Pietersen. De Jager. Swigelaar. Matthyssen. Swanepoel.
Net één van hulle kan Oudtshoorn
in die oë kyk! Raai wié!
Is hier iets verkéérd, of hóé!?
Oudtshoorn. 6 Maart 2009. 01h39. Die verdediging se regsverteenwoordiger, mnr Johan Wagener, het gisteroggend sy voorstelle vir die oorweging deur die stadsraad oor die uitspraak in die dissiplinêre verhoor van mnre Lesley Swanepoel en Lynn Meiring aan burgemeester de Jager oorhandig.
Dit volg nadat Wagener ‘n week uitstel by die voorsittende beampte gevra het sodat hy sy voorlegging aan die raad kan maak.
De Jager het aan OO bevestig dat sy nog nie die voorsittende beampte se uitspraak gesien het nie maar dat sy bewus is daarvan dat Swanepoel skuldig bevind is. Net na vier gistermiddag het de Jager aangedui dat sy ook nog nie Wagener se skrywe van vroeër die dag gelees het nie.
Daar is aanvanklik verwag dat daar vandag ‘n raadsvergadering sou gewees het waartydens Wagener se voorstelle oorweeg sou word, maar dit het nie gerealiseer nie.
Hierdie dissiplinêre verhoor van Swanepoel en Meiring het ‘n lang aanloop…
Op 23 April 2008 word ‘n verslag van die Bestuurder: Korporatiewe Dienste, mnr Thembani Gutas, voor die stadsraad van Oudtshoorn gebring.
Die verslag handel, onder andere, oor die “teistering en dreigemente” van die plaaslike entrepreneur en redestoker, mnr Nic Barrow, teenoor die raad; munisipale bestuurder, ds Noël Pietersen en bepaalde amptenare en ook oor die uitlek van vertroulike inligting aan Barrow en die mediadekking daarvan.
Die raad aanvaar die volgende resolusies:
“That council supports and rallies behind the Municipal Manager and that a public relations exercise be embarked upon to clarify issues for the public.
“That a forensic investigation immediately be instituted to look into the total question of information leakages to enable the municipality to take the necessary steps (including steps against officials and councillors if necessary), to remedy the situation.”
Op 28 Augustus 2008 word ‘n koevert by Barrow se kantoor afgelewer. Dit bevat inligting oor vyf munisipale betalings: R17,542.45 aan die Kaapse regsfirma Smith Tabata Ingelyf en vier betalings van ‘n totale R173,872.80 aan die plaaslike prokureursfrirma Avontuur en Genote.
Barrow stuur ‘n afskrif van die rekwisisie vir die betalings aan mnr Avontuur vir ‘n verduideliking van die omvang van die bedrag. Avontuur lig die munisipaliteit in van Barrow se faks.
Barrow se afskrif van die rekwisisie bevat slegs Swanepoel se handtekening en die munisipaliteit se dokument, wat die uiteindelike betaling vergesel, bevat die nodige tweede handtekening.
Dié teenstrydigheid maak Swanepoel by die destydse munisipale bestuurder, ds Noël Pietersen, verdag en hy vra mnr Ezechiel Beddy van Scholtz Beddy & Vennote in George om ‘n ondersoek oor die uitlek van inligting by die Oudtshoorn munisipaliteit aan Barrow te doen. Swanepoel word na die ondersoek in Oktober en Meiring in November verlede jaar geskors.
Op 11 September 2008 kry raadsheer Pierre Nel ‘n koevert in sy munisipale pos. Dit bevat twee foto-afskrifte van vyf munisipale betalings: een van R17,542.45 en vier wat gesamentlik R173,872.80 beloop…
Nel soek burgemeester Diane de Jager op om te verneem waarvoor die betalings is en hoekom sy meen dit annoniem onder sy aandag gebring is. De Jager is egter nie beskikbaar nie en Nel loop haar die volgende dag, 12 September, in die raadsaal raak en vra haar na die betalings. De Jager onderneem om dit op te volg en aan Nel terug te rapporteer.
Maar op daardie stadium het de Jager reeds geweet van die betalings omdat sy op 11 September ‘n brief daaroor ontvang het van Barrow se prokureurs – Millers.
Tien dae later, op 22 September, gaan Nel na de Jager se kantoor toe omdat hy nog niks van haar verneem het oor die betalings nie. Hy vra haar weer na die betalings en de Jager vra aanhoudend na Nel se bron en sê dat sy nie weet waarvoor die betalings is nie, maar dat die kleiner bedrag waarskynlik verband hou met Pietersen se hervestigingskoste en die groter bedrag waarskynlik vir algemene regsdienste is – Avontuur en genote was die munisipaliteit se regsfirma.
Hoekom het de Jager Nel in die duister gehou? Sy was reeds bewus van die ware toedrag. Sy het dit selfs gistermiddag in ‘n e-pos aan OO erken: “Ek glo meeste raadslede was simpatiek teenoor Pietersen totdat die brief van Millers dit uitgewys het van betaling deur Pietersen.”
In die e-pos sê de Jager dat sy onmiddelik na die munisipale bestuurder gegaan het nadat Nel oor die betalings navraag gedoen het en dat die munisipale bestuurder haar verseker het dat die betalings “vir regswerk van Raad” was. Maar tien dae na Nel se navraag – tien dae nadat die munisipale bestuurder haar verkeerdelik ingelig het en élf dae nadat sy in die Millers-brief die ware toedrag verneem het, sê sy vir Nel dat sy nie weet waarvoor die betalings is nie! Natúúrlik het sy geweet!
Op 17 Oktober ontvang Nel ‘n skrywe van die speaker, mnr Japie Coetzee, waarin hy ingelig word van ‘n “beweerde klag/aantuiging” (sic) dat hy die gedragskode vir raadslede sou oortree het. Aangeheg is ‘n verklaring van burgemeester de Jager van 3 Oktober wat ‘n brief van Pietersen onderskryf dat Nel aan de Jager sou erken het dat hy beskermde (“priviledged”) finansiële inligting van Swanepoel gekry het. Swanepoel is drie dae vroeër geskors. Nel word tot 28 Oktober gegun om te reageer.
Die speaker se brief is om verskeie redes insiggewend:
Pietersen beweer in paragraaf een van die brief dat Nel die inligting moontlik gesteel het en in die volgende paragraaf dat Nel aan de Jager sou erken het dat Swanepoel die inligting aan hom gegee het. Waarom van diefstal praat as Nel kwansuis sou erken het dat hy die dokumente van Swanepoel gekry het?
De Jager sê in haar verklaring dat Nel erken het dat Swanepoel die dokumente verskaf het en dat Swanepoel in die verbygaan op sy beurt aan haar erken het dat hy die “bedrae van die twee betalings” aan Nel gegee het.
Beide Nel en Swanepoel ontken dat Swanepoel die bron is en Swanepoel ontken verder dat hy aan de Jager erken het dat hy die dokumente aan Nel gegee het, of dat hy ooit oor die saak met de Jager gepraat het.
Pietersen se verwysing na kwaadwillige gebruik (“malicious use“) is eweneens onverklaarbaar: Nel het die burgemeester en slegs die burgemeester ingelig! Kwaadwilligheid sou wees om die burgemeester nié in te gelig het nie!
Die burgemeester sê dat Nel haar gekonfronteer het en dat sy gesê het dat sy onbewus was van die betalings. Wanneer het hierdie “konfrontasie” plaasgevind? Was dit toe Nel haar die eerste maal in die raadsaal daaroor gevra het op 12 September, of tien dae later in haar kantoor?
Nel reageer op 20 Oktober op die speaker se brief van 17 Oktober en vra dat details van die aantygings teen hom sonder verwyl verskaf word.
Op 31 Oktober skryf Nel andermaal aan Coetzee en dring aan op ‘n antwoord op sy brief van die 20ste binne drie dae.
Op 5 November skryf Coetzee aan Nel dat geen klag teen hom ondersoek word nie. Coetzee word later in die media aangehaal dat hy sou gesê het ‘n klag teen Nel dat hy inligting van ‘n amptenaar gekry het, is “van die tafel af gevee”.
Tog word Nel tydens die Swanepoel & Meiring tugverhoor ure lank deur die aanklaer ondervra oor die dokumente wat hy ontvang het. Ook Barrow (vir die verdediging) word kortstondig ondervra. Beide se getuienis is dat hulle die dokumente annoniem ontvang het.
Dit is werklik verregaande dat Pietersen, wat deur die bekendmaking van die dokumente (wat die betalings van R17,542.45 en R173,872.80 blootlê) uitgewys word, toegelaat word om Swanepoel, wat op daardie stadium bloot verdink is daarvan dat hy die dokumente beskikbaar gemaak het, aan te kla en dat die raad Swanepoel inderdaad skors.
Maar dit is selfs meer verregaande dat die skorsing en die dissiplinêre proses teen Swanepoel (en Meiring) onversetlik voortgaan nadat Pietersen geskors is, dissiplinêr verhoor is, skuldig bevind is en summier ontslaan is op sterkte van die dokumente wat Swanepoel móóntlik gelek het.
Indien Swanepoel die dokumente gelek het, en OO sê hoegenaamd nie dat hy dit gedoen het nie, moet hy ‘n groot bonus betaal word want hy het die inligting oor Pietersen se betalingsmanewales ten koste van die belastingbetalers aan die kaak gestel en die lekkende stadskis geseël!
Maar daar is kwellende vrae:
Hoekom het die burgemeester nie afskrifte annoniem of andersins ontvang nie? Hoekom nie die speaker nie? Hoekom nie koukusleiers nie?
Hoekom het eers Barrow en daarna Nel afskrifte ontvang?
Kan dit wees dat wie ook al verantwoordelik is vir die blootlegging van hierdie skandelike betalings die raadslede en die amptenary; die stadsraad en die munisipaliteit goed genoeg ken om te weet dat blootlegging aan bepaalde individue eenvoudig geen reaksie sou ontlok het nie?
Is Swanepoel, indien dit wel hy was wat die inligting bekend gemaak het, moontlik in desperaatheid gedryf deur die onbevoegdheid van die raad en die amptenary; deur die absolute afwesigheid van bestuurs- en politieke energie tot voordeel van Oudtshoorn?
Barrow het onmiddelik blou moord geskreeu sodat almal hom kon hoor. Bravó, meneer!
Nel het onmiddelik die burgemeester ingelig – soos wat dit ‘n raadslid betaam. Bravó, meneer!
‘n Voormalige raadslid en lid van die Oudtshoorn-krisiskomitee, me Angelina Lekay, het op Pietersen se mediakonferensie op 26 Februarie beweer dat de Jager vir haar sou gesê het dat sy drie regsmenings oor Pietersen se optrede rondom die betaling van sy regskostes ingewin het en dat de Jager aan Lekay gesê het dat sy vir Pietersen gesê het: “Noelie (LeKay het hierdie “noemnaamintimiteit” beklemtoon) jy’t niks verkeerd gedoen nie.”
Volgens Lekay sou de Jager ook gesê het dat die raad niks verkeerd gedoen het rondom die betaling nie en dat sy vir Pietersen gesê het om geen terugbetalings te maak nie omdat dit “skuld sal erken”.
De Jager het in reaksie aan OO gesê: “Dit is haar interpretasie. Wanneer inligting tot die raad kom, moet daarop reageer word en dan onderskei word tussen reg en verkeerd…Sy kan nie beweer ek sou die Munisipale Bestuurder verdedig as die korrekte bewyse gelewer word nie. Ek is nie haar of iemand anders se pop nie.”
Hoekom sou de Jager egter aan LeKay gesê het dat “Noelie” niks verkeerd gedoen het nie? Daar wás inderdaad ‘n gesprek oor die betalings tussen de Jager en LeKay – de Jager ontken dit nie. De Jager sê bloot dat LeKay haar uitsprake verkeerd verstaan het. En wat is die aard en omvang van die intieme verhouding tussen die burgemeester en die munisipale bestuurder; tussen de Jager en “Noelie”?
Die burgemeester weerspreek haarself oor hoe sy van die wanbetalings bewus geword het:
Van Nel, op 22 September (nie op 12 September nie!), soos sy in haar verklaring van 2 Oktober aandui;
In die media, op 2 Oktober, toe die media die eerste maal daaroor berig het, soos sy op 2 Desember op Nel se negende terugvoervergadering voor ‘n vol gehoor by die Cango Wildlife Ranch gesê het… of, soos sy gistermiddag per e-pos aan OO gesê het: “… dat die brief van Millers dit uitgewys het van betaling deur Pietersen” – op 11 September?
Die ware toedrag is eenvoudig: Die voorsittende beampte sê in sy bevindings in die Pietersen-dissiplinêre verhoor dat dit ‘n onbetwiste feit (“undisputed fact“) is dat die brief van 11 September die eerste aanduiding (“first inkling”) was van die wanbetalings.
Burgemeester de Jager moet hierdie vraag beantwoord: Hoekom het jy vir Nel gesê dat jy onbewus is van die betalings as jy reeds op 11 September daarvan geweet het!? Hoekom het jy nie tóé die saak oopgevlek nie!?
Dit is insiggewend dat de Jager in geen stadium na die Millers-brief vewrys het voordat OO vandag ‘n pre-publikasie weergawe van hierdie artikel vir haar kommentaar voorgelê het nie.
Uitspraak in die Swanepoel & Meiring dissiplinêre verhoor is reeds op 24 Februarie gelewer. Swanepoel is skuldig bevind en Meiring onskuldig. Die munisipaliteit het nog geen amptelike verklaring hieroor uitgereik nie.
By gebrek aan insae in die skuldigbevinding moet OO aanvaar dat as Swanepoel skuldig is, twee dinge gegewe is:
Dat die getuienis van Barrow en Nel, wat beide getuig het dat hulle hulle inligting annoniem ontvang het, deur die voorsittende beampte verwerp is;
Dat dit ongerymd is van ‘n amptenaar om ‘n belastingbetaler en ‘n raadslid in te lig oor betalings wat deur die munisipaliteit gedoen word! Hoe op áárde is die betaling van munisipale regsrekeninge “priviledged financial information”!?
Toe Barrow tydens ‘n openbare vergadering van Oudtshoorn Eerste op 25 November ‘n kopie van die munisipaliteit se bankstaat – wat die vier betalings aan Avontuur en genote bevat het – vertoon het, was ‘n groot betaling, byvoorbeeld, aan Brilliant Computers duidelik sigbaar. Het Barrow daarmee “priviledged financial information” wederregtelik bekend gemaak? Hoe is ‘n betaling aan ‘n rekenaarwinkel ánders as ‘n betaling aan ‘n regsfirma?
Beláglik!
Kan hierdie mentaliteit van obskuranstisme by die munisipaliteit die rede wees waarom uitgaande munisipale bestuurder Gutas so skei… so verskriklik bang is om selfs die begroting beskikbaar te stel?
OO het onlangs met ‘n baie senior Wes-Kaapse politikus gepraat wat gesê het dat daar bitter min, indien enige, “beskermde inligting” in ‘n munisipaliteit bestaan.
In sy brief aan Nel op 5 November sê die speaker: “Volgens my eie oortuiging… is daar niks verkeerd indien u inligting van ‘n amptenaar bekom het en selfs dat u dit met die Burgemeester gedeel het nie.”
Waarom is Nel dan so indringend deur die aanklaer ondervra in die munisipaliteit se saak teen Swanepoel en Meiring?
Daar is egter raadslede en amptenare wat, ten mínste, antwoorde skuldig is vir ongerymdhede tydens Pietersen se kortstondige en verwoestende bestuurstermyn:
Die Burgemeester, raadslid Diane de Jager – presies wanneer het jy van die wanbetalings bewus geword en hoe het jy uitgevind en wat het jy gedoen om die saak te besleg? En hoekom, burgemeester, hóékom maak jy teenstrydige verklarings oor hoe en wanneer jy van die betalings bewus geword het?
Die Hoof-Finansiële Beampte, mnr Tinus Matthyssen – hoekom het jy die betaling toegelaat? Die uitvoering van ‘n onwettige opdrag is onwettig en die onwettigheid van die opdrag bied geen verontskuldiging nie. Hierdie beginsel is juis in terme van die Oudtshoornpolitiek gevestig toe Nel op 16 Julie 2007 deur die DA se federale regskommissie onskuldig bevind is.
Die Voorsitter van die Finansiële Portefeulje-komitee, raadslid James Swigelaar – hoekom het jy in jou toesighoudende amp gefaal?
Bring Leslie Swanepoel en Lynn Meiring terug! Vandág nog. Dit was in elk geval nóóit húlle wat aangekla moes gewees het nie!
Na die finansiële voorleggings van Maandagaand se “Publieke Deelname” kan OO lesers verseker Oudtshoorn het Swanepoel en Meiring nódig! Kyk net van watter gemors het Swanepoel ons gered – as dit inderdaad hy was.
Pietersen het die stadskis in sy gatsak rondgedra. De Jager het dit reeds op 11 September geweet en suutjies getrap daaroor. Swigelaar weet waarskynlik vandag nog nie wat gebeur het nie. Matthyssen het maar net betáál. En Swanepoel – die énigste iemand wat iets gedóén het aan die onreg – is opertuun op die altaar van doelmatigheid vasgebind.
Is hier iets verkéérd, of hóé!?












Die gedeelte hierbo lees soos ‘n riller; net so jammer dit is enersyds skokkend en andersyds hartseer. Mens kan kwalik glo dat mense in posisies van vertroue aangestel word en daardie vertroue onder hul voete vertrap word. Wat is besig om in die Oudtshoorn gemeenskap plaas te vind? Sedert ek 5 jaar gelede my hier kom vestig het kan ek met opregtheid se dat ons mooi dorp se bestuurders alhoemeer die kluts kwytgeraak het en nou bykans heeltemal van die wa afgeval het. daar is net nerens meer iets wat ordentlik werk nie. Nie die Munisipaliteit nie, nie Reenboog FM nie, nie die SANW opset nie.Dis net een groot gemors.