OudtshoornOnline

DA stert tussen die bene in Eden

Posted in Politiek by Red/Ed on October 21, 2009

Eden:
DA onttrek aan koalisie;
DA Mayco-lede bedank
Speaker bedank;
Stander úit; Matthysen ín!

Klik op die advertensies

Drewan Baird. George. 22 Oktober 2009. 00h01. Dit het laas só rof gegaan in Eden toe daar wederregtelik ‘n appel geëet is…

Die DA-gesteunde burgemeester van Eden, Leon Dorfling, het gister die ultimatum wat die Wes-Kaapse DA-leier, Theuns Botha, verlede week aan hom gestel het geïgnoreer en geweier om Johan Koegelenberg en Emor Nel in hulle burgermeesterskomiteeposte (Mayco poste) te herstel.

Dorfling se windmaker 100-dae van die burgemeester volblad advertensie in gister se Die Burger het dit ingevryf.

Botha het gistemiddag na die verstryking van die ultimatum aan OO bevestig dat die DA in Eden aan die koalisie met beide die Eden-Forum (Dorfling se enkelingparty) en die OD onttrek. Die provinsiale koalisie van die DA en die OD gaan egter voort.

Botha het ook bevestig dat hy alle DA-lede van die Mayco én die speaker opdrag gegee het om te bedank.

In ‘n verstommende en verbysterende en gemoedsbekakkende verwikkelling is die voormalige deur Eden gesekondeerde waarnemende hoof van finansies op Oudtshoorn, Tinus Matthysen, in die plek van die geskorsde Johan Stander aangestel.

Hoe Matthysen, wat erken het dat hy ‘n dubbele eis vir waarnemings ingedien én ontvang het – én gehou het totdat Nic Barrow hom uitgewys het – énige pos op énige regeringsvlak kan hê gaan die verstand te bowe!

Dít nadat die munisipaliteit einde September verklaar het dat Matthysen se uitstaande disiplinêre sake deur Eden oorgeneem sou word!

Om iemand wat self dissiplinêre ondersoeke in die gesig staar aan te stel in die plek van iemand wat geskors is, verg veelomvattende onverskilligheid en ensiklopediese onnoselheid.

Maar hoe dit ook al sy, Theuns Botha en die LP vir Oudtshoorn en Kannaland, Jac Bekker, het die wedstryd teen Leon Dorfling met ‘n beurt en 300 lopies verloor. Ses stroop; ses stroop; ses stroop. 100 – 0. Kies die sportsoort; dink aan die ergste moontlike pak slae. Bafana Bafana teen ‘n omgesukelde Brasilië. Iets in dier voge.

Maar OO verstaan nie hoe moeilik alliansiepolitiek ís nie!

Nè!?

Nou hoekom wen die opposisie dan – is dit nie vir húlle óók moeilik nie!?

Die ánder swerkater in die feëverhaal is Patricia de Lille.

Hoekom word Jurie Harmse en Bella Cornelius nie voor stok gekry nie!?

Hoe kan daar ‘n provinsiale koalisie tussen die DA en die OD wees as bepaalde OD raadslede maak nes hulle wil!?

Wáár is die dissipline in die OD!?

Wat máák Patricia de Lille!? Wáár is Sakkie Jenner!? Wat het van Rodney Lentit geword!?

OO sal sê: Hulle is inderdaad báie besig – om anderpad te kyk… en om te ondermyn!

Wie de duiwel is Harmse en Cornelius om ‘n provinsiale koalisie te kompromitteer en hoe kán die Wes-Kaapse DA-leier nog voorgee dat dié provinsiale koalisie steeds in plek is!?

OO verstáán nie!? Blêddie séker OO verstaan nie!

In September het die OD sy burgermeester in Bergrivier, Sammy Claassen, geskors omdat hy, onder andere, opgetree het sonder ‘n mandaat van die party en omdat hy ‘n instruksie van die party se leierskap veronagsaam het.

OO moet dus aanvaar dat Harmse en Cornelius, toe hulle gister geweier het om die DA te ondersteun, ‘n mandaat van die OD gehad het en opgetree het op instruksie van die OD se leiers.

Op 1 Junie (klik hier) het Jenner vir OO gesê dat as hy ‘n “lyn gee” dan volg sy Wes-Kaapse OD-lede. Die OD sal die politieke samewerkingsooreenkoms met die DA, wat op nasionale en provinsiale vlak in plek is, handhaaf, het Jenner gesê.

Wáá’s jy nóú Sakkie!? Waa’s jy nóú!?

Die OD is besig om die DA te Dorfling en die DA sluimer voort!

OO verneem uit ‘n onberispelike bron dat Harmse en Cornelius gister in opdrag van Lentit geweier het om die DA se onderneming te onderteken. Harmse en Cornelius is opdrag gegee om die DA-koukus by te woon en “uit te luister”. Hulle is verbied om enige ondernemings te gee. Alliansievennoot? Assebliéf tog!

OO het ook verneem dat die OD se optrede op 12 Oktober (toe die OD uit die raad geloop het net om later weer terug te keer en die ANC te ondersteun – klik hier) ten minste deur Patricia de Lille persoonlik toegelaat is. Dat sy bewus was van die Eden OD-lede se optrede ten tyde van die raadsvergadering is gewis. Is dit aanvaarbare optrede van die leier van ‘n alliansievennoot? OO meen van nee.

As OO hierdie inligting kon bekom, moet dit sekerlik aan Botha en Bekker – én Helen Zille – ook bekend wees. OO herhaal: Hoe kan daar sprake wees van ‘n alliansie as die OD se raadslede maak soos hulle wil – mét ten minste die stilswygende toestemming van die OD leiers!?

Is dít waarvoor Oudtshoorn se kiesers in April oorweldigend vir die DA gestem het? Sodat ons ons kollektiewe gat geskop kan kry omdat ons politieke leiers mank gaan aan strategie en bedingingsvernuf!?

Wat veral weersinswekkend is, is die feit – die féit! – dat die DA in Eden meer kêsj en kontant in hande gesit het as wat die ANC en die OD en die NPP en Icosa en Eden-Forum sáám spandeer het… en stééds het die DA op sy baadjie gekry!

As Eden en Oudtshoorn nie belangrik genoeg is vir die Wes-Kaapse DA-leiers om kaalvuis voor te baklei nie, moet die DA dit asseblief vir die mense van Eden en Oudtshoorn sê.

OO is gatvol – nié keelvol nie; gátvol! – om te hoor hoe moeilik die job is.

As die job te moeilik is, fô… gee pád! En laat iemand wat wil en kan baklei die stryd met oorgawe voortsit.

Die huidige DA-leierskap kan nie iets styf kry in ‘n Pfizerlaboratorium nie. Nie dat dit saakmaak nie; die DA het in elk geval net ‘n stert tussen die bene.

En weet verseker: Dit is nódig om die stryd voort te sit! Iemand wat die belastingbetalers van Eden bykans R130,000 skuld – vir twee afsonderlike onbetaalde rekeninge – behoort nie  Eden se burgemeester te wees nie. Eden verdien béter!

As die DA eenvoudig nou die handdoek gaan ingooi, kan hulle dít weet: Na jare in die kamp van die PFP en die DP en die DA – en dit breek my hart… ek stem nie weer DA nie!

En… synde ek nou persoonlik bors skoonmaak: Daar is te veel óú Nátte in die DA.

Genóég!

Klik hier om nog ‘n berig te kies

12 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Simone said, on October 22, 2009 at 9:10 am

    OO, seg jy onderandere dat “In ‘n verstommende en verbysterende en gemoedsbekakkende verwikkelling is die voormalige deur Eden gesekondeerde waarnemende hoof van finansies op Oudtshoorn, Tinus Matthysen, in die plek van die geskorsde Johan Stander aangestel.” Gemoedsbekakkend? Veel erger ou grote. Luister en kyk hierna, dalk voel jy so effens beter.
    ” ’n Teedame wat oornag as ’n munisipaliteit se finansiële hoof aangestel word, is beslis nie wensdenkery nie.
    ’n Taakspan van die nasionale departement van koöperatiewe regering en tradisionele sake het dít uitgevind toe munisipaliteite vroeër vanjaar geëvalueer is.
    Mnr. Sicelo Shiceka, minister van dié departement, het gister in Boksburg op die department se nasionale indaba ’n oorsigverslag, State of Local Government in South Africa, bekend gestel.”
    Okei, so wie moet ons nou voor stem wanneer ALLE politici beka**enswaardig optree en nie die vaagste benul het wat rondom hulle aangaan nie? Jy stel dit nog sagkens wanneer jy dit stel “Sodat ons ons kollektiewe gat geskop kan kry omdat ons politieke leiers mank gaan aan strategie en bedingingsvernuf!?
    Dit wil lyk asof ons maar net vinniger agteruit boer.

  2. leierloos said, on October 22, 2009 at 10:56 am

    Stem darem nie saam met die te veel ou Natte nie- HELEN WAS BLACK SASH ONTHOU?
    Te veel slapgatte ?-JA BESLIS,NIE EERS VIAGRA SETPILLE SAL HULLE BETER KRY NIE.
    Die DA gaan agv van hierdie ruggraatlose optrede in die volgende verkiesing liederlik pak kry.
    Die OD is nie te vertrou in Eden nie,mense soos Wessie het ten minste guts-kan hy nie sy Leiers aanvat oor hulle bedspringery nie of wil die OD nou altyd politieke hoere bly-waar djy petaal ,daa lee ekke!!!?
    Ek hou eerder my kop en trots hoog as opposisie as om so spektakel van my te maak.
    Ek stem beslis nooit weer DA nie-SLAPGATTE!!!!!!

  3. OudtshoornOnline said, on October 22, 2009 at 11:02 am

    leierloos
    Natuurlik het ek nie met me Zille ‘n probleem nie. Ek is terdeë bewus van haar liberale politieke agtergrond. Maar ek hou by my standpunt: daar is te veel ou Natte in leiersposisies in die DA!
    Red

  4. leierloos said, on October 22, 2009 at 11:36 am

    NEE MAN DIE ENKELE NATTE IS IN DIE ANC EN DIE AFRIKANERS (WAT JY DALK VERKEERDELIK OU NATTE NOEM) WAT IN DIE DA DIEN IS KLOMP TREURIGE MENSE WAT NIE EERS IN DIE OU BEDELING DIE NATTE KON VERTEENWOORDIG NIE.
    -NOEM VIR MY PROMINENTE NATTE DWS OU LEIERS VAN NP, WAT IN DA IS????
    HULLE IS OF OMGEKOOP EN BETAAL MET POSTE OM ANC TE WORD OF IS NOG SO SKAAM DAT HULLE NIE MEER SIGBAAR IS NIE-PRAAT NOU VAN DIE LEIERS ,NIE VAN ALMAL WAT VIR HULLE GESTEM HET NIE.

  5. leierloos said, on October 22, 2009 at 11:51 am

    PRAAT NOU VAN RERIGE LEIERS,NE?
    DIE OU PROG RETRORIEK VAN ALLES WAT AFRIKANER IS AS BOOS EN VERKRAMP TE TIPEER MOET TOG ASB NIE WEER KOP UITSTEEK NIE-ONS IS KLAAR SO IN ONS MOER,MOENIE NOG VERDER VERDEEL NIE!
    MOET DUS NIE KRAP WAAR DIT NIE JEUK NIE EN MOENIE KRAP SONDER DAT DIT JEUK NIE.
    MENSE SOOS DORFLING EN BOTHA WAS BESLIS NIE NATTE NIE-HULLE WAS DESTYDS SELFS DAARVOOR TE SLEG-HULLE WAS NIE EERS REGSES NIE -SOVER EK ONTHOU SELF PROGS???
    IN ELK GEVAL DIT IS SINNELOOS OM OOR DIE VERLEDE EN WIE WAT WAS TE WROEG-DIT HELP ONS NIKS VIR NOU NIE-COMPREHENDE?

  6. leierloos said, on October 22, 2009 at 12:35 pm

    Ironie OO is dat sonder die “OU NATTE” se stemme het die DA nooit ooit ‘n kans om enige verkiesing te wen nie-wees baie versigtig om verder te verdeel-regtig nie nodig nie!
    In elk geval hoef te “OU NATTE” dalk nie eers die moeite te doen om vir die DA te stem nie,hulle is net so hopeloos soos die NNP nl. die “NUWE NATTE”" voor hulle afsterwe was!
    Ons praat lekker k…. sonder dat dit iemand help ne?

  7. OudtshoornOnline said, on October 22, 2009 at 1:14 pm

    leierloos
    Dis nie net lekker nie, maar m.i. gereeld baie voordelig om k… te praat.
    Ou Natte: Botha, Bekker, Van Rensburg, Swart… dis die lot van die Suid-Kaap?
    Maar ek stem saam dat ons nie moet verdeel nie; ek was uiters koffierig toe ek hierdie berig geskryf het…
    Red

  8. Skerpioen said, on October 22, 2009 at 3:06 pm

    Dit is geen wonder dat Matthysen as waarnemende Bestuurder Finansies by Eden aangestel is nie.

    Hy is hier weg met ‘n “lofbrief” van uitstekende diens gelewer aan Oudtshoorn Munisipaliteit, onderteken deur ons geagte Uitvoerende Burgemeester, me D. de Jager!

    Seker omdat hy vir ongeveer 2 jaar die R1.1 m selfoongelde wat die Raadslede skuld misgekyk het. Hy is hier weg met ‘n verdere R17 000 (dubbel betaling) wat die Burgemeester misgekyk het.

    So help ons mekaar!! Moontlik kan hy Dorfling help deur die regskoste uitgawes ook mis te kyk.

  9. leierloos said, on October 22, 2009 at 3:14 pm

    Eintlik net Van Rensburg en Swart wat regtig iets was en beide van hulle selfs nou nie te bad nie-die ander was nie juis iets nie
    Anyway, verskoning aanvaar !

  10. Vittori said, on October 22, 2009 at 7:29 pm

    Miskien het dit tyd geword dat die DA hand in eie boesem begin steek. Waarom is daar ewe skielik vanaf die OD ‘n ” ontrouheid” wat moontlik kan meebring dat die huwelik ” onherstelbaar vernietig ” kan word. Die DA het ‘n geskiedenis van meerderwaardig wees in koalisies. Hul neem heel eenvoudig hulle besluite en verwag die ander vennote moet net volg. Ewe skielik moet daar nou weer na die ooreenkoms rondom die burgemeesterspos in George gekyk word……..en in die Bergrivier munisipaliteit het die DA heel eenvoudig die OD burgemeesterspos gekaap en met Cope in die bed geklim. Die beginsel is heel eenvoudig…..ons is gelyke vennote of nie…ons is lojaal of nie……dit is ‘n huwelik. So….word ‘n bietjie stil…..ondersoek jouself…..gaan maak reg….vra om verskoning…en ons het weer ‘n gesonde huwelik…

  11. Martiens said, on October 23, 2009 at 10:38 am

    Hierdie saak van weer DA stem is nogal ernstig. Kom ons kyk waar is Eden nou, en waar was Eden 5 jaar gelede. In 5 jaar het Eden ‘n metamorfose ondergaan van ‘n reus na ‘n muis! Eden is inderdaad die grap van Eden!

    Vraag is, wat is die verskil in die 5 jaar wat verloop is en die antwoord is eenvoudig, dis die DA. Die ironie van die saak is dat die argitekte van die fiasko, synde Marius Swart, Theuns Botha en Jac Bekker nou elders op die sagte groen stoele in Kaapstad sit. Dorfling is nou Burgemeester omdat die DA dit moontlik gemaak het. Eerder deel van ‘n patetiese koalisie as goeie opposisie. Rede? Eenvoudig, die toelae waarop jy kan uitmis as jy nie ‘n posisie het nie. Mens, so ‘n ou posisitjie kan darem vergoed as jy ‘n keuse moet maak tussen beginsels en inkomste! Weer DA stem? “Not a dem!”

    Per slot van rekening, wie is die DA se bedmaat? Dorfling, wat die hoofleier is van ‘n party met 2 lede. Hyself en sy vriend Andy. ‘n Party wat “geskep” is met die laaste oorloopperiode en wat dus geen stautus by die stembus geniet nie. Beindruk die volbladadvertensie in die Burger enige persoon? Nee wat, dis ‘n visuele egoreis wat doelbewus so geposisioneer is om die Burgemeester se beeld te blaas. Ironies genoeg, toon die advertensie niks van die droogtesituasie van die mense anderkant die berg nie. Dit is by inteliigente mense ‘n veel groter prioriteit as boomplantseremonies.

    Wat ‘n studie in valsheid!

  12. leierloos said, on October 23, 2009 at 10:39 am

    Vittori(dele van Amor!) ek stem100% saam met jou, inteendeel ek hoop nie ek moet ooit in huwelik tree met ‘n gesoute politkus nie want:

    Bedspringery,rondslapery,sielsverkoping,gebrek aan integriteit,eiewaan,
    grootheiswaan,bullshit, oneerlikheid,lieg,bedrieg,steel,luiheid is enkele van die ( sommige darem net letterlik en ander figuurlike) noodsaaklike vereistes vir oorlewing en sukses in die hedendaagse politiek.

    MET AL DIE TYD EN HARDE WERK OM DIE PAS MET BG. VOL TE HOU KOM WERK,COMMITMENT,VISIE,EERLIKHEID,DEURSIGTIGHEID,EMPATIE,KENNIS EN DIENSBAARHEID ONGELUKKIG NIE TER SPRAKE NIE.

    -baie erger as in die”Animal Farm”


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.