onder meer as 150 mense insamel.
Tydens registrasie word verneem dat honderde polisie- en infanterie-rekrute wederregtelik in wyk 1 geregistreer is. Ek en Nic Barrow, voorsitter van die Oudtshoorn Belastingbetalersvereniging, neem die saak op versoek van die verkiesingskomitee op en betrek DA-leiers soos Athol Trollip en Mike Moriarty nadat die verkiesingskomitee se voorleggings aan die party op niks uitgeloop het nie.
Die DA het volgens Trollip en Moriarty baie hard probeer om Oudtshoorn te help, maar helaas…dít nadat kenners soos Pierre de Vos en Marinus Wiechers en Johan Kriegler en Catharine Keene en die FW de Klerk-Stigting en senior joernaliste, waaronder Ivor Powell, die protes teen die registrasies gesteun het. Die 23 (!) stemme wat die DA nodig gehad het om Oudtshoorn te kon regeer is hier, in wyk 1, deur die onbetrokkenheid van DA-leiers verspil.
In die laaste dae voor die verkiesing spook die komitee-tesourier om beloofde geld uit die DA te kry; en om T-hempies wat beloof is te ontvang. Hy ry Kaapstad toe en word van Pontius na Pilatus gestuur voordat hy na middernag uiteindelik die T-hempies kry. Dis ‘n dag voor die verkiesing. Die geld word eers ná verkiesingsdag oorbetaal. Die DA-leierskap se onvermoë om betrokke te wees in elke wyk kan nog verstaan word, maar die leierskap se afsydige onverskilligheid jeens Oudtshoorn is onverskoonbaar.
Theuns Botha, die Wes-Kaapse DA-leier, is die enigste DA-leier wat, onder moeilike omstandighede, ‘n vergadering op Oudtshoorn kom toespreek het – in Bongolethu, waar die DA in elk geval geen kans gestaan het nie, maar vir die eerste maal óóit ‘n meerderheid in een van die stemlokale vermag het!
Oor die verkiesingsuitslag kan die DA allermíns kla – die DA staan in 2011 mateloos sterker op Oudtshoorn as voorheen.
Die skuld vir Oudtshoorn se huidige dilemma kan aan enigiemand anders toegeskryf word as aan die kiesers van Oudtshoorn nie.
Die kader wat die verkiesing bedryf het kruip nie agter verskonings weg nie en aanvaar sy verantwoordelikheid.
Daar is hard baklei en ‘n uitmuntende resultaat verkry.
En nou… die DA het die verkiesing nié verloor nie; nes die ANC die verkiesing nie gewén het nie. ‘n Verkiesing word nie verloor as opposisiepartye se vermoë om koalisies te bestuur beter is as die vermoë van die party wat die meeste stemme op hom verenig het nie. Onder sulke omstandighede is die onvermoë om te kan regeer ‘n funksie van die party-leiers se onvermoë en onwilligheid om doelmatige politieke alliansies te bedryf.
In ‘n veelparty-omgewing is dit verregaande dat ‘n verantwoordelike politieke party die arrogansie sal hê om slegs te regeer waar dit ‘n volstrekte meerderheid het.
Op Oudtshoorn het 8! partye (75 kandidate) aan die verkiesing deelgeneem. Alle verantwoordelike kommentators het reeds voor die verkiesing besef dat geen volstrekte meerderheid moontlik sou wees nie.
Daarom verskuif die verantwoordelikheid om te kan regeer na die party-leiers se gewilligheid en kundigheid om politiek doelgerig en doeltreffend te bedryf in die omgewing wat ís, en skuif die verantwoordelikheid weg van die kiesers wat die DA die meerderheid stemme op Oudtshoorn gegee het.
Die DA het net eenvoudig nie die moed om ‘n koalisie, wat per definisie omstrede en moeilik bestuurbaar is, te bestuur nie. Die DA hou beginsels en geskiedenis voor om sy plig aan die meerderheid kiesers op Oudtshoorn nie na te kom nie.
Dít is onverskoonbaar, laakbaar, onverstaanbaar, verraderlik, gemeen, bedrieglik en lafhartig. Dit dien die DA-leierskap se agenda; dit spreek nié die eiesoortige omstandighede op Oudtshoorn aan nie.
(Laat ek by wyse van ‘n analogie verduidelik: Checkers, sê, gaan nie presies dieselfde produkte in sy Houghton-winkel aanhou as in sy Gugulethu-winkel nie… Consumer Behaviour 101.)
Die DA het nie ‘n volstrekte meerderheid op Oudtshoorn gekry nie omdat die DA-produk nie aansien op Oudtshoorn hét nie: Mense op Oudtshoorn in wyke 1, 2, 3 en 7 stem kiesers amper outomaties DA – onder andere om die ANC uit die kussings te hou. In die ander 9 wyke deel kiesers nie noodwendig hierdie sentiment nie en moet daar hard gewerk word om hulle stemme te verseker. In die DA se grootse marge-wyke, 2 en 3, kan daar, by wyse van spreke, ‘n blou T-hemp verkies word… as ‘n blou T-hemp betyds uit die Kaap bekóm kan word.
Die DA se behandeling van die OD-raadslede, en dit volg ook die DA se behandeling van OD-kiesers en -ondersteuners en bruin mense in die algemeen, tydens die sg “koalisie” tussen Augustus 2007 en Augustus 2010, het bruin mense op Oudtshoorn in lorrievragte van die DA vervreem.
Die OD-ondersteuners het grootliks na die ANC teruggekeer. Die OD het 5,500 stemme op hom verenig in 2006 en 4,300 in 2009. In 2011 het die DA slegs 25% van die OD-stemme behou en 73% is terug ANC toe, met 2% wat Icosa, tradisioneel sterk in Oudtshoorn, ondersteun het. Hierdie verdeling is grootliks ‘n funksie van voormalige OD-kiesers se weersin in die DA se bestuur van die koalisie.
Diane de Jager en James Swigelaar se weiering om by die oorspronklike koalisie-ooreenkoms met die OD te hou, en die politieke dronkbestuur van Jac Bekker, was die direkte oorsaak van April, Harmse en Billy se verraad op 3 Augustus verlede jaar. Dié verraderlikheid was op sy beurt die impetus vir Swigelaar, May en Biljohn om ook húlle bande – onder ondraagbare druk van hulle kiesers! – met die DA te breek.
Die DA-leierskap was terdeë bewus van hierdie wanbestuur en het gekies om die probleem te ignoreer. Selfs die James-verslag (Junie 2010, essensieël oor die stand van die DA-koukus se bestuursbevoegdheid) se aanbevelings is geïgnoreer. Oudtshoorn se DA-lede was die party so ter wille dat selfs hierdie absolute bewys van die DA se onverkilligheid jeens Oudtshoorn maar geredelik aanvaar is!
Ek heg ‘n bylaag aan wat die De Jager-regering uitwys vir wat dit was – ‘n verslag wat die DA-leierskap al male sonder tal onder oë gehad het en wat op OO gepubliseer is en wat deur al die party-leiers “wat OO nie lees nie” gelees is.
Die DA-leierskap het níks gedoen om sy bemarkingspan op Oudtshoorn ‘n produk te gee wat aandag trek nie en hou nou die bemarkers verantwoordelik dat die verbruikers die produk verwerp het en in baie gevalle slegs gekoop het om die teenkant se produk darem te probeer troef!
Die DA verdien nie Oudtshoorn se steun nie.
Maar hoe dit ook al sy, die DA het beslis nie meer mý steun nie.
Oudtshoorn se huidige krisis – dalk die dorp se gróótste krisis óóit – het ‘n lang aanloop…
Binne die eerste week van Noël Pietersen se aanstelling op 13 Augustus 2007 word ernstige aantygings van wangedrag in beide sy private en openbare lewe gemaak en wyd in die media berig. Die inligting kom van ‘n DA verteenwoordiger in die Ukhahlamba Distriksmunisipaliteit wat Pietersen se kontrak nie by die verval daarvan hernu het nie.
Terwyl die raad op 25 September 2007 onder ‘n DA burgemeester geherkonstitueer word nadat administrasie op 18 September opgehef is, woed die gerugte en die feite buite beheer voort en kom die DA onder massiewe burgerlike druk om Pietersen se PBK, wat sy aanstelling sou bekragtig, nie te onderteken nie.
Die DA-geleide alliansie besluit uiteindelik in koukus dat die burgemeester die PBK nie sal onderteken voordat die hoëvlak samesprekings oor Pietersen se aanstelling en die oorweging van ‘n tersaaklike verslag uit die Oos-Kaap oor die naweek van 24 en 25 November afgehandel is nie.
Hierdie besluit volg op voorleggings van die destydse Eden DA-koördineerder, Jac Bekker, aan die DA-leierskap, wat op hulle beurt met die OD se nasionale leierskap beraadslaag het.
Op 5 November ontvang burgemeester De Jager ‘n brief van die destydse minister vir plaaslike bestuur Dyantyi om Pietersen se PBK teen 10 November te onderteken en teen 13 November aan die ministerie te verskaf. Die brief word deur De Jager vir Pietersen se aandag gemerk en hy maak ‘n nota daarop vir De Jager dat die PBK op 9 November onderteken moet word.
In opdrag van die koukus onderteken burgemeester De Jager nie die PBK op 9 November nie.
Op 12 November skryf Pietersen aan De Jager: “Hiermee doen ek ‘n navraag oor my getekende presastieooreenkoms (sic) aangesien dit onmiddelik voorsien moet word aan die Minister se kantoor soos vereis deur die Wet. Ek hoor dringend van u in hierdie verband.”
Die krisis bereik breekpunt tydens ‘n spesiale raadsvergadering op Donderdag, 22 November, toe Pietersen, sonder vooraf kennisgewing, die raad konfronteer oor sy status en beweer dat die aanklagte teen hom ‘n “gefabriseerde politieke sameswering” is.
Die speaker belê, op aandrang van verskeie raadslede, ‘n spesiale raadsvergadering vir die volgende dag om 08h00 om die posisie van die munisipale bestuurder te finaliseer.
Die komitee-besluit – dat Pietersen se PBK nie onderteken moet word nie – is tydens hierdie raadsvergadering gedebatteer, maar die DA-koukusleier het geen ondersteuning aan die burgemeester gebied nie en geen verklarings is aan die raad voorgelê om die DA se standpunt te onderskryf nie.
Raadslid Wilton Kawa van die ANC stel toe as volg voor (ek haal aan sonder redigering van die sintaksis en spelling):
1. Dat die Uitvoerende Burgemeester getaak word om die Prestasie Ooreenkoms van die Munisipale Bestuurder voor sluitingstyd (16h00) vandag, te teken.
2. Dat indien die Uitvoerende Burgemeester ingebreke sou bly om die prestasie ooreenkoms van die Munisipale Bestuurder te teken, sy van alle Uitvoerende magte soos bepaal deur die Munisipale asook die van alle bevoegdhede onthef word en sodanige bevoegdhede met onmiddelike effek aan die Uitvoerende Onder Burgemeester oorgedra word.
3. Dat die Uitvoerende Onder Burgemeester getaak word om die Prestasie Ooreenkoms van die Munisipale Bestuurder te teken, indien die Uitvoerende Burgemeester nie uitvoering gegee het aan die besluit soos aangedui in (1) hierbo.
Al 8 ANC-raadslede stem vir die mosie.
Al 6 OD-raadslede stem vir die mosie.
Albei NPP-raadslede stem vir die mosie.
En die DA?
Raadslid Biljohn is afwesig.
Raadslede Olivier en May (die kóúkusléier!) bly buite stemming.
Raadslede Stemmet en Swigelaar stem vír die mosie!
Slegs raadslede De Jager en Nel stem téén die mosie!
Biljohn, Olivier, May, Stemmet en Swigelaar se verraad is nooit gestraf nie!
Alhoewel Biljohn se afwesigheid, met verskoning, tegnies aanvaarbaar is, is dit polities onvergeeflik om ‘n krities belangrike raadsvergadering mis te loop.
Dat Olivier en May buite stemming gebly het getuig van politieke papbroekigheid.
Stemmet en Swigelaar was op 23 November 2007 bloot verraderlik.
Op 23 November lig die DA-takvoorsitter vir Wyk 2, mnr Derick Engelbrecht, vir Botha, Helen Zille, en Sidney Opperman (toe die DA-LP vir Oudtshoorn) oor die fiasko in… en die DA doen net mooi NíKS! Náda!
Die DA se tandlose hoofleiers ignoreer die takvoorsitter gewoon!
‘n Week later, op 29 November, skryf Engelbrecht aan Botha:
Ons verwys u na ons skrywe van 23 November 2007 wat ons per faks aan u gestuur het en waarop ons nog geen terugvoer van enige aard ontvang het nie. Ons as kiesers en lede van die DA betreur hierdie optrede.
Na afloop van ‘n week van stilte wil die Tak-bestuur van Wyk 2 weet watter dissiplinêre stappe geneem is teen die DA Raadslede wat verraad gepleeg het op 23 November 2007 tydens ‘n Spesiale Raadsvergadering waar weereens die party, die DA Burgemeester en die gemeenskap se belange geminag is. Die politieke situasie binne Oudtshoorn neem groot negatiewe afmetings aan en daar is groot gevaar daarin vir die DA. Tydens die besoek van Helen Zille aan Oudtshoorn op 18 Mei vanjaar was hierdie kritieke situasie aan haar oorgedra en tot hede het nog nie een van die DA leierkorps ‘n vergadering gehou om te red wat te redde is nie. Verder bly die onbetrokkenheid van die sittende LP vir hierdie kiesafdeling ‘n groot bron van kommer.
Ons vra weereens dringende optrede vanaf leierskap in belang van die DA en Oudtshoorn.
Die sittende LP waarna Engelbrecht verwys, Opperman, se enigste reaksie was ‘n brief van twee sinne – op ‘n parlementêre briefhoof nogal – aan Nic Barrow, oor Barrow se skrywe aan die plaaslike sakekamer waarin hy Olivier ‘n “politieke adder” noem. Opperman sê in die brief dat hierdie verwysing na sy kollega Olivier hom finaal laat besluit het dat hy nie enige verbintenis, op watter vlak ook al, met Barrow wil hê nie… en dat Barrow die gratis ontbyt vir 70 mense, wat Opperman vroeër aanvaar het, kan hou. Oor die DA-fiasko van 23 November en sy eie stilswye is Opperman egter andermaal tjóépstil.
Hierdie kinderagtige reaksie is wat ek gereeld van DA-leiers kry – dis al die onderwerp van bespotting in die groepe waarin ek op Oudtshoorn beweeg: “Drewan Baird is onbeskof met ons!”
Ag sjým!
Op 19 Desember daag Helen Zille op. Sy is, volgens DA-koukuslede met wie ek gepraat het, siedend kwaad.
In ‘n vergadering in Gottlandhuis in Baron van Reedestraat, vra Zille haar raadslede wat hulle sou gedoen het as hulle in haar plek gewees het.
Slegs Pierre Nel antwoord op Zille se toorn: Ontbind die DA op Oudtshoorn!
Nel se mede-raadslede meen dít is darem te erg! De Jager noem die voorstel “verregaande”.
Maar Zille sê dat dit ‘n aanvaarbare mening is.
Zille het sedert 18 Mei 2007 by verskeie geleenthede onderneem om in Oudtshoorn se regering in te gryp:
Op 18 Mei 2007, toe politieke leiers van die DA haar ingelig het oor die kritieke toestand van die DA op Oudtshoorn.
Op 19 Desember 2007, toe die ontbinding van die DA op Oudtshoorn voorgestel is.
Op 11 Desember 2008, toe OO haar na die DA se tussenverkiesingsukses gevra het: “I have been there personally on three occasions to try to sort things out. But something always recurs. It is very disappointing. The DA seems set to win the Western Cape Province in next year’s election and if we do, we may have to consider placing several municipalities (including Oudtshoorn) under administration unless things improve.”
Op 30 Januarie 2009, toe sy Oudtshoorn tydens die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die Suidoosterfees bestempel as “definitief nie ‘n suksesstorie van plaaslike regering nie”. Op ‘n vraag van die plaaslike prokureur Leon Coetzee, sê sy die DA sal oorweeg om rade soos Oudtshoorn onder administrasie te plaas indien die DA die bewind na die 2009-verkiesing in die Wes-Kaap oorneem.
Op 4 Februarie 2009, toe sy aan OO gesê het dat Oudtshoorn een van die DA se ernstige mislukkings (”serious failures“) is en dat “die Oudtshoorn raad homself nie onderskei het nie”. Zille het herhaal dat die plaaslike koalisie misluk het en dat sy Oudtshoorn sal regruk as die DA na die komende verkiesing die Wes-Kaap regeer.
Op 11 Februarie 2009, toe sy aan OO gesê het dat die kaliber van die DA se provinsiale kandidatelys haar oortuig dat die DA die Wes-Kaap in die komende verkiesing sal wen en dan die mag en die gewilligheid sal hê om bepaalde plaaslike regerings – soos Oudtshoorn – “reg te ruk”.
Op 19 Februarie 2009, toe haar Wes-Kaapse leier, Theuns Botha, verklaar het: “Ek het nou genoeg gehad!” en die DA se kiesafdelingshoof (nou minister van Landbou in die Wes-Kaap) mnr Gerrit van Rensburg aangestel het om Oudtshoorn se DA-besluite te monitor en, indien nodig, te veto.
In Junie 2010, toe sy die James-verslag oor die DA-aanstellings op Oudtshoorn begrawe het… toe sy gekiés het om níks aan DA-onbevoegdheid op Oudtshoorn te doen nie.
In April 2009 stem Oudtshoorn oorweldigend vir die DA en Zille betrek Leeuwenhof in die boomryke stadskom van Kaapstad.
Vreeslik baie goed loop daarna vreeslik verkeerd op Oudtshoorn, so tussen besoeke van Botha en Anton Bredell om die “rustelose plaaslike bevolking” te paai.
En toe daag Zille op 5 Oktober 2010 op Oudtshoorn op en dans en sing saam met haar politieke stiefsussie, Patricia de Lille, vir die mense van Dysselsdorp en Bridgton voordat die DA die volgende dag onder die skrikwekkende bestuur van haar plaaslike luitenante nerfaf in die stof van die townships byt.
Dít nadat De Lille ‘n paar weke vroeër vir my gesê het dat die mense op Dysselsdorp sal maak “soos ék sê”.
Klink bekend nè!
Byna soos Helen Zille, wat absoluut weier om haar koukus op Oudtshoorn die geleentheid te gee om in samewerking met die NPP, wat nie goed genoeg is vir haar maaiesteit (sic) nie, op eie verantwoordelikheid te regeer. “Die mense sal maak soos ék sê”!?
Die DA mors al lánkal met Oudtshoorn:
In 2007 beveel die DA – Theuns Botha sélf! – dat die koukus Jeffrey Swartbooi in die raad ondersteun ten einde die núwe koalisie met die OD in die Kaapse metro te stu. Dis ‘n laakbare opsie vir Oudtshoorn, maar die DA skors sy lede wat Oudtshoorn bo die party-belang stel.
Voor die tussenverkiesings verlede jaar op Dysselsdorp en Bridgton pleit plaaslike DA- en OD-leiers by die party om die OD in, veral, Dysselsdorp te laat staan, synde die DA/OD-koalisie jonk en, op Oudtshoorn, bróós is.
Die DA (wéér Zille!) weier volstrek en maak van Oudtshoorn ‘n proefkonyn om kiesers se reaksie op die samesmelting van die DA en die OD te toets. Oudtshoorn verloor andermaal omdat Oudtshoorn tweede viool moet speel terwyl die DA party-belang bó die belang van die kiesers van Oudtshoorn stel.
Op 18 Mei 2011 oorkom ‘n nuwe DA op Oudtshoorn die party se bedenklike plaaslike reputasie wonderbáárlik en verenig die meeste! stemme op die DA.
Die party-leiers reageer deur die rug selfs meer beslis op Oudtshoorn te draai… en die skuld vir die “nederlaag” (nie amptelik; dit sal nóóit erken word nie) voor OO se deur te lê. “Nederlaag”, nogals.
Dít is nie net verregaande nie, dis ‘n aanklag teen die DA-leierskap se intelligensie en oordeelsvermoë! Om nie te praat oor wat dit van die leierskap se verantwoordelikheidsin sê nie!
As ek die mag gehad het wat DA-leiers my van tyd tot tyd toedig om hulle politieke mislukkings te probeer verduidelik, was ek die president van Wonderland.
Uit die beker van Zille se sogenaamde leierskap het Oudtshoorn nog geen drúppel gedrink nie!
En Zille se weiering om Oudtshoorn toe te laat om die wense van die koukus uit te voer en ‘n bestuurbare samewerking met die NPP te onderneem, is die finále strooi!
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn














Die skrif vir die DA in ODN is al geruime tyd aan die muur.
Bogenoemde opsomming bevestig dit finaal !
Dis nou oor na sakelui en kiesers om op te staan en die leiding te neem. As Pierre Nel reeds geruime tyd voorgestel het op die ontbinding van die DA , is dit duidelik as ODN uit hierdie onbetrokke DA gemors wil verrys dat jul na betroubare ervare en eerlike ONAFHANKLIKE kandidate moet soek en agter die skerms beding.
Soos sake nou staan, tussen die DA, Pietersens en Mogales op ODN, tuur die afgrond nou meer as ooit vir ons in die gesig.
Dis ooglopend duidelik dat dinge vir meer as 4 jaar nie meer op ODN werk of ooit sal werk nie. Groot vraag, het ODN die moed en durf om self manalleen en onafhanklik op te staan om hul eie toekoms te bepaal ?
Tyd sal leer terwyl tyd vinnig uitloop, indien nie reeds al uitgeloop is nie. Dis duidelik dat die DA, Zille en enige “career politici” van watter aard ookal, dit NOOIT gaan regkry nie.
Sterkte !
Well that puts everything in perspective!!