Pietersen: “Ek is onskuldig”
Afgedankte munisipale bestuurder
“is nie verhoor nie… is nie skuldig nie”
Oudtshoorn. 26 Februarie 2009. 19h36. Ds Noël Pietersen was gisteroggend bly om uiteindelik die “geleentheid te kry om te praat” nadat die “sogenaamde onafhanklike tribunaal” wat hom skuldig bevind het en sy summiere ontslag gelas het sy werksaamhede voltooi het.
Volgens Pietersen het hy nog geen skrywe van die munisipaliteit ontvang oor sy skuldigbevinding óf afdanking nie en het hy van beide besluite van derde partye verneem.
Pietersen het gesê dat hy al die regsweë tot sy beskikking gaan gebruik om sy onskuld te bewys. Dit gaan ‘n lang en uitgerekte arbeidsregsproses wees wat tot nadeel van die diensleweringsagenda wat hy in die munisipaliteit gevestig het sal strek. Sy regsaksie sal beide prosedurele en substantiewe gronde hê.
Volgens Pietersen was hy nooit in ‘n verhoor nie; is hy nooit gevra om te pleit nie; is hy nooit ingesweer nie; was hy slegs “in ‘n vier-uur lange dispuut om die uitstel van die prosedure”.
Vyf dae voordat die disiplinêre verhoor in aanvang geneem het, het Pietersen se regspan die voorsittende beampte en die aanklaer genader om uitstel omdat sy advokaat verpligtinge as tydelike regter moes opneem; ‘n belangrike getuie in die buiteland was en sy prokureur in ‘n arbitrasiesaak in Kaapstad betrokke was.
Volgens Pietersen het hy nooit die geleentheid gehad om sy ag getuies se getuienis oor substantiewe sake te laat aanhoor nie, terwyl die tribunaal van drie getuies vir die munisipaliteit gehoor het: twee was “irrelevant” en een het “morele outoriteit ontbreek”.
Hy het geen intensie gehad om ‘n verhoor te systap nie want sy werk as munisipale bestuurder is sy roeping in terme van publieke teologie. Hy sou met graagte wou getuig om “die waarheid aan die kaak te stel”. Hy het homself egter van die verrigtinge verskoon – en “nie uitgestap soos die media berig het nie” – juis omdat die tribunaal nie na vertoë geluister het nie.
Sy ervaring van die dissiplinêre proses, het Pietersen gesê, was dat dit ‘n lokval (“ambush”) was om van hom ontslae te raak “vir redes waarvan Oudtshoorn bewus is”.
Hy wat Pietersen is het “prosesse, sisteme en strukture” daargestel om “effektiewe gehaltediens” in Oudtshoorn te lewer. Sy enigste spyt is dat hy sy visie vir Oudsthoorn nie kon deurvoer nie en nie ongelykhede kon oorbrug nie.
Maar, het Pietersen gesê, hy het vertroosting (“solace“) in die feit dat die Heilige Gees van God daar is om hom te bemagtig om te veg vir integriteit en reg en regverdigheid. Die waarheid, het Pietersen gesê, sal hom vrymaak.
Pietersen het sy empatie uitgespreek teenoor kollegas in die Wes-Kaap wat dieselfde trauma as hy beleef want munisipale bestuurders word gewoonlik tydens verkiesings opgeoffer vir politieke doelmatigheid (“expediency“).
OO wou van Pietersen weet of hy bewus is van woelinge in die raad om hom persoonlik verantwoordelik te hou vir alle wanbesteding, ondersoekkoste en regskoste en dat die bedrag in die wandelgange R700,000 beloop. Pietersen was nie bewus van hierdie verwikkeling nie en het geen komentaar daarop gehad nie.
Voorts wou OO weet of Pietersen met sy siviele eise teen die plaaslike entrepreneur, mnr Nic Barrow, Die Burger en Media24 voortgaan, omdat Barrow aangedui het dat hy die saak op ‘n dringende basis op die hooggeregshofrol wil laat plaas. Pietersen het bevestig dat hy inderdaad met sy eise voortgaan.
OO het dit aan Pietersen gestel dat hy vir baie lank in ‘n see van regsgedinge gaan spartel omdat Barrow se kriminele klagtes teen hom – oor die verblyftoelae en regskostes wat Pietersen van die munisipaliteit verhaal het – ook nog ondersoek word. Pietersen het gesê dat hy al die regsgedinge gaan deurvoer want hy het net sy integriteit oor wat hy ten alle koste sal beskerm.
Hoofman Poem Mooney van die Khoisan het geesdriftig van die vloer af gepraat oor sy teleurstelling in Oudtshoorn wat Pietersen nooit ‘n billike kans gegee het nie. Daar is ‘n laertrekkery op Oudtshoorn, aldus Mooney, wat verdeel terwyl hy altyd programme loods om die gemeenskap saam te snoer. Dit breek ‘n mens se geesdrif, het Mooney gesê.
“Die God wat ons aanbid”, het Mooney vir Pietersen gesê, “sal jou deur hierdie saak lei.”
Mooney kon die geleentheid nie weerstaan nie om OudtshoornOnline by te kom oor onlangse berigte (klik hier en hier) oor Reënboog FM – die radiostasie waarvan Mooney die voorsitter is wat nooit op ‘n algemene jaarvergadering bekragtig is nie.
Daar’s ‘n “nydigheid” en ‘n “geveinsheid” op die Internet, het Mooney uitgeroep. “Dis soos ‘n wond vol etter wat vlieë op sit. Ek vereenselwig my nie met gemors nie.”
‘n Voormalige raadslid en lid van die Oudtshoorn-krisiskomitee, me Angelina Lekay, het gesê Pietersen is ‘n politieke slagoffer. Sy het haar beroep op die woorde van die vermoorde plaaslike held, Reggie Oliphant, want sou gesê het “die Natuur maak self skoon…”
Lekay het ‘n bom gelos toe sy beweer het dat burgemeester Dianne de Jager vir haar sou gesê het dat sy drie regsmenings oor Pietersen se optrede rondom die betaling van sy regskostes ingewin het en dat de Jager aan Lekay gesê het dat sy vir Pietersen gesê het: “Noelie (Lekay het hierdie “noemnaamintimiteit” beklemtoon) jy’t niks verkeerd gedoen nie.”
Volgens Lekay sou de Jager ook gesê het dat die raad niks verkeerd gedoen het oor die betaling nie en dat sy vir Pietersen gesê het om geen terugbetalings te maak nie omdat dit “skuld sal erken”.
De Jager het in reaksie aan OO gesê: “Dit is haar interpretasie. Wanneer inligting tot die raad kom, moet daarop reageer word en dan onderskei word tussen reg en verkeerd”.












One can but wonder what the chief of the Khoisan, Poem Mooney, was thinking, or not, when he attacked OO at this particular forum, which had nothing to do with RFM, regarding the articles on that radio statio. Does he, or anyone else at RFM, make sure that everyone gets a “billike kans?” I very much doubt that when I recall the cards that were dealt to technical assistant Gerhard Gorgens and Programme Manager, Chris Smit, over the past weeks. Have these gentlemen been paid the salaries owing to them for months, Mr. Mooney? Have your creditors received their “billike” payments?
Uithoofde van Pietersen se vonnis was daar onregmatigheid in sy handelinge by die Munisipaliteit. Die opskrif van OO se artikel wek die indruk dat die Heilige Gees van God vir Pietersen lei of gelei het in die onregmatigheid. Dit is absoluut lasterlik. Bepaal asb in watter konteks Pietersen die leiding van die Gees van God ervaar en berig as sulks. As dit bleik dat Pietersen die leiding ervaar in sy onregmatige handelinge wil ek u versoek om dit, uit respek vir God self en ons Christene, nie te aksentueer nie.
Nogmaals dankie vir die goeie werk wat u doen. Ek aanvaar dat u baie sterk in die spervuur is of gaan kom en dat u posisie ‘n baie eensame plek is en het derhalwe baie agting vir wat u doen. Sterkte.