Wat kós die munisipale tugverhore?
Oudtshoorn. 27 Januarie 2009. ~Die mees senior amptenare van die Oudtshoorn munisipaliteit kan reeds geruime tyd nie hul pligte nakom nie omdat dissiplinêre verhore nie afgehandel kan word nie. Dit kos Oudtshoorn enorme bedrae geld!
Mnre Lynn Meiring, hoofrekenmeester en Lesley Swanepoel, die hoof van inkomste en ds Noël Pietersen, munisipale bestuurder, is tans geskors met volle betaling (die korrekte en regverdige toedrag) terwyl die dissiplinêre verhore afgehandel word.
Die reg moet natuurlik sy gang gaan en die regsproses se wiele draai soms in die diens van deeglikheid stadig, maar dit is nie onredelik nie om te verwag dat amptenare uit hulle pad moet gaan om met respek met die geldsake van ‘n dorp soos Oudtshoorn om te gaan.
Pietersen se verhoor moes op 13 Januarie begin, maar is uitgestel omdat hy die klagstaat eers op 6 Januarie onder oë gekry het. Die verhoor sal nou op 2 Februarie begin.
Verlede Dinsdag het die voorsittende beampte van die verhoor van Meiring en Swanepoel, adv JA van der Schyff van Kaapstad, laat weet hy sou eers die volgende dag beskikbaar wees vir die verhoor. Meiring en Swanepoel se regsverteenwoordiger, mnr Johan Wagener, was gereed om voort te gaan en wou die raad toespreek om te versoek dat Van der Schyff as voorsittende beampte verwyder word. Die burgemeester, me Diane de Jager, en die speaker, mnr Japie Coetzee, het geweier dat Wagener die raad toespreek. Wagener het aangedui dat hy by Van der Schyff self gaan aandring dat hy hom as voorsittende beampte moet onttrek.
Mnr Peet Roodt van die Pretoriase arbeids- en menslike hulpbronmaatskappy Roodt Geldenhuys en Vennote, wat verlede jaar deur die munisipaliteit aangestel is om inligtingsekerheid in die munisipaliteit te ondersoek, en mnr Thinus Matthysen, waarnemende finansiële bestuurder van die munisipaliteit, was albei gereed om Dinsdag te getuig. Hulle getuienis is toe die volgende dag aangehoor en die verhoor is daarna uitgestel.
Die Kommunikasie- en Media-beampte van die munisipaliteit, mnr Ntobeko Mangqwengqwe, kon vandag nie bevestig wanneer die verhoor hervat sal word nie.
Die enorme koste van hierdie verhoorprosesse – daar is ‘n argument dat sulke uitgerekte prosesse vermy kan word indien aanstellings deeglik gedoen word en die nodige bestuursprosesse om wanpraktyke te verhoed in plek gestel en bestuur word – is iets wat Oudtshoorn nie kan bekostig nie.
Die koste sluit ten minste die volgende in:
- Die salarisse van die drie amptenare waarvoor daar geen produksie is nie;
- Die ondersoekkoste van professionele firmas soos Roodt Geldenhuys en Vennote en Mazars Moores Rowland Forensic Services;
- Die fooie van die voorsittende beamptes en die regspanne;
- Die tyd wat amptenare en raadslede aan die ondersoeke en die verhore afstaan;
- Die verlore ampstyd van eie pligte van individue wat moet instaan vir die geskorste amptenare;
- Verblyf en vervoerkoste;
- Die onberekenbare verlies as gevolg van die lae moraal van die amptenary wat onder ‘n wolk van onbekwaamheid en agterdog moet werk.
Die onbekwaamheid van Oudtshoorn se regering kos die dorp ‘n fortuin… en die kraan is wawyd oop.
_______________________________________________________
OudtshoornOnline het die volgende versoek aan die Kommunikasie- en Media-beampte van die munisipaliteit, mnr Ntobeko Mangqwengqwe, gerig. Mangqwengqwe het onmiddelik werk gemaak van die versoek en wag tans vir bepaalde amptenare om die inligting aan hom te verskaf. Die antwoorde sal so spoedig moontlik op hierdie blog bekend gemaak word.
Dear Ntobeko
Please supply the following information expeditiously:
1. Are the individuals standing in for the suspended officials – Reverend Pietersen and Messrs Meiring and Swanepoel – receiving additional compensation over and above their usual compensation for the period during which the suspended individuals are unable to perform their duties?
2. What is the annual compensation of the three suspended officials?
3. What is the actual cost to date – and what is the anticipated cost – of the disciplinary procedures against the three suspended officials? (Such expense should include but not be limited to the cost of investigating and hearing the cases and time allocated to the disciplinary processes by municipal officials and councillors.)
Thank you
OudtshoornOnline












leave a comment