OudtshoornOnline

Harde woorde tussen die MB en OO

Posted in Politiek by Red/Ed on July 24, 2009

Onderhoud met Francois Barnard gekanselleer;
Mubesko se verslag steeds uitstaande;
Raadslede se skuld steeds uitstaande…
OO se kritiek te erg”

Klik op die advertensies

Oudtshoorn. 24 Julie 2009. 12h41. Die munisipaliteit se pasaangestelde forensiese ondersoekbeampte, mnr Francois Barnard, het vanoggend sy onderhoud met OO gekanselleer.

Volgens Barnard is OO se onderneming om volledig verslag te doen oor sy opdrag en sy vordering nie wenslik nie omdat ondersoeke in sensitiewe stadiums is.

20090710OO kan nie dink aan ‘n enkele leser uit Oudtshoorn se sakegemeenskap wat sal toelaat dat daar so voete gesleep word om wanbestuur in ‘n eie onderneming uit te wis nie!

Barnard is weliswaar nog skaars twee weke aan die werk, maar watter geheimhouding is nodig?

As ‘n werknemer, byvoorbeeld, kwalifikasies vervals het, of valslik aanspraak gemaak het op kwalifikasies en daar word ‘n ondersoek gelas, gaan die werknemer se bedrog nie verdwyn as daar gesê word dat ‘n ondersoek gelas is nie. En dis ‘n uitstekende idee om die oortreders, indien enige, te ontsenu!

Die munisipaliteit bestuur Oudtshoorn namens die belastingbetalers en die inwoners. Die inwoners is die “base” en dié base wil weet! Wat gaan áán!?

Die ondersoeke is in dorpsbelang en moet noodwendig in die skrille openbare lig gedoen word. En – dít is belangrik! – die ondersoeke moet ook in lumine sicco, in die skerp lig van rede, gedoen word. Daar behoort géén wegkruipplek meer te wees nie!

Hoekom die obskurante optrede? Klik hier vir OO se artikel oor obskurantisme – al op 16 Februarie geskryf.

Wat het van die geproklameerde deursigtigheid geword?

Die raadslede se skuld aan belastingbetalers is reeds járe ‘n probleem en het oor die afgelope maande ‘n visgraat in die keel geword. Sedert nasionale tesourie in Maart opdrag gegee het dat die skuld onmiddelik en eenmalig verhaal moet word is dit steeds nie gedoen nie!

Dán kan die redes vir die skuld nie bepaal word nie; dán is die bedrae nie bekend nie; dán dít; dán dát!

Genóég!

Dit neem te lánk!

Mubesko moes vier dae gelede al ‘n verslag aan die MB gelewer het waarin raadslede se skuld geverifiseer is. Indien die verslag gelewer is, moes die skuld reeds vandeesweek vereffen gewees het… óf die raadslede moes aan tugstappe en/of regstappe onderwerp gewees het.

Die verslag is inderdaad nog nie gelewer nie en Mubesko moet skerp berispe word vir sy versuim! Mubesko is  al lánkal betrokke by die munisipaliteit. As só ‘n firma, met sy intieme kennis van die munisipaliteit, ‘n keerdatum gee vir ‘n verslag, moet hy by dié keerdatum hóú – ás hy weet wat hy doen!

OO wag sedert vroegoggend op antwoorde en het pas ‘n oproep van ‘n baie geïriteerde MB ontvang en harde woorde het wedersyds geval. Ten minste het OO en die MB ooreengekom om volgende week te koffie. Koffie maak baie verhoudings reg. En sterker goed as koffie – soos jare gelede in Dakar – help ook.

Wessel Rabbets doen ‘n gróót werk. Maar dis nou eenmaal sy wérk. Dat hy gekritiseer gaan word is ‘n gegewe – en OO gaan nié in die belang van beter verhoudinge mínder sê nie. Rabbets is ‘n sterk, professionele amptenaar en hy moet kritiek maar op die kinnebak vat en van die harpuis opstaan en voortveg. Dis nou maar Rabbets se lot.

OO sal die kookpot blý roer.

Oudtshoorn se mense word in die duister gehou terwyl amptenare en raadslede agter “prosesse” skuil. Klik hier vir wat OO reeds op 25 Maart oor “prosesse en absesse” geskryf het.

Dis ónaanvaarbaar! As die sweer dan nou moet oopbars, dan moet dit oopbars, maar OO gaan nie die MB met satynhandskoentjies aanvat nie. Wessel Rabbets werk vir die mense van Oudtshoorn. Wessel Rabbets moet die mense van Oudtshoorn ingelig hou. Punt.

Inligting…

Tantum eruditi sunt liberi (losweg vertaal as  “slegs die ingeligtes is vry”) het die Griekse slaaf in Rome, Epictetus (c.55 – c.135 A.E.), na sy vrylating gesê.*

Goed moet begin gebéúr. Sígbaar gebeur!

* ‘n Griekse slaaf in Rome, het Epictetus onder die Stoïsynse filosoof Musonius Rufus studeer. Na sy vrylating, toe filosowe uit Rome verban is, het hy in Nikopolis gaan leer. Daar het sy student, Arrianus – die Griekse historikus en filosoof wat oor Alexander die Grote geskryf het, Epictetus se leringe opgeteken in Die Enchiridion (Die Handleiding) en Die Diskoerse. In sy roman A Man In Full, maak Tom Wolfe ruim van Die Diskoerse gebruik vir sy karakter Conrad.

Klik hier om nog ‘n berig te kies

9 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Liegvlieg said, on July 24, 2009 at 4:18 pm

    Nou wonner ‘n mens moes maar net. Di’s moes maar menslik om te wil wonner. Wie het die sê gesê dat die vergaderinkie nie meer mag plaasvind nie ?. Nie eens in kamera nie.
    OO het moes ‘n gevoellige kant ook. Hy openbaar nie alles, as alles nie oopgemaak mag word nie. Altans nie dadelik nie. Met verloop van tyd, en met die nodige goedkeurig wel.
    Nou wat nou. Die tyd gaan well verloop en dan gaán die blik omval en die wurms is dan dalk al pofadders. Boeta, en dan gaan Saartjie dans.

  2. Chris Smit said, on July 25, 2009 at 8:57 am

    “OO sal die kookpot blý roer.” Hierdie is die gevestigde slagsreuk van OO waarmee ek nie fout mee te vind het nie. Ons hier op die OO blad herinner mekaar van tyd tot tyd om die bal te speel n dis ook reg so. Maar ons moet ook nooit vergeet nie dat enige wedstryd met meer as een bal gespeel word aangesien die bal soms “dood raak” en ons dan ‘n volgende bal as substituut gebruik om die spel voort te sit.
    Daarom wil ek vanoggend vanoggend hier op OO ‘n “ander bal” gebruik in plek van die normale. Wanneer ek die berigte lees dan is dit opvallend dat die geroer van die kookpot meerendeel redelik negatief van aard is, en daar is natuurlik baie goeie redes daarvoor ook. Maar ek glo dat hierdie blad nie net in Oudtshoorn gelees word nie maar regoor SA en die buiteland en hulle verstaan nie dat ons net met die “slegte” in die kookpot kan sit nie. Helaas is hulle heeltemal korrek in hul waarneming. Dink maar aan die volgende wat baie mooier dinge vanuit Oudtshoorn verkondig:
    Die Wereldkunsvliegkampioenskappe word vir Oudtshoorn beplan.
    Klein Karoo Klassique gaan binnekort hier plaasvind.
    Eden se talentkompetisie gaan plaasvind
    Schoemanshoek Gemeenskapsverrykingsprojek (SCEP) is suksesvol
    Projek Mission Impossible vir die ondersteuning van gestremdes
    Principia Kollege se suksesse by die “Drummies” kampioenskappe
    Vakansiesport teen Misdaad wat gedurende die skoolvakansie op Dysselsdorp aangebied is.
    En dan, al ons leerders en ander sportmanne se suksesverhale.
    Dit is daarom baie nodig dat ons op OO se webblad ‘n bietjie meer balans en “bestanddele” in die kookpot gooi ten einde uiteindelik ‘n eetbare pot te kan voorsit.
    Ek dog ek se maar net.

  3. oudtshoornonline said, on July 25, 2009 at 11:13 am

    Uitstekende kritiese kommentaar, Chris!

    Baie dankie; ek neem kennis.

    Red

  4. Nic Barrow said, on July 27, 2009 at 12:53 pm

    Die feit dat die opdrag aan Barnard geheim moet wees is belaglik. Daar kan geen goed uit gebore word nie. Letterlik tientalle amptenare het hierdie dokumente (“terms of reference“) al onder oë gehad. Dit is opgestel, getik, gelees, gefotostateer, versprei ens. ens. deur AMPTENARE. Vir wie de dôner moet dit nou weggesteek word? Die inwoners van Oudtshoorn moet weet wat alles ondersoek word. Hoekom dit weer wegsteek? WESSEL, ek hoop nie jy gaan jou eerste toets hierdeur dop nie. Ek dink tog dat ek ‘n afskrif van hierdie opdrag in die hande kan kry. Ek het ook al ‘n paar keer gevra vir ‘n afspraak by die Meneer Barnard. Ek het ook mos nog verskeie ander “geheime bewyse” in my besit. Om die belaglikheid van die MB en/of die Raad te illustreer – hoe de joos moet mense weet om vir Barnard van inligting te voorsien as hulle nie eens weet wat hy ondersoek nie? Nie ás nie, maar wannéér, ek die dokument in die hande kry sal ek dit met julle deel.

  5. Robert said, on July 27, 2009 at 1:32 pm

    Government by the People for the People – warrants a full disclosure of Council finances and moreover loans, etc. granted to officials – anything else would smack of a cover-up in the deployment of ratepayers funds – I agree with Nic Barrow – let’s use this exercise as a benchmark for how the Council will go forward in its transparency – a lot of “official” time, effort, and dare I mention cost, has been expended on these investigations which could better be applied to the business of managing the town, so lets get some value out of this audit that we can learn from going forward and cut the BS and “ducking and diving”.

  6. Oom Spyker said, on July 27, 2009 at 2:09 pm

    Ek stem saam met Nic. Hierdie inligting behoort vir almal beskikbaar te wees. Pietersen is gereeld bygekom. Rabbets moet ook aangetree word indien hy fouteer. Almal is gelyk maak nie saak wat jou velkleur is nie. Groetnis Oom Spyker.

  7. Daantjie Dinamiet said, on July 27, 2009 at 3:07 pm

    Ek stem heelhartig saam met Nic Barrow, Robert en Oom Spyker.
    Hier in die Kaap hou ons OO en die kommentaar op OO se berigte fyn dop en hierdie evaluasie van die munisipale bestuurder se agenda is ‘n baie belangrike punt. MB is ‘n uiters belangrike posisie en die amp moet kritiek kan vat en aanpas. Oudtshoorn se mense kry ‘n kompliment omdat hulle die amp sonder aanname van die persoon aanvat. Vorige MBs is erg gekritiseer; die huidige MB het ‘n selfs moeiliker taak en is nie bo kritiek verhewe nie.
    As elke dorp en munisipaliteit maar ‘n forum gehad het waar daar openhartig oor raadsake gepraat kon word, was plaaslike regering en bestuur dalk nie in die haglike toestand wat dit kenmerk nie.

  8. Hikkie said, on July 27, 2009 at 3:27 pm

    En steeds dames en here is ons besig om as enkeles opinies te gee en bestaan daar nie ‘n gesamentlike aksie nie. Gaan ons nooit leer nie??!! Skynbaar nie. Tog so jammer…

    Feit van die saak is mnr die MB ons vertrou nie meer jou werkgewer nie. Aanvaar dit asb so!!

    Kyk wat is ministers besig om te doen met ons geld. Die tyd het aangebreek om weer te praat van aksies wat herinner aan die revolusie van die jare ’70. Burgerlike geweld is reeds aan die opvlam dwarsoor ons land. Dit wil my voorkom of dit al uitweg is vir Oudtshoorn!!

    Dat dit uit my mond kom laat my sidder maar die alternatief om sake maar net goedsmoeds te laat agteruitgaan is beslis nie ‘n opsie nie.

    Hoe ver is ons van ‘n grootskaalse protesaksie. Die spreekwoordelike omkeer van die appelkar??!!

  9. Sangoma said, on July 27, 2009 at 3:48 pm

    OO die feit van die saak is dat die MM, Raadslede, amptenare en self Mnr Francois Barnard indiens van die belastingbetalers is.
    Tans betoog en staak die munisipale werkers en hulle vakbonde oor meer geld, is dit dan nie die regte van die belastingbetaler om te betoog teen swak dienslewering wat deurtrek is van korrupsie nie, is dit dan nie die belastingbetaler se reg om te weet wat in die munisipaliteit aangaan waarvoor hy ( die belastingbetaler) betaal nie.
    OO ek glo dit het tyd geraak dat die belastingbetalers van Oudtshoorn net soos in die res van die land begin om hulle belasting te weerhou.
    Dit het tyd geraak dat die belastingbetalers doen wat die die toe- benadeeldes in die 80 en 90 jare gedoen het.” Mass Action” Al verskil is ons gooi nie petrolbomme, steek skole aan die brand nie, ” necklace” nie die verraaiers nie, plant nie bomme by winkelsentrums nie ens. Soos ek dit verstaan was hierdie aksie ook onwettig, maar het dit die regering van tyd op sy knee gedwing en in submissie in gedryf. Kom ons as belastingbetalers ondersteun die ” Mass Action” op ons beskaafte manier om van korrupsie en wanadministrasie ontslae te raak en hou belastings terug totdat die probleme uitgesorteer is.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.