Beloftes, beloftes, beloftes
Einde Julie! Einde Julie!
Dán sal alles regkom!
Beloftes, beloftes, beloftes…
Klik op die advertensies
Oudtshoorn. 30 Junie 2009. 00h01. Beloftes, beloftes, beloftes… OO is keelvol van leë beloftes!
Op 10 Mei gee OO ‘n oorsig van die DA-leier en Wes-Kaapse premier, me Helen Zille se algehele gebrek aan optrede op Oudtshoorn en wys OO daarop dat sy sedert 18 Mei 2007 by verskeie geleenthede onderneem het om in Oudtshoorn se regering in te gryp:
Op 18 Mei 2007, toe politieke leiers van die DA haar ingelig het oor die kritieke toestand van die DA op Oudtshoorn.
Op 19 Desember 2007, toe die ontbinding van die DA op Oudtshoorn voorgestel is.
Op 11 Desember 2008, toe OO haar na die DA se tussenverkiesingsukses gevra het: “I have been there personally on three occasions to try to sort things out. But something always recurs. It is very disappointing. The DA seems set to win the Western Cape Province in next year’s election and if we do, we may have to consider placing several municipalities (including Oudtshoorn) under administration unless things improve.”
Op 30 Januarie 2009, toe sy Oudtshoorn tydens die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die Suidoosterfees bestempel het as “definitief nie ‘n suksesstorie van plaaslike regering nie”. Sy het op ‘n vraag van die plaaslike prokureur en getroue OO-leser, Leon Coetzee, gesê die DA sal oorweeg om rade soos Oudtshoorn onder administrasie te plaas indien die DA die bewind na die verkiesing in die Wes-Kaap oorneem.
Op 4 Februarie 2009, toe sy aan OO gesê het dat Oudtshoorn een van die DA se ernstige mislukkings (”serious failures“) is en dat “die Oudtshoorn raad homself nie onderskei het nie”. Zille het herhaal dat die plaaslike koalisie misluk het en dat sy Oudtshoorn sal regruk as die DA na die komende verkiesing die Wes-Kaap regeer.
Op 11 Februarie 2009, toe sy aan OO gesê het dat die kaliber van die DA se provinsiale kandidatelys haar oortuig dat die DA die Wes-Kaap in die komende verkiesing sal wen en dan die mag en die gewilligheid sal hê om bepaalde plaaslike regerings – soos Oudtshoorn – “reg te ruk”.
Op 19 Februarie 2009, toe haar Wes-Kaapse leier, Theuns Botha, verklaar het: “Ek het nou genoeg gehad!” en die DA se kiesafdelingshoof (nou minister van Landbou in die Wes-Kaap) mnr Gerrit van Rensburg aangestel het om Oudtshoorn se DA-besluite te monitor en, indien nodig, te veto. Botha het ook onderneem dat daar “binne 14 dae” ‘n “regrukplan” op die tafel sou wees… daar het níks van gekom nie. OO is verskeie male deur Botha, deur Van Rensburg, deur Bekker verseker dat daar ‘n plan ís, maar dat dit nog nie gekommunikeer kan word nie.
Op 19 Februarie roskam die Wes-Kaapse DA-leier, mnr Theuns Botha die plaaslike koukus en sê hy die volgende oggend aan OO: ”Ek het nou genoeg gehad!”
Oudtshoorn se DA sou binne 14 dae met ‘n regrukplan vorendag kom…
Botha het gesê dat die beeld en die status van die DA op Oudtshoorn herstel moet word en dan gehandhaaf moet word. Hy sou selfs die regrukplan met die gemeenskap op Oudtshoorn deel.
“Gemeenskapsleiers moet ingelig word oor wat die DA doen om Oudtshoorn te dien”, het Botha gesê.
Op 16 Maart kondig OO aan dat Mnr M C Botha – onthou vir MC Botha? – voormalige munisipale bestuurder van George en toe ‘n gaslektor in projekbestuur aan die Bestuurskool van die Universiteit van Stellenbosch in Bellville sonder verwyl gevra gaan word om as munisipale bestuurder waar te neem.
Mnre Gerrit van Rensburg, toe DA-LP vir Kannaland/Klein-Karoo en Jac Bekker, toe van die Eden distriksmunisipaliteit en onderskeidelik hoof- en assistent babawagter van die Oudtshoorn DA was vol hoop dat Botha se aanstelling die eerste stap tot die langtermyn herstel van Oudtshoorn is.
Wag net totdat MC aangestel is, het Van Rensburg en bekker by herhaling gesê, dán sou álles regkom!
Eers het Bekker OO verseker dat die DA-gedrewe aanstelling van MC Botha as munisipale bestuurder die katalisator sou wees; die eerste stap in die regte rigting: Die hoof finansiële beampte, Thinus Matthysen, se dubbele waarnemingseis sou ondersoek word… alles spoedeisend.
Toe OO openlik agterdog uitgespreek het oor die raad se besluit om MC Botha te vra om as munisipale bestuurder waar te neem en voorspel het dat daar ‘n riller op Oudtshoorn wag, was Bekker – en die hoof DA-babawagter, Gerrit van Rensburg – erg onthuts en op 2 April berig OO dat sy skeptisisme oor MC Botha se aanstelling tot ‘n tydelike verbrokkeling in die verhouding tussen Bekker en OO gelei het.
Op 25 Maart berig OO in Absesse en prosesse oor die vele prosesse wat glo in plek sou wees om Oudtshoorn reg te ruk… proses op proses op proses. Van al die prosesse wat OO in dié berig identifiseer, het slegs die proses om aantygings teen onderburgemeester Jeffrey Swartbooi te ondersoek ‘n resultaat opgelewer… en dié “proses” is selfs nóú nog nie voltooi nie. Einde Julie!
Op 4 Mei herinner OO lesers daaraan dat Van Rensburg en Bekker wéke tevore aangedui het dat Oudtshoorn net geduldig moet wees totdat MC Botha munisipale bestuurder word… dán sou “álles” begin regkom het…
Op 14 Mei herhaal Zille op ‘n nuuskonferensie waar sy die DA se skadukabinet bekendgestel het, dat die party onwrikbaar daarin glo om die beste mense vir die werk aan te stel en nie van sy beginsels afwyk nie. Kort daarna word Kallie Baartman – ‘n politieke chameleon wat hom deur die DA in Eden laat omkoop het – as DA-kandidaat in wyk 3 in Kannaland bevestig.
Op 4 Junie maak Theuns Botha ‘n “DA-aksieplan om voortgesette koalisie-onmin in Oudtshoorn te ontlont” bekend… dít ‘n paar dae nadat die OD-leier in die Wes-Kaap, mnr Sakkie Jenner, hoenderborsie gemaak het oor sy sogenaamde invloed onder raadslede en dat hy die Oudtshoorn OD-koukus vinnig sal regruk om sy nasionale, provinsiale en plaaslike ooreenkoms met die DA te eer.
Gistermiddag moes Bekker, nou DA-LP vir Oudtshoorn, nog onderhandel om genoeg stemme te kry vir vandag se raadsvergadering en kon hy, so meen hy, die OD aan DA kant kry.
En gister, op 29 Junie, reageer die DA minister van plaaslike regering in die Wes-Kaap, mnr Anton Bredell, tans met vakansie, op OO se aandrang dat raadslede hulle skuld aan belastingbetalers onmiddelik vereffen: “Ek is tot die 26 Julie weg, ek het die Speaker tot einde Julie gegee (om die skuld –saak uit te klaar)… Swartbooi sal ook einde Julie afgehandel wees.”
Dít nadat Bredell op 23 Junie gesê het die Swartbooi-saak sal teen 26 Junie afgehandel wees en nadat hy op 24 Junie gesê het hy sal die Swartbooi-saak teen míddel-Julie afgehandel hê.
OO vertrou eenvoudig nie meer die uitsprake en die beloftes van politici oor Oudtshoorn nie.
Dink die politici die mense van Oudtshoorn is volslae kleinburgerlike dorpsidiote!?
Raai wat? Ons ís nie. En júlle – ons politieke “leiers” – beter julle sokkies deksels vinnig optrek!
Op Oudtshoorn word tans naarstigtelik “beplan”. Begrotings word opgetrek, byvoorbeeld – en dis wónderlike nuus! – maar die afgelope verskeie jare se finansiële jaarstate is nog verdag.
Miskien is die politici tog reg: OO verstáán nie.
Inderdaad!












Foeitog, die DA trawante vaar in die WK net so pateties soos die ANC elders in die land. Gedog dis net Sannieshof, Bloemhof, Piet Retief wat strooi het in hul geledere. Maar Oudtshoorn is wragtag vir die DA ‘n neut wat hulle nie gekraak kry nie. Hoekom nie? Omdat die verkeerde ouens en douens in die besluitnemersstoele sit en nie ‘n “clue” het wat hier buite aan’t gang is nie. Of dalk pleinweg nie ‘n duit omgee nie? Miskien moet die belastingbetalers hier op Oudtshoorn die Sannieshof konsep navolg en maar ons geldjies weerhou tot iemand, verkieslik nie enige politieke nar nie, die goed in die broek het om voor te vat en ons uit die gemors kan red. Want redding is inderdaad wat ons nodig het.
Maar man, ek wil ook soos die dame gisteraand op SABC2-nuus gesê het, ons is nou g*tvol! Die publiek en Jan Alleman, wat werklik wil hê Oudtshoorn moet ‘n dorp wees waarop elke inwoner trots kan wees, moet nou ingryp – ons soek net ‘n ordentlike voorvatter – en doen wat in Sannieshof gedoen is. Daar “moan & groan” die raadslede noudat die publiek hul eie ding doen – hoekom het hulle (die Raadslede van Sannieshof) dit nie gedoen voordat die inwoners g*tvol geraak het nie? Ek’s eerste daar as ons ‘n voorvatter kry wat die raad ‘n ding of 2 wil wys!