OudtshoornOnline

Oudtshoorn 1ste wil bewind oorneem!

Posted in Politiek by Red/Ed on December 3, 2008

Oudtshoorn. 25 November 2008.. – Dit het al die bekende eienskappe van politieke vergaderings van vervloë dae gehad. Skriflesing en gebed; ‘n seremoniemeester met passie en self iets om te sê; die voorsitter se rede; ‘n ondersteunende toespraak… en dan die bloedskoot: die hoofspreker vir wie almal eintlik opgedaag het.

‘n Núwe party. ‘n Núwe visie. Oú vyande. Die goeie nuwe teen die ou bose. Ek het onthou van een van daardie héérlike byeenkomste destyds, toe Dennis Worrall en Wynand Malan en Zach de Beer die stadsaal in Somerset-Wes aan die brand gepraat het teen die boosheid van PW Botha en Chris Heunis en die vergange Nasionale Party.

Beslis ‘n politieke vergadering met tande. Selfs… Clive Veldsman het die verrigtinge geopen – met skriflesing, boodskap en gebed.

Só het Oudtshoorn 1ste se openbare vergadering begin.

Veldsman het met “broers en susters” gepraat en uit Lukas 17 gelees – oor die melaatses wat Jesus gevra het: “Ontferm U oor ons!” Melaatses, het Veldsman gesê, het gemeen daar was nie hoop nie. Maar die melaatses van Lukas 17 het nie stilgebly nie. Hulle het gepraat. Met Jesus. Hulle het gevra om gesond gemaak te word. En Oudtshoorn, aldus Veldsman, “vra vanaand die Here om Oudtshoorn gesond te maak. Jesus alleen kan Oudtshoorn se probleme oplos.”

winston-coereciusIn sy voorsittersrede het mnr. Winston Coerecius met beslistheid opgemerk dat God altyd in moeilike tye ‘n leier roep. En leiers is op Oudtshoorn nodig. Die “nie-politieke” Oudtshoorn 1ste politieke party, het Coerecius gesê, sal veiligheid, vrede en voorspoed vaslê. Hierdie aflewerbare sal gedoen word sonder politieke alliansies – Oudtshoorn 1ste gaan ál die munisipale setels betwis… en, het hy onder applous gesê, Oudtshoorn 1ste wil ál die setels wen. Oudtshoorn sál verander want Oudtshoorn 1ste is “onwrikbaar” op pad om “sy doelwitte na te kom.” Teenswoordige raadslede beskou Oudtshoorn 1ste reeds as die vernaamste bedreiging vir hulle setels in ‘n verkiesing. Te midde van algemene “morele verwoesting” het Oudtshoorn se Raad nie kollektiewe verantwoordelikheid nie. Coerecius het die Raad uitgedaag om te bedank en ‘n verkiesing te hou.

“Oudtshoorn 1ste is gebore uit die wil van God”, het Coerecius gesê. Hy hoor kennelik ‘n ander stem as mnr Jacob Zuma wat reken dat die ANC aan bewind gaan bly tot die Wederkoms.

Dr Elijah Morgan, ‘n imposante man met ‘n welluidende stem en ‘n CV wat langer is as wat Frans Steyn ‘n elijah-morganrugbybal kan skop het Ontwikkelingsleierskap (Developmental Leadership) voorgehou vir munisipale amptenare. Plaaslike regering is “where the rubber meets the road“, plaaslike regering is die “critical point of interface” en bepaalde waardesisteme is nodig vir doeltreffende en doelgerigte munisipale leierskap. Die afwesigheid van waardes maak fluitjieblasers (whistleblowers) nodig.

“Ons het whistleblowers nodig!”, het Morgan onder applous uitgeroep.

Die legendariese plaaslike sake-guru, mnr Nic Barrow, was volgende aan die woord. Hy’s “hardegat, reguit en eerlik – régtig eerlik”. (Applous.)

Barrow het ongetwyfeld baie tyd spandeer – en doen dit steeds – om Oudtshoorniete teen wanadministrasie te probeer beskerm. Hy het die ingesteldheid – hy is kennelik ‘n denker; hy het die motivering – hy is ‘n groot bydraer tot die stadskatkis en het Oudtshoorn nog altyd bevoordeel; hy het die vermoë – hy is ‘n regsgeleerde en welaf.

Barrow se feite blyk onweerlegbaar te dui op massiewe wanadministrasie in die bestuur van Oudtshoorn. Vyf miljoen rand van die Kangogrotte se geld wat “verdwyn” uit ‘n departement wat vir jare nie geouditeer is nie; R400 000 se selfoonskuld – R90 000 op één rekening!; ‘n ongespesifiseerde prokureursrekening vir meer as R170 000 wat sonder verwyl in vier afsonderlike bedrae op een dag vereffen word; ‘n kontrak vir meer as 70 miljóén rand se boustene van ‘n verskaffer wat ‘n voorskot vra om sy onderneming se dienste te aktiveer en die oppervlakkige kontrolering van die suksesvolle kandidaat vir Stadbestuurder se loopbaan en agtergrond het grootliks die verbaasde gefluit en versugting uit die gehoor geregverdig.

Baie van Barrow se blootleggings dui dan ook juis op die vermoë en aanslag van die huidige – tans geskorste – Stadsbestuurder.

nic-barrowBarrow het onderneem om nie tou op te gooi nie. As regsgeleerde respekteer hy die prosesse wat soms vir die leek na onredelike vertraging lyk en gebruik hy hierdie regsprosesse om sy uiteindelik doel te bereik. Hy het, byvoorbeeld, onderneem om kriminele klagtes by die SAPD te lê indien daar nie binne ‘n redelike tyd op sy eise vir die regstelling van bepaalde rekeninge wat wederregtelik met belastinggeld vereffen is, gereageer word nie.

Dit woel in die politiek op Oudtshoorn!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.