OudtshoornOnline

Die DA…uh, “aksieplan”

Posted in Politiek by Red/Ed on June 4, 2009

Meer Dustin “Tootsie” Hoffman as
Arnold “The Terminator” Swartzenegger

Oudtshoorn. 4 Junie 2009. 00h01. Die Wes-Kaapse DA-leier, mnr Theuns Botha, het laat Woensdagmiddag ‘n “DA-aksieplan om voortgesette koalisie-onmin in Oudtshoorn te ontlont” bekend gemaak:

Met die oog om die laaste paar maande se voortgesette onmin tussen raadslede op Oudtshoorn te ontlont, is die DA besig om ‘n aksieplan in plek te sit om ‘n einde te maak aan swak dienslewering wat die Oudtshoorn-gemeenskap kan ly as gevolg van die politieke onenigheid.

Die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Beplanning en Omgewingsake, Anton Bredell, gaan Vrydag na Oudtshoorn om ‘n herstelplan vir die raad in plek te sit. Bredell gaan die aangeleenthede wat die onenigheid veroorsaak, identifiseer en aanspreek.

Wes-Kaapse DA leier, Theuns Botha sê, “Slegs hierna, indien hierdie aksie nie die gewenste uitwerking het nie, sal die DA oorweeg om raadslede te versoek om te bedank of ‘n alternatiewe metode te vind om hulle poste te ontruim sodat tussenverkiesings kan plaasvind en Oudtshoorn dan opnuut nuwe verteenwoordigers kan verkies.  In hierdie opsig sal die DA dan versoek dat ander partye in die raad hierdie optrede volg, alhoewel ons dit nie kan afdwing nie.”

Botha sê hy glo die herstelplan van Minister Bredell, saam met die ondersteuning van sy Departement, sal die gewenste uitwerking hê sodat die alternatiewe optrede met verkiesings nie nodig raak nie.

OO het ‘n geslote gespreksessie met Bredell gereël vir Vrydag waartydens tien uitgenooide DA-gesinde sakelui met hom, onder andere, oor hierdie plan gaan gesels.

OO stel dit nou onomwonde aan sy lesers: Indien hierdie DA-aksieplan uitgewys word as maar net nóg ‘n watertrappery, sal OO sy openbare steun aan die DA summier onttrek.

Die ANC op Oudtshoorn loop breëbors rond. En waarom nié? Hulle politieke opponente vou soos toendertydse lugposskryfpapier en spring entoesiasties saam met die ANC in die kooi.

Die DA – die party vir wie Oudtshoorn oorweldigend gestem het in die onlangse algemene verkiesing – word tans uitgelag in raadskringe.

OO se bronne is dit eens dat wat die OD-hoofleier, me Patricia de Lille, ook al Dinsdag vir haar koukus op Oudtshoorn gesê het… dit blyk geen impak te gehad het nie.

OO het in gesprek met Botha, na die bekendmaking van die aksieplan, gesê dat Bredell Vrydag grofgeskut sal moet saambring; níks anders gaan werk nie. “Versoeke” gaan nie werk nie!

Die “aangeleentheid wat onenigheid veroorsaak” is mág. Punt!

Die ANC wil Oudtshoorn beheer. Die ANC wil nie “onenigheid identifiseer en aanspreek” nie!

Wíl die DA Oudtshoorn beheer?

OO begin twyfel aan die DA se wíl om Oudtshoorn te regeer.

OO begin wonder of Oudtshoorn nie ándermaal op die politieke altaar van doelmatigheid geoffer gaan word nie.

Beoog die DA dalk om teen die volgende verkiesing te kan sê dat hy ‘n provinsie kon regeer het waar verskeie plaaslike rade deur die ANC beheer was – en dat die DA stééds uitnemende dienslewering verseker het!?

Kan dit wéés dat die DA Oudtshoorn nie wíl regeer nie?

Hierdie “aksieplan” lyk na ‘n strategiese meesterstuk vir verloor.

As die DA Oudtshoorn wil oortuig dat hy die dorp wíl regeer, moet hy kom skoonmaak; moet hy die onbeholpe raadslede kom verwyder!

OO daag die Wes-Kaap se DA-regering uit: Ontbind Oudtshoorn se raad!

Of verwyder ten minste die DA- en die OD-raadslede. Almal van hulle! Die DA se ooreenkoms met die OD, as dit inderdaad so robuust is as wat voorgehou word, behoort sulke daadwerklike optrede te kan oorleef.

OO plaas baie vertroue in die DA-leierskap: Helen Zille, Athol Trollip, Ryan Coetzee, Theuns Botha en vele meer. Maar Oudtshoorn het nou daadwerklike voorvat nodig… ‘n mens ontsnap nie uit dryfsand met ‘n rondtrappery nie!

Om “‘n alternatiewe metode” te vind om halsstarrige en dissidente en onbeholpe raadslede sover te kry om hulle “poste te ontruim” klink papbroekerig… maar kom ons aanvaar vir die oomblik dat dit ‘n bedekte dreigement is. Kom ons wag tot môre; tot Vrydagaand toe.

Wrágtag – OO wil duidelik kan sien dat die DA Oudtshoorn wíl regeer!

One Response

Subscribe to comments with RSS.

  1. Antie Kersvader said, on June 4, 2009 at 1:53 pm

    OO daar is meer aan die gang in die Munisipaliteit as wat ons regtig bewus is van. Sprake onder ANC ondersteuners binne die Munisipaliteit is dat Gordon April en Kawa deur middel van ‘n spesiale Raadsvergadering die bestaande Burgemeesterskomitee wil verwyder en raai net wie gaan die posisies van Burgemeester en O/ Burgemeester vul, natuurlik ons vriende April en Kawa, !!!!!
    As die nuwe Burgemeester en O/ Burgemeester gaan daar dan ontslae geraak word van die lastige Wessel Rabbets en sal daar gekyk word na vriend Gutas as Waarnemende en selfs moontlik, Munisipale Bestuurder of gaan hulle Pietersen weer her-aanstel as Munisipale Bestuurder.
    Oudtshoorniete julle moet wakker slaap, hier kom ‘n ding wat gekeer moet word en vinnig ook, behoed Oudtshoorn as Gordon April en Kawa in beheer van hierdie dorp is.!!!!!!!!!!


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.