OudtshoornOnline

Onderhoud met die nuwe DA-Voorsitter vir Oudtshoorn, Jan Griebelaar

Posted in Politiek by Red/Ed on January 23, 2009

Oudtshoorn. 23 Januarie 2009.

Jan Griebelaar was ‘n ‘Samajoor in die óú Army – die SAW.

Jan Griebelaar is nie bang vir ongewilde besluite maak nie – ‘Samajoors is nou eenmaal sulke mense.

Jan Griebelaar is ‘n gemoedelike man – “Kan ons maar voorname gebruik?”

Jan het in 1998 in die politiek beland – vir die ou Demokratiese Party gestaan en later vir die Demokratiese Aliansie. Hy was van 2000 – 2006 raadslid op Oudtshoorn (Wyk 5) en het in 2008 die voorsittersverkiesing verloor. Maar nou Donderdag, die 22ste, is Jan met ‘n oorweldigende meerderheid tot DA Voorsitter vir Oudtshoorn verkies.

Jan het ‘n passie vir die politiek en hy is lief vir die DA. Hy kry gereeld aanbiedinge om na ander partye oor te gaan, maar die adjudantoffisier in hom bly toegewy. Die DA, sê Jan, is die grootste opposiesieparty; die DA is geposisioneer om die regering oor te neem; die DA is die party wat verreweg die meeste vrae aan die regering stel en die regering tot verandtwoording dwing. En die DA, sê Jan, is ‘n party vir álle mense, ongeag ras of geslag.

Vir die DA in Oudtshoorn het Jan ‘n visie om die party uit te bou en die grootste party op Oudtshoorn te maak.

“As ons eerlik en opreg is met die kiesers van Oudtshoorn en ons deliver is dit binne ons vermoë om die DA die volstrekte meerderheid in die Oudtshoorn Raad te gee”, sê Jan.

Die DA gaan in die komende verkiesing vra dat mense in hulle massas vir die party moet stem. Die DA wil ‘n geleentheid hê om homself te bewys.

Ek het egter bepaalde vrae gehad wat Jan reguit en vriendelik en – veral – spontaan beantwoord het. So asof hy al oor die goed wat ek wou weet gedínk het…

OO: Watter rol kan jou DA Raadslede speel om te verseker dat die tugverhore van die Munisipale Bestuurder en die Onderburgemeester afgehandel word?

JG: Daar is meganismes in plek wat die tugverhoorproses dryf. Die DA Raadslede moet dié megansimes ten volle gebruik om die proses te bespoedig.

OO: Daar is baie mense op Oudtshoorn wat empatie en simpatie het met, byvoorbeeld, ds Pietersen. Gaan ‘n uitslag wat nie aan hierdie mense se verwagtinge voldoen nie, nie ‘n ongewenste invloed op die DA se politieke ambisies by die stembus hê nie?

JG: Dis moontlik. Maar ek stap liewer ‘n pad met ‘n paar raadslede as wat ek aan bewind kom omdat ek beginsels ingeboet het.

OO: Dis dapper woorde, maar beteken dit dat jy amptenare se dienste sal beëindig as die DA alleen aan bewind is in Oudtshoorn?

JG: Ons moet eers vasstel wat ons het: Personeel, vaardighede, ondervinding. Kontrakte moet eerbiedig word, maar as mense nie hulle kant van ‘n dienskontrak nakom nie, moet daar gevolge wees. Mense moet ook bemagtig word om hulle werk te kan doen. Amptenare moet opgelei word om hulle vaardighede op standaard te bring.

OO: Wat van nuwe aanstellings? Ds Pietersen se aanstelling en die proses wat hom die pos besorg het is juis een van die aangeleenthede wat groot wrywing op die dorp veroorsaak.

JG: Ons moet seker maak dat kundige mense aangestel word, ongeag ras of geslag. Ons moet ophou om emosionele besluite te neem en die verstand gebruik. En ons moet natuurlik aanstellings maak binne die raamwerk van die begroting.

OO: In ‘n onderhoud met die DA-leier Helen Zille verlede jaar het sy aangedui dat sy besorg is oor die opstel van die kandidatelys. Nie net op Oudtshoorn nie, maar óók op Oudtshoorn. Hoe gaan jy, as voorsitter, verseker dat die beste kandidate uiteindelik die DA se verteenwoordigers van die kiesers word?

JG: Dit is van kardinale belang dat die kandidatelys die sterkste moontlik kandidate bevat. Die verkiesingtaakspan wat volgende week saamgestel word, moet dit aanspreek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.