OudtshoornOnline

Noudat ons wéét, weet ons nóg minder

Posted in Politiek by Red/Ed on March 11, 2009

“Globale finansiële krisis” se voet!
Wall-straat lyk kerngesond
teen Voortrekkerstraat

Oudtshoorn. 11 Maart 2009. 09h33. Die vorderingsverslag van die konsortium Mubesko & MeyerOtto (die munisipaliteit se finansiële adviseurs; nié die munisipaliteit se ouditeure nie) oor die voorbereiding van die munisipaliteit se finansiële state vir 30 Junie 2008 is op 20 Januarie aan die nou uitgaande waarnemende munisipale bestuurder voorgelê en dit is op 29 Januarie op ‘n werkswinkel met die speaker, raadslede, direkteure en bestuurders bespreek.

Jy hoor vandag eers daarvan. Jóú geld. Húlle droogmaak. Maar jý hoor nóú eers daarvan. Geen wonder die uitgaande munisipale bestuurder Thembani Gutas dans soos Fred Astaire om nié die finansiële rekords bekend te maak nie – daar ís nie finansiële rekords om bekend te maak nie! En burgemeester Diane de Jager hou ACVV-konferensie. Oudtshoorn brand en die burgemeester vou koeksusters.

20090311_1Dit was die tweede sodanige verslag, dié een van 20 Januarie. Die eerste een is op 4 September 2008 voorgelê. Die enigste verskil tussen die twee verslae is dat daar geen verskil is nie – die probleme van 20 Januarie 2009 lyk baie na die probleme van 4 September 2008. Om die waarheid te sê, die verslag van 20 Januarie skilder ‘n érger prentjie as die verslag van vier maande vroeër.

Dat die verslag oor die finansiële rekords van die munisipaliteit en die vordering met die optrek van die finansiële state vir die jaar eindigende 30 Junie 2008 skrikwekkend is, is gewis. Skrikwekkend is kwalik die korrekte woord. Want die finansiële stelsels en kontroles is so onbetroubaar dat die werklike stand van sake nie bekend kán wees nie en ons dus nie eens wéét presies hóé benard die dorp se finansiële posisie is nie.

Hierdie verslag moes reeds op 29 Januarie openbaar gemaak geword het, maar getrou aan die obskurantisme wat by die munisipaliteit gedy moes dit uitgekrap word. Wié het dit uitgekrap? Oudtshoorn se redestoker het – Nic Barrow. Gisteraand, tydens die jaarvergadering van die sakekamer het Barrow ook ‘n oorsig van hierdie wanadministrasie gegee.

Dink van hom wat jy wil, maar as dit nie vir Nic Barrow se hardekop en hardegat aanslag is nie was ons steeds in die duister oor die finansiële krisis op die dorp en was die dominee – “Noelie” Pietersen, steeds die munisipale bestuurder.

Vir die rekord: Dankie Nic!

Die konsortium maak verskeie skokkende feite bekend. Onder die vernaamste ongerymdhede tel die volgende:

Bankrekonsiliasies is, volgens sommige bronne, sedert 2004 uitstaande. Om te sê dit ís nie so nie, dis slegs uitstaande sedert 2007, maak die situasie hoegenaamd nie meer aanvaarbaar nie. As dit agter is, is dit agter en dis agter omdat iemand nie sy werk doen nie. Punt.20090311_2

In waarskynlike desperaatheid is twee konsultante aangestel om die bankrekonsiliasies by te werk. Die konsortium het egter bevind dat daar gesloer word met die proses en die taak self opgeneem.

Die konsortium erken in sy verslag dat die rekonsiliasies “‘n veel groter uitdaging” was as wat aanvanklik gereken is en dat die keerdatum van 30 November 2008 dus nie haalbaar was nie.

En hier is ‘n voldonge feit: as jy nie ‘n bankrekonsiliasie het nie, mors jy jou tyd om enige ander rekenkundige rekords te probeer saamstel. Jy gaan dit in elke geval moet oordoen.

BTW-opgawes is agterstallig en afwykings in BTW-rekonsiliasies sal ongetwyfeld lei tot boetes en rente-betalings aan die Ontvanger van Inkomste. Die plaaslike entrepreneur, mnr Nic Barrow, het reeds die BTW-hoof van die Ontvanger se kantoor op George, mnr André Maritz, oor die ongerymdhede ingelig.

Die amptenary kon nie ‘n rekenkundige beleidsdokument aan die konsortium verskaf nie.

Die bateregister stem nie ooreen met die finansiële stelsel nie en ook nie met vorige finansiële state nie. Die balanse in die vorige finansiële state verskil met meer as R186 miljoen van die balansstaat.

Daar is twee rekenaarstelsels in gebruik: PROMUN se proefbalans is uit met meer as R50 miljoen en ABAKUS se proefbalans is uit met meer as R42 miljoen.

Die beleggingsregister balanseer nie.

Die leningsregister balanseer nie.

Daar is nie ‘n debiteure-analise beskikbaar nie. Die munisipaliteit weet nie wat die uitstaande bedrae is wat aan hom verskuldig is nie en die munisipaliteit weet nie hoe lank daardie bedrae al verskuldig is nie.

Diverse krediteure en uitgawes is met R1,5 miljoen oorskat in die 2006/2007-boekjaar en het tot dubbele betalings gelei in die 2006/2007-boekjaar én in die 2007/2008-boekjaar.

Daar is nie ‘n krediteure-analise beskikbaar nie. Die konsortium het ongeveer R12 miljoen se addisionele krediteure geïdentifiseer. Alhoewel dit ‘n onrusbarende ontdekking is, is die olifant in die vertrek die moontlikheid van selfs meer ongeïdentifiseerde krediteure… as daar nie op die finansiële stelsels en kontroles peil getrek kan word nie, kan die omvang van die probleem nie bepaal word nie.

Daar is nie ‘n aktuariële valuasie van die berekeninge van die post-aftree voordele en lang diens-toekennings nie.

Die toelae-register is agterstallig.

Die korttermyn versekeringsregister balanseer nie.

Daar is geen huurkontrakregister nie.

20090311_4Alhoewel hierdie verstommende ongerymdhede ten hemele skreeu is dit nie die grootste probleem nie.

Die kern van die saak is dat die finansiële stelsels en kontroles so onbetroubaar is dat géén datum of data of rekords vertrou kan word nie. Alles wat nou gedoen word – voordat die bankrekonsiliasies bygewerk word en voordat die stelsels gesinchroniseer word en voordat die nodige beheermaatreëls gevestig is – sal óórgedoen of aangepas moet word. Met ander woorde: alles wat die munisipaliteit nóú doen is ‘n afgryslike mors van geld en tyd.

En die grootste enkele gevaar is die onbetwisbare feit dat die munisipale finansiële landery braak lê vir duiwelswerk en bedrog. Die feit dat ons bewus is van bepaalde ongerymdhede dui slegs aan dat daar na alle waarskynlikheid selfs erger goed verkeerd is waarvan ons nie eens wéét nie.

Die konsortium waarsku juis dat by die gebrek aan finansiële beheer die geleenthede vir onbehoorlike rekenkundige praktyke feitlik eindeloos is.20090311_5

Stop die lorrie. Erken die wanbestuur. Raak onmíddelik ontslae van die mense wat vir die wanbestuur verantwoordelik is. Kry mense wat die werk kan doen. Betaal hulle gróót salarisse. Kry die geld van departemente met mense op posvlakke wat dit nie verdien nie. Leen die geld, as dit moet. Maar maak hierdie gemors rég. En doen dit nóú.

Dit is natuurlik verstaanbaar dat die publiek met ontsteltenis van hierdie administratiewe boewery sal verneem. Die omvang van Oudtshoorn se finansiële krisis het nie oornag sy oorweldigende statuur aangeneem nie. Die oormag van die probleem is die gevolg van jare-lange onkundigheid, onverskilligheid en onbekwaamheid. Die amptenaar en die klerk wat gister drooggemaak het, het ook verlede week drooggemaak. En verlede maand. En verlede kwartaal. En verlede jaar.

En dit bring ‘n mens by die wesenlike probleem: wáár was die Hoof Finansiële Beampte? Wáár was die Voorsitter van die Finansiële Protefeuljekomitee? Wáár was die Voorsitter van die Ouditkomitee? Wáár was die raadslede? Wáár was die burgemeester? Jáár na jáár na jáár na skandálige jáár!

20090311_3Dit sal beswaarlik enige doel dien om nou vinger te wys, maar as die verantwoordelike individue nié uitgewys word nie en nié uit die broeipot verwyder word nie gaan die probleem nie opgelos word nie en gaan die probleem maar net weer in die toekoms kop uitsteek.

As daar nié teen getaakte (OO wil liefs nie die woord “verantwoordelike” gebruik nie) individue opgetree word nie gaan daar by toekomstige raadslede en amptenare ‘n kultuur van onverskilligheid posvat, wetende dat Oudtshoorn ‘n ou gatkant dorpie is wat nie die murg het om kansvatters aan die kaak te stel nie. Oudtshoorn kan dít nie bekostig nie!

Die Hoof Finansiële Beampte, mnr Thinus Matthyssen,  meen dat die hele aangeleentheid maar net die gevolg is van die oorskakeling na GRAP (Generally Recognised Accounting Practice)… en dit is juis die rede waarom hy deur die Eden Distriksmunisipaliteit na Oudtshoorn gestuur is: om die oorskakeling na GRAP te verwesenlik.

Matthyssen se gemoedelikheid met Oudtshoorn se krisis is weersinswekkend. Dis maar net ‘n windjie? Dis maagkoors, meneer!

Dit is egter ‘n onweerlegbare feit (selfs net die konsortium se twee verslae dui dit onteenseglik aan) dat die finansiële modderput wat Matthyssen geërf het onder sy bestuur ‘n rioolput geword het. Dit is dus duidelik: Matthyssen is óf onverskillig, óf onbevoeg. Daar is nie ‘n ander, meer gemoedelike, opsie nie.

Die voormalige voorsitter van die finansiële protefeuljekomitee, mnr Chris Stemmet, het gesê OO moet liefs “uit die perd se bek” verneem en met die huidige voorsitter, mnr James Swigelaar, praat.

Maar OO wou van Stémmet weet hoekom die finansiële wanbestuur gedurende sy termyn as voorsitter ongestoord voortgegaan het. Stemmet het geen antwoord gehad nie, maar wel ‘n verskoning: Toe die munisipaliteit op 14 Maart 2007 onder administrasie geplaas is, het mnr Louis Scheepers die bestuur oorgeneem en by die opheffing van die administrasie het Swigelaar as voorsitter oorgeneem.

Maar wat van vóór 14 Maart 2007, mnr Stemmet? Stemmet is ‘n verkose raadslid en kiesers het seer sekerlik die reg om te verneem waarom sy party – die DA – toegelaat het dat iemand wat níks gedoen het om die finansiële verotting stop te sit nie met sy voorsitterskap voortgaan en nou, nadat die omvang van die wanbestuur aan die lig kom, géén tugstappe teen hom oorweeg nie.

Na Stemmet kom Swigelaar. Ná die administrasie opgehef is. Swigelaar sê dat die portefeuljekomitte in 2008 bewus geword het van die agterstallige rekonsiliasies en dat dit meestal die gevolg is van die feit dat die dorp lank sonder ‘n finansiële bestuurder was.

Volgens Swigelaar is R970 000 is deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika se Siyenza Manje (ons doen dit nou) projek bewillig om die munisipaliteit vanjaar te help om sy finansies onder beheer te kry. R4.9 miljoen is vir die boekjaar 2009/10 aangevra.

Daar is, volgens Swigelaar, verskeie “finansiële deskundiges” en “financial young professionals” aan Oudtshoorn toegewys om die finansiële huis in orde te kry.

Al dié geld en al dié kundigheid en stééds is die konsortium se verslae verdoemend!

Die hele idee – en hierdie mag aardskuddende nuus wees vir raadslede – die hele idee van stadsraad-stadsraad speel is dat ‘n dorp (soos Oudtshoorn byvoorbeeld) se inwoners nie almal betrokke kan wees by die bestuur van die dorp nie. Daarom kies die inwoners mense wat hulle vertrou om die bestuur van die dorp namens hulle te behartig. As jy tot die stadsraad verkies is, moet jy, raai, sekere take verrig en het jy bepaalde verantwoordelikhede en bekleë jy ‘n hoë amp en het jy ‘n verantwoordelikheid teen die inwoners om hulle belange op die hart te dra en om hulle teen korrupsie en wanbestuur te beskerm.

Ten einde die amptenary – oor wie se aanstelling en prestasie die inwoners nie beheer het nie – te monitor is daar bepaalde komitees wat as waghonde dien. Een van daardie komitees is die finansiële portefeuljekomitee. Dit is waarskynlik die belangrikste waghond in die munisipaliteit. Dit is die komitee wat so baie deur die inwoners vertrou word dat ‘n verkose politieke leier aan die hoof daarvaan staan.

En jý, mnr Chris Stemmet, en jý, mnr James Swigelaar, het die inwoners van Oudtshoorn droewig en skandelik gefaal. As julle enige politieke deugsaamheid het sal julle bedank.

En as die DA-leiers enige politieke ruggraat het sal Stemmet en Swigelaar, by gebrek aan die manifestasie van moontlike eie sosiale verantwoordelikheid, afgedank word.

Waar wás Stemmet en Swigelaar? Waar ís die DA-babawagters Gerrit van Rensburg en Jac Bekker? Waar ís die DA se Wes-Kaapse leier Theuns Botha? Bekker het Saterdag vir OO gesê dat die finansiële probleme op Oudtshoorn “nie so erg” is nie. Wat jy wáár kry, meneer?

Dis heel eenvoudig: as Van Rensburg en Bekker hulle verantwoordelikhede nagekom het soos hulle op 19 Februarie deur Botha getaak is, sou hulle die finansiële verslag wat op 29 Januarie deur raadslede oorweeg is bestudeer het en sou húlle Stemmet en Swigelaar – én burgemeester de Jager! – uitgewys het en opgetree het, pleks van stellings maak soos die finansiële probleme op Oudtshoorn is “nie so erg” nie en “ons is op die regte pad” en “ek wil Oudtshoorn regruk”. Rúk dan!

Daar is ‘n tweede waghond wat die dorp se finansiële bestuur moet monitor: die ouditkomitee.

Oudtshoorn se ouditkomitee was laas in Mei 2008 operasioneel. Sedert Junie 2008 was daar drie bedankings uit die komitee van vyf en hierdie fakatures is onlangs eers gevul.

Die voorsitter, mnr Adam Helberg, het aan OO gesê dat hy nie oor die huidige blootlegging van die finansiële bestuurskrisis kan praat nie, want hy “is nie so op hoogte van die sake op die oomblik nie”.

Die Ouditkomitee is tans “besig met aksies om verhoudings tussen die komitee en die munisipaliteit op alle vlakke aan die gang te kry”.

Daar sou met verskillende afdelings van die munisipaliteit vergader geword het sodat verhoudings opgebou kon word en daar sou met die munisipale bestuurder begin word, maar helaas, “dit is nou ook nie eers meer moontlik nie”.

Die Ouditkomitee het nog nié met getaakte amptenare ontmoet om die komitee se magte en verpligtinge in terme van sy stigtingsakte onder die amptenare se aandag te bring nie.

Die een waghond (die finansiële portefeuljekomitee) slááp en die ánder waghond (die ouditkomitee) wil eers met die betreders ontmoet om die skerpte al dan nie van sy tande met hulle te bespreek. En intussen word die huis baksteen vir baksteen weggedra.

Volgens ‘n ingeligte bron by die konsortium Mubesko & MeyerOtto, wat nie op rekord wou gaan oor die munisipaliteit se finansiële bestuur nie, is Oudtshoorn die enigste munisipaliteit in die Wes-Kaap wat nie finansiële state kan produseer nie.

Alhoewel dit ‘n verdoemende uitspraak is, is daar tog ‘n element van hoop te bespeur: dit is inderdaad moontlik vir ‘n munisipaliteit om sy finansiële bestuur suksevol te bedryf. Oudtshoorn het net bekwame amptenare en raadslede nodig.

Overgesetsynde: Oudtshoorn hét nie bekwame amptenare en raadslede nie.

OO onderskryf die voormalige Amerikaanse president, mnr Harry Truman, se bestuursfilosofie: “The buck stops here!”

Wie is verantwoordelik vir Oudtshoorn se finansiële bestuurswanorde?

Die baas is. Burgemeester Diane de Jager. Dit is inderdaad so eenvoudig soos dit.

Die legendariese Afrikaanse sakeman, Piet den Boer, het die destydse QData op die beginsel van Management by Walking Around bedryf.  Hy sou by ‘n vergadering, ‘n voorlegging, onderhandelinge en selfs gesprekke om ‘n klein tafel tussen een van sy beamptes en ‘n enkele kliënt instap en teen die muur leun en luister en na ‘n rukkie weer uitstap. Niks gesê nie. Neutrale liggaamstaal. Maar jy kon nie vir Piet stories vertel nie. Piet het gewéét. Want Piet was dáár – Piet was sélf daar. Piet het gewéét.

Die baas het nodig om in die gange van die munisipaliteit rond te stap en by kantore – ook dié, en verál die met toe deure – in te gaan en oor mense se skouers te kyk en te bestúúr! Of die baas moet padgee!

Hoe moes jy geweet het, mevrou burgemeester? Jy’s die baas. En op jóú wagbeurt is Oudtshoorn in die grootste finansiële krisis sedert die eerste volstruisveer ineenstortings gedompel. Jy, burgemeester en jou raad het die mense van Oudtshoorn gefaal.

Jy, mevrou burgemeester en jou raad moet bedank as julle ‘n greintjie politieke integriteit het.

One Response

Subscribe to comments with RSS.

  1. Anna said, on March 11, 2009 at 1:53 pm

    Is dit nie tyd dat die hele raad bedank en ‘n verkiesing uitgeroep word nie? Ons almal wat belasting betaal, betaal vir hierdie gemors. Mnr Theuns Botha en Mev Zille ek wil baie, baie graag die DA aan bewind help kry, maar nou ja. Kan ek regtig vir die DA stem as al hierdie gemors op die lappe kom?
    Hel mense, ons almal draai ons sente om en probeer oorleef in die hierdie moeilike finansiële tye, hoekom moet ek help betaal vir onbevoegde mense? Iemand help asseblief ons munisipaliteit.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.